'n Wye draai deur Damaraland
Deur Toast Coetzer
As jy van grondpaaie hou, is Damaraland jou soort plek. Hier’s boonop mooi kampplekke het Toast en Samantha Reinders uitgevind.
Damaraland 101
Spitzkoppe
Spitzkoppe-ruskamp (kampeer en enkele huisies)
00264 64 530 879; 00264 81 3409 795 (Lazarus)
Uis
White Lady (B&B en kampeer) 00264 64 504 102; whitelady@iway.na
Brandberg-ruskamp (selfsorgkamers, klein kampterrein) 00264 64 504 038 (Basil); brandberg@africaonline.com.na
Montis-Usti-restaurant-en-gastehuis 00264 64 504 219
Brandberg
Brandberg White Lady Lodge (kampeer, chalets en luukse tente)
00264 64 684 004 (Kobus); ugab@iway.na
Twyfelfontein
Aba Huab (kampeer) 00264 67 331 104 (Khorixaskantoor); 00264 81 129 0410 (Elias)
Granietkop (kampeer) 00264 81 327 7160 (Lukas)
Aabadi Mountain Camp (luukse tente en selfkampeer)
00264 813 412 875 of aabadi.mountaincamp@gmail.com
Mowani Mountain Camp (lodge en self-kampeer) 00264 61 232 009 of mowani@visionsofafrica.com
Twyfelfontein Lodge (lodge) 00264 61 374 750 of reservations@ncl.com.na
Vingerklip
Vingerklip Lodge 00264 61 255 344; vingerkl@mweb.com.na
Ugab Terrace Lodge (hulle bied ook luukse tente en kampering)
00264 67 687 080 of info@ugabterracelodge.com
Dinosourusspore
Otjihaenamaparero (kampeer) 00264 67 290 153 of dinotracks@mweb.com.na
Omaruru
Omaruru-ruskamp (kampeer en selfsorgkamers) 00264 64 570 516;
omarururestcamp@iway.na
Eva’s Guest House 00264 64 570 338
Little Bush Rest B&B 00264 64 570 436
Omaruru Guest House 00264 64 570 035
Erongoberge
Erongo-platokamp (kampeer en gasteplaas) 00264 64 570 837; kaysererongo@namibnet.com
Ameib Ranch (kampeer) 00264 64 530 803; ameib@natron.net
(Nota: Pryse akkuraat in Maart 2009.)
Lees die volledige storie:
Die klipkatedraal
In ons noppe met die Spitzkoppe
“Inselberg” is die Duitse woord vir ’n berg wat op sy eie staan, soos die Spitzkoppe. Of jy nou van Usakos, Swakopmund of Hentiesbaai se kant af ry, dié kenmerkende spitse sien jy van ver af. Dis asof die landskap om dié spitse draai; hulle teenwoordigheid is byna tergend, asof jy ry en ry en hulle kom net nie nader nie. En niks kan jou voorberei op die gevoel as jy rég langs hulle staan nie.
Dis laatmiddag wanneer ons aankom, en tant Gerrie se “fêntjie” waai teen dié tyd sterk. Waar ons op ’n uit-die-wind plekkie tent opslaan op die uitgestrekte kampterrein om die voet van die kop, sien ons skaars ander mense.
Agter die tente keer ’n klipmuur die wind en reg rondom ons beur die onhebbelik mooie kranse uit. Klippe, kranse, rotse – rondes, plattes, steiles. Jy kyk heeltyd boontoe, soos ’n dassie, maar ’n dassie soek ’n witkruisarend.
’n Mens sou bobbejane by die honderde hier verwag, want die Spitzkoppe is soos Hillbrow se Pontetoring: ’n wolkekrabber met woonstelle. Maar ga, g’n niks. Later hoor ons die bobbejane het getrek omdat die luiperds onder hulle gemaai het. Ja, al kan jy tot hier ry met skaars ’n Tata Indica aan die bas (Namibië se grondpaaie is onverbeterlik), swaai luiperds nog saans hier heupe.
Die volgende oggend stap ons gryp-gryp met die kettingleer op tot in Bushman Paradise, ’n weggesteekte kloof vol oorhange, bolrotse en geheime hoekies met Boesmanrotstekeninge.
Dis moeite, maar in die klofie vou die stilte om jou soos ’n laken om ’n mot. Wanneer die son soggens teen seweuur begin byt – soek ’n mens skaduwee, en die oorhange bied koelte as jy wil lê en boeklees of piekniek hou.
As die kamp opgeslaan is, stap ons op die sandpad terug hek toe. Watse spore lê dan hier? Ja, rond en sag was die kussings: luiperd.
Alles is aan die brand...
… behalwe Uis
Ek was al voorheen op Uis. Ek onthou ek het ’n foto van ’n koringkriek in Sportstraat geneem. ’n Droewige, warm wind waai en ons kry slaapplek in die Brandberg-ruskamp, voorheen die tinmyn se klub, met ’n pluimbalsaal en swembad waarin jy ’n skolegala sou kon hou.
Die tinmyn is sedert 1990 toe, maar die mynhoop laat Uis steeds soos ’n myndorp lyk. Hier’s heelwat slaapplek, maar as jy op ’n mooi landelike plek wil oornag, ry eerder deur die dorp na die Brandberg White Lady Lodge, naby die Brandberg.
Wat egter in Uis se guns tel, is dat dit die laaste dorp is waar jy proviand kan koop (die OK Value Supermarket is reg langs die vulstasie) as jy beplan om wyd deur Damaraland te toer. En hier’s restaurante en ’n toerismekantoortjie met heerlike tuisgebakte gemmer-en-heuningmuffins.
Basil Calitz van die ruskamp gaan wys ons die mynskag, wat nou vol water staan, en dan ry ons tot bo-op die mynhoop waarvandaan ons die son na onder por met ’n Tafel Lager in die hand.
Nadat die myn gesluit het, het Uis sewe jaar lank leeggestaan. Toe koop ’n sakeman die hele dorp en begin huise verkoop aan Oostenrykers, Switsers en Italianers wat son en rustigheid soek. Deesdae is dit ook ’n aftreedorp vir die plaaslike boeregemeenskap.
“Ja,” beaam Basil, “Uis is ’n ouetehuis. Dit kort net ’n dak...”
Van hier af ry jy Brandberg toe. Van ver af lyk dit minder indrukwekkend as die Spitzkoppe, maar dis groter en hoër (Königstein is teen 2 573 m bo seespieël Namibië se hoogste piek). Dit lê op die horison, broeiend, soos ’n reus onder ’n rotskombers.
Brandberg is veral bekend vir die rotstekening van die “wit vrou”.
Dié tekening het mense vroeër laat glo die Boesmans het kontak gemaak met Mediterreense volke, maar deesdae word gereken dis eerder ’n afbeelding van ’n man wat tydens ’n ritueel met ’n mengsel van vet en melk (of dalk wit klei, of as) wit gemaak is.
Die stappie van ’n halfuur in die Tsisebrivier op is die moeite werd, want die witvrou-paneel het ook tekeninge van twaalf dieresoorte op, waaronder sebras, gemsbokke en die fynste springbokkies. Brandberg, ’n enorme knoets van so 30 x 23 km, is eintlik een groot Boesmantekening-argief – reg oor die berg is sowat 1 000 panele met omtrent 50 000 tekeninge!
Gothardine IIGaroës (of sommer Gwen) is ons spraaksame gids – sy gee ook ’n demonstrasie van die vier verskillende kliek-klanke van die Damarataal. Ons sien nog luiperdspore en ’n oulike dassierot, wat lyk soos iets wat aan ’n truspieëltjie moet hang en ritmies op en af dans op die maat van Damara-punch.
Damara-punch? Nee, dis nie ’n mengeldrankie met skop nie. Dis ’n ’n gewilde soort musiek wat ons reeds by die Spitzkoppe op die Damara-radiostasie gehoor het. Dis amper soos kwaito hier by ons, maar alles in Damara (en hier en daar Afrikaans – een liedjie eindig byvoorbeeld met “Ag nee, wie’s die baas?”).
Van Brandberg af mik ons na Twyfelfontein, oor Sorris Sorris, ’n gehuggie aan die oewer van die droë Ugabrivier wat op hoop gebou is.
Ons hou stil langs ’n kleurryke kleuterskoolgeboutjie wat omtrent so groot is soos ’n woonwa. Die kinders jil en kom staan by die draad, waar hulle onder begeleiding van hulle jong juffrou, Petra Garoes, vir ons ’n liedjie oor olifante sing.
Die padbordjies waarsku ons is nou amptelik in olifantwêreld. Petra sê hulle sien soms meer as dertig olifante op ’n slag hier in die Ugab verby trek.
Net om seker te maak vra ek haar of ons nou in Damaraland is. “Ja,” sê sy, en wys ter verduideliking na haar groot kroos, “hulle is mos almal Damara, dis net daai enetjie wat Herero is.”
Geen twyfel nie
Hierdie fontein léwe
Twyfelfontein is ’n heilige plek. Dis asof die Boesmankunstenaars hulle beste werk hier op klip gesit het – dinge wat jy nie elders sal sien nie. Dis soos die Louvre-kunsmuseum – die Mona Lisas is net vervang met vreemder dinge, soos ’n dansende koedoe.
Die meeste kunswerke is eerder gravures as tekeninge – dis in die sandsteenrotse gekerf. En hier is baie om na te kyk, binne ’n gebied net groter as twee rugbyvelde. Kort staproetes lei jou na die hoogtepunte – die Leeumanroete kan in ’n rustige 80 minute verken word en die Dansende Koedoeroete binne sowat ’n uur.
Net soos Brandberg word Twyfelfontein deur die Namibiese Nasionale Erfenisraad bestuur en die gidse is kundige plaaslike mense. Die besoekersentrum is goed ingerig, met inligtingsborde en versnaperinge (nie veel meer as koue koeldrank nie) en die gebruiklike aandenkings (poskaarte vir daai niggies in Perth). Met 40 000 jaarlikse besoekers is dit Afrika se bedrywigste rotskunsbestemming.
Twyfelfontein se oorspronklike Damara-Nama-naam was /Ui-//aes: “plek tussen die gepakte klippe”.
Eers as jy by die besoekersentrum uitstap, sien jy die bouval van David Levin se plaashuis. Hy het in 1948 hier aangekom en twintig jaar lank moedig met skaap probeer boer. Maar nou ja, dis droë wêreld en die fontein het inderdaad baie getwyfel, en hy’s maar later hier weg.
Maar dan, bo die huis, sien jy die amfiteater van gepakte klippe, soos droë stukke gemmerkoek in allerhande vorms: glad en plat, skurf en rond, sommige bonkig, ander dun.
Terwyl jy nader stap, begin die gravures uitstaan. Van die panele, wyer as die wydste wyehoektelevisie, is ongelooflik: leeus met sterte wat regop staan, kameelperde, daai dansende koedoe, renosters met horings wat sterre toe reik, ’n leeuman met ’n bok in die bek – selfs robbe en pikkewyne!
’n Ent verby Twyfelfontein kan jy ook gaan kyk na die Orrelpype, ’n mooi dolorietformasie wat soos, wel, orrelpype in ’n droë slootjie staan. Die pad loop ’n hanetree verder dood by die Verbrande Berg, waar die verskroeide swart gruis die einde van ’n bloedige warm hoofstuk in dié wêreld se oergeskiedenis aandui. As jy verder wil ry na die Doroskrater, het jy ’n ordentlike 4x4 nodig.
Ons kampeer langs die Aba Huabrivier en sommer op ons eerste middag is die geluk aan ons kant – teen sonsondergang drentel ’n troppie “woestyn”-olifante in die rivierloop verby. Hulle breek hier en daar ’n tak af, doer draf ’n kleintjie agter ’n koei aan, teen die pad gluur ’n jong bul vir ’n toeristebussie. Ons sit agteroor in ons eie Amarula-advertensie. Dís mos nou Damaraland.
Op die laaste aand het ons vroeg-vroeg al ’n voet in die slaaprivier toe die kampterrein skielik roer.
Europese stemme fluister opgewonde en hulle flitsligte swiep oor ons tente. Dan hoor ek takke breek. Iewers naby ons is ’n olifant.
Baie naby.
Sam is nou ook wakker. “Wat’s dit?” vra sy benoud.
Ek loer deur die gaas van my tent en ja, so vyf treë weg staan ’n olifant en vreet. ’n Grote.
“Olifant. Sjjj...” maan ek.
Sam kan nie uit haar tent sien nie. “Kom ons klim in die kar!”
Die olifant staan nader aan die kar as ons. Nie ’n kans nie.
“Nee, bly net stil,” fluister ek weer deur my tande, grootoog teen die gaas.
’n Kwartier later (vir Sam het dit gevoel soos ’n uur) beweeg die bul weg. Die volgende oggend sien ons die spore in die sand: so groot soos ’n pizza vir vier.
Hardehout
Pret op Khorixas
Ons op die C39-grondpad op pad na Khorixas. Oral langs die pad dui ondernemende “informele” gidse se bordjies ’n versteende woud aan. Ons draai by die “amptelike” plek in.
Ná ons goeie gidse by Twyfelfontein trek ons die kort lootjie by die Versteende Woud. Hoe verander hout in klip, vra ek ’n voor die hand liggende vraag. Die vrou kyk die stuk versteende hout aan asof dit self namens al die versteende hout in die streek gaan praat. Nee, sy’s nou nie seker nie, maar kyk hierdie ene, hy’t “duiderliker” jaarringe...
Die Versteende Woud lê ook op die toerbusroete.
Twee busse word drie en ’n horde kameraswaaiende Hunne beweeg in ons rigting. Ons vlug anderkant toe, katvoet tussen die welwitschias uit.
’n Entjie verder staan ’n bakkie langs die pad: Norman Jager en sy vriende. Hulle petrol is op en hulle wil ’n bietjie uit ons tenk uitsuie. Kan ons help?
Ja, ons kan. Maar ons kry nie petrol uit die X-Trail getap nie – daar’s iets wat die pyp blokkeer. Norman klim maar saam met ons in en ons ry voort op die golwende grondpad.
Op Khorixas laai ons hom af en koop vir hom R30 se petrol. Dis ’n bedrywige plekkie wat aanvanklik soos ’n oase lyk, maar jou opgewondenheid taan gou.
Dis Sam se verjaardag en ons weier om tou op te gooi. Ons wil pret hê op Khorixas.
En nee, ons wil nie die strategies-geplaaste Himbagesin wat langs die hotel se ingang sit, afneem nie. Ons vaar die China Shop binne waar sy vir haar ’n tiara koop. Ek soek ’n baadjie, maar al die baadjies is gemaak vir mense wat minder rooivleis eet as ek.
Ná ’n draai by die Laerskool Versteende Woud (en nee, die leuse is nie “Stadig, maar seker” nie, maar “Vertrou op God”), laat ek my hare by die plaaslike Swapo-kantoor sny. Die Son’s & Cleo Barber Shop huur ’n vertrek hier en Angus Tjinyama vaar met ’n nr. 2-kam in my stowwerige sprietjies in.
Dis ’n Saterdag en Khorixas is vrolik met die klanke van Damara-punch in die lug. Ons kry die CD-winkel en koop vir ons ’n Damara-punch-CD van Phura, een van die top-kunstenaars.
Nou’t ons mos ’n lekker tyd op Khorixas!
Die Vingerklip

Dit het op 7 Desember 1988 omgeval en was veel gewilder as die huidige Vingerklip. Dit was naby Asab, tussen Keetmanshoop en Mariental. Buiten die gewone verwering en verbrokkeling van die gesteente word gereken dat’n kragtige aard-bewing in Armenië ’n dag tevore bygedra het tot die val van die klip, ook bekend as Mukorob.
En versteende hoenderspore
Met die Fransfonteinberge links van ons, draai ons suidwaarts van die C39 af in die rigting van die Vingerklip. Die Vingerklip het oorgevat as Namibië se toonaangewende klippilaar nadat die bekende Vinger van God tussen Mariental en Keetmanshoop in 1988 omgeval het.
Ons ry weer die Ugabvallei binne. Die Vingerklip Lodge, net suid van die klippilaar, bied goeie waarde vir geld. Hulle nuwe restaurant, The Eagle’s Nest, is gebou op ’n krans wat bo die lodge uittroon. Hier’s g’n hyser of kabelkar nie en ons moet die 184 staaltrappe uitklim. Bo vergoed die sonsondergang vir die gehyg.
Die beste uitsigte is joune: 360˚ se grootsheid, die terraskranse en die Vingerklip. Ons eet ons knuppeldik aan braaivleis, slaaie en pap.
Douvoordag die volgende oggend is ons by die Vingerklip.
Hier’s nog g’n toerbus in sig nie. Die son piets eers die top van die Vingerklip en gly dan vinnig teen die pilaar af. Ek gaan sit reg teen die dun stingel van die klip. Om my swiep swaeltjies wat in die bros pilaar broei. Onder tussen die bome wei koedoekoeie.
Nou druk ons deur na die dinosourusspore anderkant Kalkfeld. In die mooi rivierloop van die Ugab (die eerste toerbus kom al van voor af), sien ons ’n Damaraneushoringvoël – dit lyk baie soos ’n rooibekneushoringvoël, maar jy kry dié soort net hier in Damaraland.
Vir die eerste keer raak die pad effens vervelig, met net ’n motorhek plek-plek wat afwisseling bied. Net toe ek vir Sam sê ons het gelukkig nog nie ’n pap wiel gekry nie, swik die X-trail skielik onder my…
Ons ruil gou die band in die snikhitte en ry verder. Nou en dan verskyn ’n bakkie voor ’n kolom wit stof. Maar die meeste verkeer is donkiekarre. Ek dink ons het by elke liewe padwaardige donkiekar in Damaraland gestop. Terwyl Sam se kamera klik, vra ek wat die donkies se name is. Daar’s Sersant, Merrie, Hans, Duiwel, Valie, Ou Blou, Vulletjie, Diekies, Ribbok, Bacardi, Clutch, Gearbox, Jakob, Swartland en Die Dop…
Uiteindelik bereik ons die plaas Otjihaenamaparero (klink of jy dit moet uitspreek met ’n mond vol warm pap), waar die dinosourusse sowat 219 miljoen jaar gelede hulle merk gelaat het.
Jy parkeer naby die opstal (hier’s ook piekniek- en kampeerplekke) en stap deur die spruit na die klipplate aan die oorkant. Die klip is nou so warm soos ’n stoofplaat, maar ons kry die spore maklik.
Die een stel is groot en dit lyk amper of ’n atletiese seekoei verby gedraf het, maar die spore is in der waarheid gemaak deur iets wat op die agterbene geloop het. En moenie net een of twee spoortjies verwag nie – dis ’n hele klomp wat jy vir amper 30 treë kan volg voordat dit verdwyn.
Die ander stel is kleiner en lyk weer of dit deur ’n kruising tussen ’n kapokkie en ’n waterlikkewaan gemaak is.
Dit roor in Omaruru
Tussen die Duitsers
Om Omaruru ná ’n week in Damaraland binne te ry is pure plesier. Dis ’n mooi dorp: Netjiese strate, boomryk langs die Omarururivier, die beste Spar nóg (so koel binne soos ’n swembad), koffiewinkels, restaurante, ’n puik slaghuis, ’n kunsgalery en ’n antiekwinkel.
Ons slaan tent op in die munisipale oord en gaan koop braaigoed by die Spar. Die volgende oggend sit ons aan vir ontbyt op die koel stoep van die Kaffeestube, agter in die Wronsky-huis, wat almal sommer net die Withuis noem (selfs al is dit nie meer wit nie).
Hier praat almal Duits. Wilhelm Wronsky, die eerste Duitser op Omaruru, het in 1894 hier aangekom.
Die pragtige huis – eintlik ’n winkel – is in 1907 voltooi. Vandag is dit Gudrun Murray se plek, op haar dag blykbaar die land se voorste pluimbalspeler.
Ek vra of sy ooit pluimbal gespeel het op Uis. “At the mine club?” vra sy, “but of course!”
John Bester stap die stoepie op en vrywe sy oë om gewoond te raak aan die donkerte. Hy stof sy blou oorpak af en kyk vir my en Sam asof ons by sy gunstelingtafel sit. Dan kom sit hy sommer by ons aan. “Julle sal mos nie omgee nie?” vra hy. Natuurlik nie. Hy bestel ontbyt, met spesifieke instruksies. “Sagte eiers en ’n warm bord.” Hy kyk in die kelderin sy oë of sy mooi luister. “ ’n Warm bord, asseblief.”
John is 78 en ken hierdie wêreld goed, om die minste te sê. Hy is ’n makelaar op Otjiwarongo, maar het ’n plasie hier langs die Omarururivier (waar ons later by sy vrou, Betty, gaan kuier om vetplante te koop). Sy Skyline het die stuk pad tussen dié twee dorpe al 1 200 keer afgelê.
Ons gesels lank en lekker met John. Hy vra of ons al vir Dok Craven ontmoet het, want hy kan ons voorstel. Ja! Dr. Dan Craven woon op Omaruru! Dis nou wel nie die ontslape rugbylegende nie, maar sy seun, wat byna sy hele lewe al in Namibië woon.
Teen sononder sit ons in die tuin by ’n B&B en luister na die Happy Disharmonists, ’n Duitse à capella-groep, se weergawe van “Bonnie Brae”, “Something Stupid” en ’n paar Duitse volksliedjies waarvan ek nie veel verstaan nie. Maar dit ontlok luide applous uit die plastiekstoele. Ná die tyd gaan eet ons, soos baie van die ander gaste, by die Central-hotel. Ons eet schnitzel, waai muskiete en ’n skaaphond kom vly haar teen ons voete neer.
Buiten Omaruru Souvenirs (in die Wronsky-huis) en die fantastiese Bliss-galery en antiekwinkel (meubels, boeke, ou foto’s van Damaraland en mooi natuurfoto’s deur die eienaar, Chris Johnston) moet ’n mens eenvoudig inloer by Tikoloshe, net buite die dorp aan die suidekant. Hier word die mooiste houtbeelde uit boomwortels gekerf. Ja, reg gelees! Kyk veral uit vir die hardegat ystervarke – dis werklik unieke sneewerk.
Die laaste draai
Sokkerbôlrotse en biltongslaai
Vandag voltooi ons die sirkelroete deur Damaraland. Ons vat net anderkant Omaruru die D2315 na regs, en dan mik ons links met die D2316 na die hart van die Erongoberge.
Die wildsplase en lodges hier lê in ’n beskermde wildernisgebied, maar jy ry op ’n openbare pad. Ons sien gemsbokke, springbokke, steenbokkies, koedoes, bergkwaggas teen ’n rant, ’n los rooijakkals en renosterbolle in die pad (net nadat ons kort duskant dit niksvermoedend piekniek gehou het in ’n droë rivierloop).
Die D2316 loop uiteindelik dood; dus draai ons om. Terug op die D2315 is daar skielik ’n beroering in die pad.
’n Paar voertuie staan in die pad en mense hardloop na die draadheining. Teen die tyd dat ons stilhou, is die aksie verby – ’n klein kameelperdjie het in die heining vasgesit, maar hy hol nou vervaard die bosse in, blykbaar ongeskonde.
Ons begin bordjies sien vir die San Living-museum. Ons draai in tussen die mooi klippe en ontmoet vir Richard Kxao en Lukas G‡hao en agt ander Sans wat in die koelte van ’n groot rots om ’n vuurtjie sit. Hulle is deur die eienaars van ’n plaas by Tsumkwe (amper 600 km noordoos hiervandaan) hierheen gebring. Daar was hulle werkloos en nou kan toeriste na hulle kom kyk. ’n Mens kan saam met hulle in die veld gaan stap (R110 p.p.) en hulle wys vir jou rotstekeninge en plante vir medisinale gebruik. Ek koop ’n houtbeeldjie by hulle en ons ry voort.
Soos elke ander dag in Damaraland is dit vrékwarm.
Nou en dan tril die hittegolwe ’n donkiekar uit die pad uit. Dan stop ons soos gewoonlik en maak geselsies, deel dalk ons bottel water of ’n bietjie kos. Die wolke dreig nou al die laaste paar dae, maar die reën bly weg. Ons is seker net te vroeg vir die reënseisoen.
Die laaste ding waarna ons wil gaan kyk, is Bull’s Party, op die Ameib Ranch.
Dis ’n mooi versameling rotse wat naam gekry het omdat dit lyk asof ’n paar bulle tydens ’n wilde partytjie die meubels hier rondgestoot het. Hier’s reuse-klipeiers, halwe rotsmane en steil kranse.
Jy kan ook stap na Philipp se Grotte, nog ’n nasionale gedenkwaardigheid, met van die Erongo se mooiste rotstekeninge.
Net toe ek al begin dink aan die biltongslaai by die Namib Wüste-padstalletjie (dit vat jou ’n halfuur om deur al die biltong te eet voor jy by die slaai uitkom), kry ons nóg ’n pap wiel, gelukkig in die koelte van ’n groot boom langs die Khanrivier.
Damara-vetstertskape loer vir ons oor die laaste bult, terug tot in Usakos, waar ek ons stukkende band by die garage aflaai.
Dis omtrent tyd vir tant Gerrie se “fêntjie”, maar wanneer ons by die padstalletjie aansit, is dit windstil. Ons eet lekker, lawe ons met koue koeldrank.
Waar sal ons slaap vanaand? Ek kyk na Sam. Ons weet waar. By een van die mooiste plekke ter wêreld: die Spitzkoppe.
Vir oulaas.
Lees die res van die storie
In die parkeerterrein voor die Namib Wüste-plaasstalletjie staan ’n ouerige Mercedes-Benz. Die twee vroue voorin kyk uit oor die B2-teerpad wat langs die padstalletjie verbydraf. Behalwe vir ’n padwerker wat aan ’n STOP/RY-bordjie hang, gebeur hier min. Usakos lê hier reg by ons, en Swakopmund 145 km na regs.
Skielik word die rustigheid versteur. Sirenes loei en ligte flits blou – ’n abnormale vragmotor onder polisiebegeleiding storm verby, seker op pad na een van die uraanmyne anderkant die Spitzkoppe. Die verkeerspolisieman op die motorfiets ry amper die STOP/RY-man disnis en dan verdwyn die gedruis weswaarts.
Ek en die fotograaf Sam Reinders stap na die Mercedes toe. Ons vermoed Damaraland begin hier iewers naby Usakos, maar hier is g’n bordjie nie. Dis nie ’n wynroete dié nie, dís seker.
“Wat maak Mevrou-hulle?” maak ek geselsies.
“Ons wag vir ons fêntjie,” sê tannie Gerrie Basson en kyk op haar horlosie. “En hy’s laat.”
Blykbaar kom die koel seebries gewoonlik so teen drieuur hier op Usakos aan – dís hulle “fêntjie”. Sy en tannie Louise Engelbrecht het in hierdie wêreld “grootgeword en halfpad oud geword”, verduidelik sy. Usakos? “Dis ’n ouetehuis. Dit kort net ’n dak,” sê sy.
En Damaraland? “Ja, jy’s hier,” en tannie Gerrie beduie na die droë rivierbedding tussen die padstalletjie en Usakos. “As jy oor die Khanrivier is, is jy in Damaraland. Van hier af noord tot verby Khorixas, daar by Fransfontein. En dan tot by Omaruru. En weer tot hier.”
Wat het geword van die Vinger van God?
Dit het op 7 Desember 1988 omgeval. Dit was ook bekend as die Vingerklip of Mukorob en was op sy dag veel gewilder as die huidige Vingerklip. Dit was naby Asab, omtrent halfpad tussen Keetmanshoop en Mariental. Buiten vir die gewone verwering en verbrokkeling van die gesteente word gereken dat ’n kragtige aardbewing in Armenië ’n dag tevore ook bygedra het tot die val van Mukorob.
Gepubliseer op 1 Maart 2009
Terug na Namibië | Terug na bestemmings | Terug na bo


























Kommentaar