Mpumalanga-kabelgly

Die platforn waar 'n mens land, is "net" 450m ver, maar van bo af het dit aanvanklik soos kilometers gevoel.
Hoogtevrees gryp ’n mens soos ’n koue hand om die hart, maar soms moet jy hom wys wie’s baas... al is dit net vir ’n rukkie. Leon-Ben Lamprecht het Mpumalanga se langste kabelglyrit aangedurf.
Mpumalanga-kabelgly 101
Waar? By Induna Adventures, 33 km van Sabie af op die R536.
Wanneer? Elke dag (behalwe Sondae) van 8 vm. tot 5 nm. Jy kan selfs gly as dit reën – hulle wag net tot die donderweer verby trek…
Wie mag gly? Die jongste mens wat al hier af is, was 2 jaar oud en die oudste een 92.
Hoe veilig? Iemand het laas in 2008 seergekry en daar was nog geen noodlottige voorvalle nie.
Koste: R140 p.p. Tandem kos R95.
Maksimum gewig: 140 kg.
Kontak: 082 463 2334; www.indunaadventures.com;info@indunaadventures.com
Wat kan ek nog doen? Baie: vlotvaarte, bergskaatsplank, abseil, perdry, bergfietsry, “geckoing” (’n gevordere vorm van binnebandry), kajak, verfbal, quadfiets en stap.
(Nota: Pryse akkuraat in Mei 2010)
Só voel dit...
My hande sweet. Ek probeer sluk, maar my tong is so droog soos ’n kluit.
Ek staan op ’n klein platform, 55 m bo moederaarde, op die punt om Mpumalanga se langste kabelgly (dis ’n bietjie meer fênsie as jou standard bloudraadfoefieslaaid) aan te durf. Ek staan hier ondanks my verlammende hoogtevrees. Dis hóóg, dis vér en dis vínnig.
Doer onder lyk die boord lemoenbome soos struike. Die houtplatform waarop jy land, is 450 m ver, maar vir my lyk dit veel verder. Die kabel hang in ’n slap boog teen die blou lug. ’n Mens gly teen so 90 km/h hier af. (Die langste kabelgly in die land is glo by Sun City, waar jy 2 km gly…)
My tong voel nóg droër. En dis warm. Een of ander voël tjirp hier links van my, maar ek is te bang om te wonder wat dit kan wees.
Patrick “Baby Hippo” Fankomo, die gids, beduie ek moet nou nader staan.
Ek klou nog krampagtig aan die paal waarop die dakkie oor die platform gestut word. “Nee wag… gee my nog ’n rukkie,” hoor ek myself sê.
Hoogtevrees is ’n vreemde sensasie. Dit voel asof die grond jou soos ’n magneet aantrek. Asof jy na jou einde gaan val as jy net oor die afgrond loer. Dalk is dit hoe iemand in ’n dodesel voel.
En ek was al in die sop oor hoogtevrees.
Naby Port St. Johns moes ek op die randjie van ’n krans gaan sit vir ’n foto wat ideaal sou wees vir Weg se voorblad. Ek kon myself eenvoudig nie so ver kry nie en het ’n entjie teruggeskuif. Ek hoef seker nie te sê nie, maar die foto het toe nie die voorblad gehaal nie…
Dus is daar nou geen kans vir omdraai nie. Boonop is ek klaar in die harnas.
En Lawrette, die fotograaf, het reeds hier afgegly… Om my te kan afneem. Nou is dit ’n saak van trots. Ek stap na die rand van die platform. Tyd om Hoogtevrees die middelvinger te gee.
Ons het op Sabie oorgeslaap voordat ons hier na Induna Adventures, 33 km Hazyview se kant toe langs die R536, gery het. Die vrou van Induna Adventures het my op die foon probeer gerusstel. Dis veilig, het sy gesê. Jy ís vasgegespe; en hulle sal darem seker nie so iets bedryf as dit mense doodmaak nie. Maar dis telkens die naakte vrees wat die oorhand kry oor die rede: Gaan ek ooit weer my vrou sien? En vir Hunter, ons labrador? Sê nou ek val myself steriel?
Ek dink terug aan ’n artikel wat ek onlangs in Pshycology Today gelees het.
Dr. Michael Davis, ’n neurowetenskaplike by die Emory-universiteit in Atlanta, Amerika, en ’n kundige op die gebied van vrees, sê daarin vrees is ’n ongelooflik sterk emosie. Wanneer jy stres ervaar – soos wanneer iets jou bangmaak – stel jou liggaam hormone vry wat jou kalmeer en laat goed voel. ’n Mens kan selfs verslaaf raak daaraan, reken hy.
“Die algemene wetenskaplike denkrigting is dat hoe meer vreesaanjaend ’n spesifieke sportsoort is, hoe meer van dié hormone word vrygestel. En hoe groter die vrystelling daarvan, hoe meer simptome van verslawing word gesien.”
Wel. Ek is nog steeds nie oortuig nie.
Ek was ook nie oortuig toe Louis Hanekom van Induna gepaai het terwyl ek en Lawrette, die fotograaf, ons harnasse aangetrek het nie: “Nee man, dis vinnig verby,” het hy gesê. Daar’s die veiligheidsles: Hou net jou hande en hare weg van die katrol af. En alles wat kan afval, moet bly: bril, beursie, selfoon, plakkies.
Jy kan Superman-styl afgly as jy wil – maag ondertoe. Nie vir my nie, hoewel Lawrette byt.
Louis en Mxolisi “Smiley” Mahlalela gaan ons by die onderste platform “vang” en Patrick sal ons weer met ’n quadfiets terugbring boontoe.
Hier staan ek nou. Met géén omdraaikans nie. Ek staan voor op die houtplatform, naby die rand. Nee, beduie Patrick, nóg nader. Ek skuifel-skuifel. Op-winding en vrees, ook ’n gedweë aanvaarding, bots in my gemoed. “Is jy gereed?” vra Patrick.
“So gereed soos ek in my lewe sal wees,” sê ek. My stem klink skor en ek moet keel skoonmaak.
“Sit asof jy in ’n stoel sit,” sê Patrick terwyl hy my harnas aan die agterkant beetkry. “En dan gaan ek stadig van drie
af terugtel...”
“Drie..!”
My middelvinger aan Hoogtevrees begin so effens wankel.
“Twee..!”
As ek val, moet ek my tog net doodval – ek wil nie ly nie.
“EEN..! Go!”
En ek’s weg. Ek wil skree, maar my stem is weg. Dan... “AAAAAAAAAA... ek skep asem... AAAAAAAAAAHHHH!!!” (Goed, ek het eers iets anders geskree…)
Die kabeltou wrrrrrrrrr hier bo my, my hare wapper en waai in my gesig. En toe, skielik, verander alles: Ek besef ek is nié besig om te sterf nie.
En toe raak dit selfs lekker.
“Whoooeee hoooo-eeee!” laat hoor ek terwyl ek oor die eindplatform seil. My bene en arms en lyf en kop – alles – voel nou so lig.
Die katrol tref die stopper en ek gly terug op die kabel na die eindplatform, waar Smiley op ’n stoel klouter en met ’n stok die kabel aftrek om my af te haak.
My kaal voete vat-vat aan die houtplatform.
Ek kan voel my bene is nog effens jellierig, veral my knieë, en ek het ’n simpel glimlag op my bakkies. Terwyl Louis my help om uit die harnas te klim vra hy: “Hoe was dit?”
“Jis, um...” probeer ek dit in woorde omsit.
“Dit stop gelukkig net voordat dit voel asof jou organe uit jou lyf wil klim,” sê Louis.
Dr. Davis is reg… want nou wonder ek of nie weer moet gaan nie.
Skielik is dit glad nie meer so vreesaanjaend of ver of hoog nie.
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar