Reservaat: Rietvlei
New York se bekende Central Park is min of meer so groot soos 340 rugbyvelde; Pretoria het die Rietvlei-natuurreservaat, meer as tien keer so groot. Een besoek per maand help jou om van die stadsdruk te vergeet, sê Jeanette Clark.
Rietvlei 101
Tye
April tot Augustus: 6 vm. tot 4 nm. (laaste toegang). Jy mag binne bly tot 6 nm.
September tot Maart: 5.30 vm. tot 5 nm. (laaste toegang). Jy mag binne bly tot 7 nm.
Koste: R35 vir volwassenes; R18 vir kinders tussen 6 en 12 en pensioentrekkers. ’n Seisoenkaartjie vir 6 maande kos R308.
Hoe kom ek by Rietvlei?
Van Johannesburg af op die N1: Vat die R21-afrit in die rigting van die lughawe tot by die Nellmapiusweg-afrit af en draai links. Draai regs by die volgende verkeerslig op die M57. Rietvlei
se ingang is aan die linkerkant. Om by die hengelgebied uit te kom ry jy op Nellmapius oor die M57 tot by die ingang aan jou regterkant.
Verblyf
Kampeer in die hengelgebied
R50 p.p. en R25 per voertuig (net 60 kampeerders per nag word toegelaat). Hier is badkamer- en braaigeriewe. Onthou, daar’s geen kragpunte nie.
Chalet: R570 p.n. met plek vir 6.
Elektrisiteit? Net in chalets.
Selfoonontvangs? Ja.
Braaigeriewe? In die hengel-gebied en in die reservaat by die Maraisdam-piekniekplek.
Troeteldiere? Nie toegelaat nie.
Aktiwiteite? Stap, bergfiets
Kontak
Hengelgebied: 012 345 3917
Reservaat: 012 345 2274/5103/ 5104 (ook vir besprekings) www.rietvlei-reserve.co.za
Vriende van Rietvlei: 012 651 3033; rietvlei.googlepages.com: rietvlei@mailbox.co.za
(Nota: Alle pryse akkuraat in Maart 2009)
Doen die Groot Vyf:
1. Kyk ver en trap fyn
Die reservaat het wildkykroetes van altesame 40 km, waarvan 30 km geteer is. As jy
jou oë oophou, kan jy swartwildebeeste, sebras, blesbokke, elande, waterbokke, springbokke, rooihartbeeste, verskeie voëls en (met taamlike sekerheid) witrenosters sien. In die somer dwaal dié grotes nie ver van hulle moddergat tussen die Ghwarrie- en hoofroete nie.
As jy graag buffels wil sien, kry vroegoggend koers na die Varingfontein-voëluitkykpunt. Die trop van 39 maak gewoonlik net vroeg ’n verskyning voordat hulle vir die dag in die vleiriete verdwyn.
Dis oop wêreld dié, maar jy sal fyn moet kyk om die reservaat se twee jagluiperdmannetjies raak te sien tussen die graspolle van die reservaat se 40 km², vertel Willem “Catman” van Staden, een van die gidse. (Hy is so deur die Vriende van Rietvlei gedoop omdat hy soggens die jagluiperds met die hulp van die radiohalsbande om hulle nek opgesoek het.)
Net 60 voertuie word op een slag in die reservaat toegelaat, maar jy kan ook op ’n begeleide wildsrit gaan as jy lui is om te bestuur.
Braaihout en komberse word verskaf en ná die rit van sowat twee uur is dit tyd vir ’n bring-en-braai by die Visarendlapa by die hengelgebied.
As jy ooghoogte met die wild in die reservaat wil wees, kan jy saam met ’n gids ’n staptoer aanpak.
Só kan jy ook die plantegroei en inseklewe van Rietvlei waardeer. Ben Burger, voorsitter van die Vriende van Rietvlei, vertel dat jy op een van die koppies bees-kloutjies (Lithops lesliei) kan sien.
As Namibiese boorling het ek al voorheen na dié klein vygieplante gesoek, maar nie geweet dit groei ook hier in my agterplaas nie.
’n Dagstap oor naweke duur vier uur. Daar is ook ’n oornagstap van sowat 20 km wat van die Vrydag-namiddag tot Sondag duur.
Wildsrit: R125 p.p. (10 tot 12 of 18 tot 20 mense)
Dagstap: R62 p.p. (minimum 10 mense, maksimum 15)
Oornagstap: R150 p.p. (ses tot agt mense). ’n Deposito is betaalbaar.
Die oornaghutte het warm water, beddens en matrasse, ’n pot of twee en vuurmaakhout, maar
geen elektrisiteit nie. Bespreek minstens twee weke vooraf, ook vir ’n dagstap. (As dit lyk asof die weer jou staptog in die wiele gaan ry, kan die datum verskuif word.)
2. Sleep vlerk
Rietvlei het ’n groot groep geveerde vriende. Elke motor kry by die hek ’n brosjure met die roete
kaart en ’n lys van 274 voëlsoorte wat al hier gesien is.
Die vleiland is nou gerehabiliteer en jy kan op die noordroete ’n hamerkop in die Rietvleispruit sien. ’n Hoogtepunt vir voëlkykers is die swartbosslangarende, asook die vlei-uile.
Op die vleiroete kry jy rooineklewerikke, sekretarisvoëls en grasuile. Op die Ghwarrieroete is oranjekeelkalkoentjies. Met ’n dam, spruit, grasveld en vleiland kan jy dus van watervoëls tot kleiner roofvoëls hier te sien kry.
Fred du Plooy, voormalige voorsitter van die Vriende van Rietvlei en ’n gereelde besoeker, vertel hy was skaars by die hoof-hek in toe hy ’n swartpiek en romanspinnekop sien slaags
raak het.
Hier is drie voëluitkykpunte:
Bleshoender (Coot’s Corner), Varingfontein en Maraisdam by die piekniekgedeelte. ’n Vierde, Eilandsig, is deur die Vriende van Rietvlei gebou.
3. Bring jou stok en hoek
Rietvlei-natuurreservaat word deur ’n heining in twee dele verdeel. By elke hek moet jy toegangsgeld betaal. By die hengelgebied langs die dam, wat sowat 30 ha groot is, word veral oor naweke lyn natgemaak vir karp, baber en geelvis. Alle vangste bo 4,5 kg moet weer vrygelaat word sodat die visse kan teel. Enigiets kleiner mag jy hou.
Hengelaars het volgens wet ’n varswaterhengellisensie nodig, maar dié is deesdae moeilik te
kry in Pretoria – hengelaars moet soms Johannesburg toe piekel om een te kry.
Kampeerders slaan hulle tente knus langs die dam op en hier is ook twee chalets. (Nog sewe word gebou.)
Jy mag nie in die dam swem nie; los dus maar die trekkertjoep by die huis.
Bergfietsryers kan twee makkerige roetes van onderskeidelik 6,5 km en 7 km om die dam trap, maar dis nie bergterrein hierdie nie. Jy sal wel hier en daar die modder kan laat spat.
Dit kos R10 p.p.
4. Sit-sit so
’n Heerlike manier om die wild te kyk is op die rug van een van Rietvlei se perde.
As jy bekommerd is oor te min cowboybloed in jou are, ontspan. Die perde is mak en ruiters mag nie die perde aanhits om te galop nie. (In ons groep van elf was drie mense nog nooit op ’n perd se rug nie, en die dag het rustig en sonder voorval verloop.)
Wenk: Begin vroegoggend, want jy sien dan meer wild.
Smeer maar sonroom aan en pak jou reënparka. Die son kan jou lelik piets en in die somer styg die temperatuur tot 34 ºC, maar klassieke Pretoria-donderstorms steek dan ook gereeld op.
Koste: R200 p.p. (6 tot 10 mense) Hier is ook ’n oornagopsie van R450 p.p. (6 tot 8 mense).
Jy moet minder as 120 kg weeg en kinders onder 12 word nie toegelaat nie.
5. Rol jou moue op
Hier is vleilande wat gerehabiliteer en voëluitkykpunte wat gebou moet word.
As jy ’n Vriend van Rietvlei-natuurreservaat word, sal jou Saterdae nooit weer vervelig wees nie.
Dit kos jou R65 per jaar per gesin en jou lidmaatskapskaart gee jou twee besoeke per jaar vir twee volwassenes en twee kinders. Verder kry jy toegang tot die Vriende se oornaghut, Jakkalsgat, teen R30 per persoon per nag. Ben, die voorsitter, sê die eindresultaat is beslis die moeite werd. “My kleinkinders kan hierheen kom,” sê hy.
Tienus Koch is al agt jaar lank ’n Vriend van Rietvlei. “Die natuur herlaai jou energie. Dit doen iets aan jou wat jy nêrens anders kan kry nie. As ek ’n jaar nie in ’n wildtuin of reservaat kom nie, voel ek dit aan my lyf!”
Lees die res van die storie
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 15 Augustus 2010 | 15:36:54
Ek soek prente oor Rietvlei. Ek moet n brosjure maak en ek het REGTE prente nodig.

























Kommentaar