Kgalagadi: Kamp in die Oorgrenspark


By Polentswa se watergat het die leeuwelpie links meer as net water gedrink...
zoommore

By Polentswa se watergat het die leeuwelpie links meer as net water gedrink...

Ná die gewilde Krugerwildtuin-reeks stel ons een bekend oor die Kgalagadi-oorgrenspark. Villiers Steyn gee hier sy oorsigtelike indrukke plus ’n paar wenke.

Kgalagadi 101
Wanneer moet ek kom?

Die Kgalagadi se klimaat is nooit gematig nie. Ek was die eerste keer daar in Julie, in die middel van die winter. Die dagtemperatuur was aangenaam, maar snags het selfs die Sunlight Liquid kliphard gevries. Die temperatuur kan tot  -11 °C val in die winter. In die somer is dit andersom. Jy sweet die heeltyd en kan jou maar regmaak vir temperature bo 40 °C.
Die beste maande is Maart, April, Augustus en September.
As jy hou van skouspelagtige wolkstapels, stofstorms en donderweer, dan kan jy maar gerus in Oktober ’n draai kom maak. Ek was minstens een keer per week in ’n  storm vasgevang
(in Oktober). By Twee Rivieren het die paaie heeltemal oorstroom en by Nossob het die weerlig gans te naby geslaan vir enigeen se gemoedsrus.
Die Kgalagadi word vinnig vol bespreek – bel vroegtydig en vermy skoolvakansies, want die kampe raak dan oorvol.

Hoe sleg is die paaie?
Die Kgalagadi se paaie is erg vol sinkplaat – jou buurman vertel jou van die nuwe “rattle” in sy Ranger nog voordat hy oor later se leeus begin grootpraat.
In Nossob het ek op ’n nuwe Toyota Hilux afgekom waarvan die blink bosbreker op die grond lê. “Sinkplaat,” sug die eienaar voor ek kan vra.
Wat is die storie agter die slegte paaie? Die Kgalagadi se paaie word wel een keer per week geskraap, maar binne twee dae is die sinkplaat terug.
Jou enigste opsie is om die motorbande se druk te verminder – die park raai besoekers nie net aan om dit tot 1,5 bar af te blaas nie; dit word vereis.
Ek sou nie met ’n Citi Golf Kgalagadi toe kom nie, maar sommige mense waag dit. Jou 4x4-voertuig of -bakkie is net beter gebou om die pak te vat.
En moenie eens daaraan dink om die Venter of Sprite verder as Twee Rivieren te sleep nie. Ek sou selfs versigtig wees met ’n boswa – die aanhoudende geskud sal wel iets laat breek. 

Hoe kom ek daar en waar moet ek oorslaap?
Upington is amper ewever van Kaapstad én Pretoria af (sowat 800 km). Van Upington af is dit nog 250 km tot by Twee Rivieren, die ingang van die Kgalagadipark.
Die pad is geteer tot by Twee Rivieren. Baie besoekers ry tot by die park en slaap die eerste aand op Twee Rivieren oor. As jy tussen Upington en Twee Rivieren wil oorslaap, besoek Open Africa se webtuiste by www.openafrica.org/route/kalahari-red-dune-route.

Villiers Steyn
zoomzoom

Dié yslike leeumannetjie stap fier in die pad tussen Cheleka en Dikbaardskolk op die Nossobrivierpad, kort op die hakke van ’n?wyfie...

Villiers Steyn
zoomzoom

Die stof staan goudgeel soos besoekers haas om voor toemaak tyd by Mata-Mata se kamphek te kom.


Groot kampe en kleintjies

Ek besluit om net die Suid-Afrikaanse kant van die Kgalagadi te verken – dis beslis nie ’n goeie plan om die wilder Botswanadeel alleen aan te durf nie.

Ek bly in drie hoofkampe – Twee Rivieren, Mata-Mata en Nossob – sowel as die ses wilderniskampe – Urikaruus, Kalahari-tentkamp, Kieliekrankie, Bitterpan, Grootkolk en Gharagab.

Die hoofkampe is baie soos dié in die Krugerwildtuin, met ’n verskeidenheid rondawels, ’n kampeerterrein, swembad, winkel en vulstasie.
Die wilderniskampies is ’n belewenis. Hulle is klein, sonder heinings, meer eksklusief as die groot kampe en elkeen kyk uit op ’n watergat.  Elke kamp is uniek.

Groter as Kaasland!
Die verenigde Kgalagadi-oorgrenspark, wat met sy een voet in Suid-Afrika en die ander in Botswana staan, is op 12 Mei 2000 amptelik vir besoekers oopgestel, hoewel diere eintlik nog altyd vrylik tussen die twee lande geloop het agter kos en water aan.

Die park is Afrika se eerste oorgrenspark en beslaan 38 000 km2; net ’n kwart hiervan (9 591 km2) is in Suid-Afrika. Die Kgalagadi is net-net kleiner as die ganse Nederland.
Besoekers mag sonder ’n paspoort tussen die twee lande ry mits hulle binne die grense van die park bly.

Paaie en riviere
As jy onthou dat die Kgalagadi se paaie basies rondom die twee groot droë rivierlope gerangskik is, sal jy gou jou pad vind.
Hier is slegs vier grondpaaie aan die Suid-Afrikaanse kant: Een langs die Auobrivier, een langs die Nossobrivier en twee dwarspaaie deur die duineveld wat die rivierbeddings verbind.

Die Auob- en Nossobrivier is fossielriviere wat deesdae net sterk vloei in jare van oormatige reënval. Maar selfs dan moet jy nie die Oranje-rivier verwag nie; eerder twee stowwerige bane wat honderde kilometers ver deur die rooi duineveld van die Kalahariwoestyn kronkel.
Die Auob en Nossob kom 5 km noord van Twee Rivieren bymekaar; dié  plek staan ook as die Samevloeiing bekend.

Op sommige plekke in die Auob is die rivierbedding smal – Herschelle Gibbs behoort ’n  krieketbal van die duin tot bo-op die oorkantse kalkbank te kan gooi. Die Nossobrivierbedding is baie breër, veral in die noorde. Hier het jy omtrent die Hubble-teleskoop nodig om ’n  jagluiperdma en haar welpies onder ’n kameeldoringboom aan die ander kant te sien.

Dien ’n ryplan in
Ek staan elke oggend om vyfuur op sodat ek eerste by die hek kan wees – in Oktober maak die hekke al om sesuur die oggend oop.
In die Kgalagadi moet jy altyd eers ’n permit by die hekbeampte kry en aandui waar jy van plan is om te ry.
As jy terugkom, gee jy die permit terug. Dis ’n veiligheidstelsel wat seker maak die parkpersoneel kom soek jou as jou Land Cruiser se brand-stofverbruik ’n bietjie hoër is as wat jy gedink het...

Maak toe
Villiers Steyn
zoomzoom

Dié troppie springbokke net noord van die Melkvleipiekniekplek in die Nossobrivier is rustig, want die jagluiperdwyfie het haar reeds trommeldik gevreet.

Villiers Steyn
zoomzoom

’n Graatjiemeerkat net noord van Grootkolk.


Kgalagadi is leeuwêreld
Die Kgalagadi-park is sinoniem met leeus… of liewer, yslike mannetjiesleeus met gitswart maanhare. By die Dalkeith-watergat suid van Mata-Mata paar ’n ou mannetjie, oortrek met letsels, vier dae lank met ’n jonger leeuwyfie. Maar hy is nie alleen nie. In dieselfde tyd sien ek tussen Montrose en Dalkeith nóg twee volwasse mannetjies.

Daar’s ook jagluiperds en luiperds wat my pad kruis. Ek het al geleer luiperds duik gereeld tussen Houmoed en Auchterlonie op, én in die omgewing van Grootkolk.  Jy kan egter jagluiperds enige plek in die park raakloop. Die beste tyd is vroegoggend wanneer die kolletjieskatte nog aktief is, of laatmiddag wanneer daar nie meer skaduwee oor is onder die kameeldoringbome nie.

Geen buffels, baie slange
Buiten die grootkatte sien ’n mens ook ’n groot verskeidenheid ander soogdiere, voëls en reptiele. Tog moet ek my kort-kort herinner ek is nie in die Krugerwildtuin nie, maar in ’n woestyn – sonder olifante, buffels en renosters.

Hier raak jy opgewonde oor geharde spesies soos gemsbokke, elande en rooihartbeeste, en natuurlik die springbok – die rooibok van die Kgalagadi.
Hier’s regtig báie diere. Al langs die twee rivierbeddings is mensgemaakte watergate wat met pompe vol gehou word.

Langs die 120 km van die Auobrivier in die park is daar gemiddeld elke 8 km ’n watergat, en langs die 300 km van die Nossobrivier gemiddeld elke 12 km. Die drinkplekke het mooi name soos Kamqua, Kij Kij, Jan se Draai, Kameelsleep en Klein Stofpan.

Die gras en bome in die rivierbedding en op die oewer lok ook diere.
Enkele weke ná die seisoen se eerste goeie reëns lyk die rivierbeddings soos ’n gholfbaan se skoonveld en blom die duwweltjies soos ’n  groot geel kombers oor die rooi duineveld.
Die nuwe plante lok waaiersterteekho-rings, volstruise, rooihartbeeste en sommer derduisende springbokke — op ’n wildsrit in die Auobrivier tel ek binne vier uur wraggies meer as 1 500!
Wat my die meeste verbaas, is dat ek op party dae meer slange as karre op die pad sien.

My gunstelingdier in die woestyn is egter die graatjiemeerkat, of stokstertjie, soos my ma dit noem.
Ek identifiseer minstens ses kolonies en sit tot twee uur op ’n slag by ’n  familie om hulle manewales dop te hou. Die hoogtepunt van my besoek is op die voorlaaste dag. Noord van Melkvlei verskyn ’n hiëna in die verte. Ek neem sommer aan dis ’n gevlekte hiëna, maar toe hy nader gestap kom, besef ek dis sy bruin nefie.
Bruinhiënas is baie skaars en skugter en loop boonop alleen… Of so het ek gedink, want voordat ek my oë kon uitvee, stap drie volwasse bruinhiënas in die pragtige oggendlig voor my oor die pad.

Maak toe
Villiers Steyn
zoomzoom

Hou ook die besigtigingsbord en -boek by die ontvangskantoor dop.


1. Tydsberekening is alles!
In die woestyn word dit soggens vroeg al warm en die koelte kom eers laatmiddag. Voor 8 vm. en ná 4 nm. is dus die beste tye vir ’n wildsrit. Boonop is die diere meestal in dié tye aktief.
Maar moenie dink niks gebeur in die middel van die dag nie; roofvoëls maak graag tussen 11 vm. en 1 nm. ’n  draai by ’n watergat. Sit veral by Qubitje Quap net noord van Nossob en wag hulle in. 

2. Ry stadig en kyk fyn
Omdat woestyndiere en -voëls so goed gekamoefleer is, ry jy maklik by hulle verby as jy van die een watergat na die volgende jaag.
Ry eerder effens stadiger – sowat 25 km/h – en soek veral in en onder die kameeldoringbome vir uile, slange, vaalboskatte of selfs luiperds.

3. Spits jou ore
Die meeste diere sal ’n  unieke waarskuwingsroep gee wanneer hulle ’n roofdier gewaar.
As jy dus op ’n trop springbokke afkom wat snorkgeluide maak en almal in dieselfde rigting staar, kyk of jy kan sien wat hulle ontstel.

4. Sny spoor
Die Kgalagadi se sandpaaie is ideaal vir spoorsny, en dit gebeur gereeld dat ’n stel leeuspore jou oog tref, veral vroegoggend. As die spore bo-oor die laaste voertuigspore loop, is hulle vars en is dit die moeite werd om hulle te volg of die omgewing waar hulle die pad verlaat te fynkam.

5. Hou albei kante dop
In die Kgalagadi ry ’n mens gereeld met die droë rivierbedding aan die een kant en ’n  duin of lae heuwel aan die ander kant.
Moenie net diere in die rivierbedding soek nie, want die meeste roofdiere verkies die hoogte van die duine en kalkbanke om hulle prooi in die rivierbedding dan makliker te kan dophou.

6. Wees geduldig
Jy kan letterlik by enige van die watergate langs die Auob- en Nossobrivier gaan afsaal en wag dat die diere na jou toe kom.
Maar jy moet bereid wees om te wag. As dit gereën het en daar’s nuwe poele op ander plekke, gaan daar minder aan by die watergate.

7. Vra jou buurman
Moenie skaam wees om jou buurman of die veldwagters te vra wat hulle die afgelope paar dae gesien het nie. Dis die beste manier om aanwysings te kry na die naaste draaijakkalsgat, meerkatkolonie of leeuvangs. Hou ook die besigtigingsbord en -boek by die ontvangskantoor dop.

Maak toe
Villiers Steyn
zoomzoom

Villiers Steyn
zoomzoom


Buiten die groot diere in die park is daar ook kleiner interessante diertjies waarvoor jy gerus op die uitkyk kan wees. 

Die grilfaktor
Die pofadder is een van drie slangspesies wat volop in die Kgalagadi voorkom. Hy’s giftig, en al glo sommige mense die adder pik net na agter, is dit nie waar nie. 
Wees veral versigtig vir die Kaapse kobra − hy is dodelik giftig. Hy word ook die geelslang of koperkapel genoem. Dié outjies klim graag in bome op soek na moontlike prooi.
Hoewel die molslang nie giftig is nie, byt hy baie maklik. Hy vreet veral knaagdiere.

Wolf se nefies
Rooijakkalse is regdeur die park volop en kom gewoonlik in pare voor. Hulle maak jag op alles wat kleiner is as ’n springbok.
Die silwervos of  draaijakkals is  minder volop as die rooijakkals. Soek in Oktober en November na familiegate. Hulle vreet hoofsaaklik insekte, maar ook voëls en reptiele.
Bakoorjakkalse is regdeur die park volop en kom gewoonlik in klein familiegroepies voor. Hulle vreet hoofsaaklik insekte.

Onopvallende kalante
Fluitrotte kom in groepies voor, veral in die duineveld. Soek ’n  klomp gate reg langs mekaar, gewoonlik naby ’n  struik. Hulle maak sagte fluitgeluidjies. 
Streepmuise is volop langs die paaie, veral by Nossobkamp. Wees op die uitkyk vir hulle tussen die struiktakke. 
Grondkoggelmanders is volop in die park. Hulle is vaal van kleur, maar in die broeiseisoen word die mannetjie se kop so blou soos dié van ’n bloukopkoggelmander.

Maak toe
Villiers Steyn
zoomzoom

Waaiersterteekhorings is so mak soos troeteldiere in die kampe, soos dié tweein die Nossobkampterrein.

Villiers Steyn
zoomzoom

Die Kamquapiekniekplek in die Auobrivierbedding het wasbakke met lopende water en spoeltoilette.


Terwyl die Condor die laaste 60 km tussen Andriesvale en Twee Rivieren kafdraf, dink ek aan vlieënde wieldoppe en stukkende skokbrekers. Want vroeër jare was dit een van die slegste sinkplaatpaaie in Suid-Afrika – hy het enigiets van ’n Ventersleepwa tot ’n nuwe BMW in die werkswinkel laat beland.


Nou is die pad geteer en jy kan sommer maklik 100 km/h ry. Tog kruie ek teen 50 km/h aan, want die Kalahari se rooi duine is betowerend. Ek was nog net drie keer in die park – die eerste twee keer as kind saam met my gesin (toe dit nog die Kalahari-gemsbokpark was) en jare later as natuurbewaringstudent. By Twee Rivieren sien ek op die bak van ’n insleeptrok ’n voertuig wat só opgefrommel is dat jy nie kan uitmaak of dit ’n Toyota Fortuner of ’n Jeep Commander is nie. Hy het seker te vinnig om die draai gery op een van daai gevaarlike  duinepaaie met die skerp draaie en blinde hoogtes…

Oor die volgende 41 dae gaan ek 5 095 km ry en in nege van die tien kampe aan die
Suid-Afrikaanse kant van die Kgalagadi-oorgrenspark bly.

Dis die begin van die reënseisoen in die Kgalagadi.
Ek slaan my tent op in die middel van Twee Rivieren se kampterrein onder ’n doringboom en is dankbaar vir die skaduwee – hier skrik die kwik nie vir die 40 ºC-merk nie! Dit lééf rondom my. ’n Swart akkedis deursoek ’n boomstam vir insekhappies, versamelvoëls en rooikopvinke hop-hop tussen my voete rond en ’n geelmuishond kom inspekteer my blyplek – hy snuffel aan die opslaanstoel, die trommels en selfs die yskas voor in die tent. Ek raak rustig. 

Met ’n bietjie deursettingsvermoë en hope geduld sien ek alles wat ek gehoop het om te sien: ’n hele 59 leeus, 14 jagluiperds en 4  luiperds. Én 5 bruinhiënas, 2 ratels en ’n rooikat.
Ek aanskou ook iets wat ek moeilik sal vergeet: By Polen-tswa se watergat sien ek ’n  ma-leeu, net toe ek stilhou.

Ná ’n ruk duik ’n koppie agter haar rug op… en toe nog twee!
Hulle beweeg eers stadig en onseker, maar is nuuskierig genoeg om aan te hou loer met hulle groot geelbruin oë – drie piepklein welpies. Een van die welpies struikel oor sy eie pootjies en beland – karplaks! – reg binne-in die watergat. Hy is angsbevange, maar swem sonder enige hulp van sy ma kant toe.
Dis dié soort toneel wat die Kgalagadi anders maak... jy voel deel van die verhaal wat voor jou afspeel.

Oom Piet Heymans en Henriette Engelbrecht se boek Ousus van die Kalahari sal dit dalk die beste verduidelik – koop een in enige van die park se winkeltjies. Oom Piet was ’n gewone besoeker soos ek en jy wat ’n leeuwyfie noord van Nossob van nét na haar geboorte af tot met haar oudag gevolg en afgeneem het.

Toe ek uiteindelik ná vyf en ’n half weke in die Urikaruus-wilderniskampie op my bed lê en terugdink aan alles wat ek gesien en beleef het, kan ek nie besluit waarvan ek die meeste gehou het nie. Dalk die trop leeus wat ons een aand by Bitterpan omring en heelnag gebrul het?
Of die twee sekretarisvoëls se skopboks-vertoongeveg suid van die Mata-Mata-kamp?

Daar was ook die vier jagluiperds wat buite Twee Rivieren voor my in die pad geloop het, en ’n skouspelagtige weerligvertoning een aand in Nossob. Nee wat, as jy ooit weer twyfel of dit die moeite werd is om so ver te ry… glo my, dit is.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 18 Januarie 2011 | 10:36:52

Ek kan n besoek aan die Kgalagadi hoogs aanbeveel. Ons kom pas daarvan af(Des 2010) en aangesien dit ons eerste besoek was het ons nie presies gewwet wat om te verwag nie. Dit was fantasties. Ons het n 4x4 sleepwa gehuur en daarmee gekampeer vir 5dae by Nossob en 3dae by Mata-Mata. Ons het die foto pamvlet wat beskibaar is by Twee Riviere aangeskaf om te monitor watter wild wat ons so sien. Ons het 72% van die wild(voels ingesluit)wat voorkom in die park kon aanteken. Nege uit tien, net jammer alle motoriste wat nie gehoor gee aan die aanbevole druk van 1,5bar vir jou bande nie wat sinkplaat paaie vererger. Kgalagadi en kom weer!

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek