Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Lag-lag Egipte toe!


Kamele maak vir mooi foto’s maar as jy só "n poskaartkiekie wil hê, sal jy moet betaal! LE10 (omtrent R15) is "n redelike prys.
zoommore

Kamele maak vir mooi foto’s maar as jy só 'n poskaartkiekie wil hê, sal jy moet betaal! LE10 (omtrent R15) is 'n redelike prys.

Egipte is ’n uitdagende land om as ’n onafhanklike reisiger te besoek, dus gaan die meeste toeriste op een of ander pakkettoer. Ons het ’n standaard-pakkettoer van tien dae van African Encounters (www.africanencounters.co.za) op die proef gestel. Dit het ’n paar dae in Kaïro, ’n vaart op die Nyl tussen Aswan en Luxor, asook drie dae in Hurghada – ’n vakansiedorp aan die Rooisee – ingesluit.
Op ’n pakkettoer is dit nooit jy wat oor jou lot besluit nie; ’n hele klompie bestuurders, begeleiers en toergidse hou heelpad jou hand vas. Maar dis gerusstellend om te weet jou paadjie deur die land is vooraf bepaal; dat ontbyt soggens om sewe-uur voorgesit word en die minibus met die lugreëling by elke tempel waar jy gaan rondkyk, vir jou wag.



Is dit die geld werd?
Vir seker. Vir R12 650 sien jy groot dele van die land en besoek jy baie van die bekendste historiese monumente saam met ‘n persoonlike gids (sodat jy heeltyd weet watter Farao in watter sarkofaag lê).

Hoe lyk die verblyf?
Die Oasis-hotel in Kaïro is ’n reusagtige plek met lieflike tuine, gerieflike kamers en drie restaurante wat enigiets van falafel tot pizza voorsit. Die rivierboot Semiramis II het luukse kajuite, ’n ruim eetvertrek en ’n heerlike bodek. In Hughada het die Grand Seas Hostmark-oord maar dis effens vervelig en taamlik ver uit die stad uit.

Hoe werk die geld?
Die plaaslike geldeenheid is die Egiptiese pond, wat meestal met LE afgekort word. Nêrens in Egipte kan jy rande ruil nie; sorg dus dat jy voor die tyd in Suid-Afrika Amerikaanse dollars, Britse ponde of euro’s kry. By die meeste hotelle word groot kredietkaarte aanvaar, en oral is daar OTM’e waar jy teen ’n billike koers kan geld trek.

En fooitjies?
Fooitjies (of baksheesh) is deel van die Egiptiese kultuur en iets wat toeriste gereeld in die harnas jaag. Maak dit makliker en reken sommer uit die staanspoor fooitjies by jou begroting in. Indien moontlik, kry klein eenhede van die Egiptiese pond wat jy met jou saamdra. Gewoonlik kry portiere ’n pond of twee (R3), terwyl motorbestuurders en lughawebegeleiers omtrent LE20 (R30) wil hê, afhangende van hoeveel hulp hulle verleen het. ’n Toergids wat drie of meer dae by jou was, sal ’n fooitjie van omtrent LE500 (R715) van die groep verwag. Pleks daarvan dat jy vir elkeen by jou hotel ’n fooitjie gee, vra by ontvangs ’n koevert waarin jy ’n bedrag los wat dan gelykop verdeel word tussen almal wat jou lewe makliker gemaak het. LE20 (R30) per dag is gewoonlik voldoende.

Kos en drank.
Hoewel die kos by die meeste toerisme-ondernemings skaflik is, is daar altyd ’n kans dat jy ’n maagaandoening kan kry. Dis ’n goeie plan om ’n hele rits maagmedisynes saam te neem, asook waterlose handreiniger. Verseëlde gebottelde water is oral beskikbaar – en as jy dit by ’n smous buite die hotel koop, betaal jy gewoonlik halfprys. Drank is buitensporig duur. As jy lus voel vir ’n glasie wyn saam met jou ete, neem ’n paar bottels saam met jou. Jy gaan waarskynlik ’n kurkfooi moet betaal, maar dit sal baie goedkoper wees as om wyn daar te koop. ’n Enkele sopie jenewer kos omtrent R60! Baie toeriste neem ’n klein bottel of heupflessie saam en gooi dit dan skelmpies by hulle tonikumwater (R18). Die plaaslike bier is heerlik. Jy sal sowat R35 betaal vir ’n bottel met 500 ml.

Inkopies.
As jou gids voorstel julle gaan maak ’n draai by ’n papirus-, albaster- of katoenfabriek, of ’n parfuumsalon of enige ander winkel, wys dit vriendelik van die hand, want dis gewoonlik ’n afpersery tótdat jy iets koop. Gebruik eerder jou vrye tyd om te ontspan of op eie houtjie na sulke plekke toe te gaan. In Kaïro se Khan el-Khalili-mark bestaan nie iets soos ’n vasgestelde prys nie. Kibbel vir ’n vale, anders gáán jy te veel betaal.

Extra aktiwiteite?
Ons het ‘n paar ekstra dinge gedoen wat nie deel was van die pakket nie. Ons lugballonrit oor die Vallei van Konings het ‘n ekstra R1100 p.p. gekos; die begeleide stadstoer van Kaïro R520 p.p.; die toer van die Karnak-tempel in Luxor R230 p.p. en die skubaduik in Hurghada het R450 p.p. vir twee duikslae gekos.

Visums. Suid-Afrikaners het ’n visum nodig om Egipte binne te gaan. Dis gratis as jy self ’n draai maak by die ambassade in Pretoria, maar as dit te ver is, sal jy ’n koeriermaatskappy omtrent R400 per paspoort moet betaal. Doen navraag by jou reisagent.

(Nota: Pryse akkuraat in Maart 2010. Weg het vir alles betaal.)

Lees die volledige storie:

Jon Minster
zoomzoom

Kaïro se Khal el-Khalili-mark is propvol winkeltjies wat alles verkoop van katoenhemde tot bont yskasmagneetjies. Dis 'n wonderlike plek om 'n gevoel van die stad se hartklop te kry.


Egiptologie is nie ’n eksakte wetenskap nie en daar is vele teorieë oor hoe die piramides gebou is (party meer geloofwaardig as ander). Maar dit bly alles net teorieë, want eintlik weet niemand nie.
As ’n mens egter voor die Groot Piramide staan, daar by die enorme rotsblokke van die basis, dan voel dit skielik nie meer so verregaande om te glo dat aliens op ’n manier hierby betrokke was nie. Wiskundig is die hele ding net eenvoudig perfek.

En die beeld in my kop van die piramides wat ver op ’n woestynvlakte lê, is ook daarmee heen, want dit word letterlik omring deur die stad (skaars 100 m verder kry jy ’n Pizza Hut). Tog kan die kruipende stad, die stof, die lastige kameelhanteerders, die hordes Amerikaners met hulle hande voor die oë om die son af te keer, die aandenkingsmouse en die toerbusse wat groot, swart rookbolle uitblaas, geen afbreuk doen aan die ongelooflike grootsheid van dié strukture nie.
Die Groot Piramide, waar die Farao Khufu begrawe lê, is meer as 4 000 jaar gelede gebou. Om ’n bietjie perspektief te kry: Dit was al antiek toe die fondamente vir Rome gelê is. Navorsers reken dit het ongeveer 20 jaar geneem om die 2,3 miljoen kalksteenblokke van gemiddeld 2½ ton elk op mekaar te pak – ’n volle 50 verdiepings hoog.

Gewoonlik kan ’n mens na die grafkamer gaan kyk in een van die piramides. Maar die Groot Piramide is vandag gesluit en ek betaal LE30 (R45) ekstra, maak my klein en kruip af na Khafre se piramide, die naasgrootste een wat deur Khufu se seun gebou is.
Binne ruik die lug klam en muwwerig. Aan die einde van die nou tonnel wat eers skerp daal en dan boontoe loop, beland ek in die grafkamer. Daarbinne is ’n groep mense wat hande vashou en sing. Hulle staan in ’n sirkel om die Farao se leë sarkofaag van rooi graniet. Binne-in lê ’n vrou en staar na die dak terwyl die trane teen haar wange afstroom.
Is dit ’n doodskultus? Dalk ’n pelgrimstog? Ek snak na asem, draai om en kies koers terug in die gangetjie, terug na die klein blokkie lig wat aan die einde wag.
“Welkom terug in die lewe,” sê die wag met ’n wrang glimlag.

Ná ’n bedrywige dag by Kaïro se toerisme-attraksies bevind ek my teen sonsondergang in ’n taxi op pad terug na die piramides toe.
Egipte speel netnou in die eindstryd van die Afrikanasiesbeker-toernooi en ek hoop ek kry ’n eetplek waar ek die wedstryd kan kyk. Saba, die taxibestuurder, wil ook nie die afskop misloop nie; dus swaai hy die rammelkas-Peugeot by ’n systraatjie in en vat kortpad deur ’n begraafplaas. Die grafte glim in die swaelgeel lig van die kar.
Uit my gesprek met Saba lei ek af in Egipte is sokker nie net ’n sportsoort nie. Dis ’n nasionale identiteit, ’n bron van manlike trots en, wel, soms ’n kwessie van lewe en dood. Dit was onlangs die geval toe Egipte in die kwalifiserende ronde vir die Wêreldbeker die knie moes buig teen sy buurman Algerië. Diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande het intussen versuur, en as jy nou die woord Algerië voor ’n Egiptenaar noem, ontplof hy.
Gelukkig speel die nasionale span, die Farao’s, vanaand in die eindstryd teen Ghana – en by die eet- en kuierplekke waar ons verby ry, lyk dinge heel vreedsaam. Ek ontdek ’n heerlike restaurant, Barry’s, naby die piramides waar ek nie net die sokker kan kyk nie, maar ook die klank-en-ligvertoning wat elke aand gehou word. (Dis ’n goedkoop geskiedenisles met laser en kolligte waarin die piramides en sfinks verlig word.) Dit alles terwyl ek weglê aan geroosterde duif en ’n Sakara-bier.
Die Farao’s teken in die laaste vyf minute van die wedstryd ’n punt aan – en Kaïro bars uit sy nate!
Dis Egipte se derde agtereenvolgende Afrikanasiesbeker-sege en ’n soete oorwinning ná die nederlaag teen Algerië (hulle het hulle aartsvyande in die semifinaal met 4-0 geklop). Daar’s Egiptiese vlae net waar jy kyk, by straatkruisings word die vreugdesvure aangesteek en oral spring mense van opgewondenheid op motors se enjinkap. Dit neem Saba ’n uur om die 8 km terug tot by die hotel te ry.
Die musiek en vreugdeskrete hou tot diep in die nag aan.

Doen dít in Kaïro…
Jy sal ’n maand nodig hê om Kaïro behoorlik te verken. Die antieke Egiptiese geskiedenis vorm net ’n klein deel van die stad se storie. Daar’s ook die verhaal van die vroeë Koptiese Christendom, Moslem-geskiedenis, die Afrika-invloed en die moderne Midde-Oosterse politiek.
Drie plekke waar jy beslis moet uitkom, is die Egiptiese Oudhedemuseum (die Tutankamen-vertrek en dieremummies is die hoogtepunte), die Hangende kerk (een van die vroegste Koptiese kerke wat in die 9de eeu op ’n Romeinse fort gebou is, vandaar die naam) en die uitgestrekte Khan el-Khalili-mark (Kaïro se hooftoeristemark waar kibbeling omtrent al ’n avontuursport geword het).

Maak toe
Jon Minster
zoomzoom

Die meeste bote wat op die Nyl vaar tussen Aswan en Luxor lyk eenders. Hulle meer langs mekaar vas, en jy stap deur beide bote se kajuite om by die rivieroewer uit te kom.


Ek was effens senuagtig oor die befaamde Nylvaart – bang ek beland saam met ’n groep afgetrede Amerikaners wat die heeltyd terwyl ons verby die antieke tempels vaar, simpel vrae vra, soos: “Hoe op aarde het hulle dié goed gelig gekry?” (Of dis wat ek verwag het nadat ek Paul Theroux se Dark Star Safari, oor sy vaart op die Nyl, gelees het.)
Gelukkig werk dit toe heeltemal anders. By die lughawe in Aswan, Egipte se suidelikste stad sowat 900 km van Egipte af, word ek ná ’n vlug van ’n uur en ’n half deur my eie gids ingewag. Ahmed El Prince is ’n hip 25-jarige outjie met ’n blou jean en Dolce & Gabbana-donkerbril, en hy vra dadelik of hy my vriend kan wees op Facebook.
Hy kom saam op die luukse Nylboot die Semiramis II – hy sal my meer vertel oor die verskillende tempels en monumente waar ons verbyvaar, én enige ander aktiwiteite reël waarin ek dalk sou belang stel. Al wat ek moet doen, is om die drie daaglikse buffetetes te oorleef en seker te maak ek word soggens betyds wakker.

Voordat ons aan boord stap, vat Ahmed my na die Hoëdam, ’n ambisieuse projek uit die jare sestig wat met Sowjet-geld gebou is: Om die seisoensvloede in die Nyl stop te sit is die reusagtige Nassermeer gebou wat suid tot in die Soedan strek. In die proses is ’n groot stuk grond uitgewis van die Nubiërs, mense van die suide met ’n geskiedenis wat ewe indrukwekkend is as dié van die antieke Egiptenare. Deesdae is hulle egter meestal bootbestuurders of ekstras by die Nubiese Dorpie, ’n toeriste-attraksie in Aswan waar ek maar eerder wegbly omdat die gedagte daaraan my ongemaklik maak. Talle van die mense is na die Soedan verskuif.)

Die Semiramis se dek is dié plek om te wees.
Ek sit en teug aan ’n tonikumwater met ’n skeutjie jenewer wat ek ingesmokkel het. Verby my dryf stukkies van die gewone Egiptiese lewe verby: seuns wat sokker speel, vissermanne op kano’s, osse wat ’n ploeg trek, kamele wat tussen palmbome ronddrentel, en vaal berge wat in die dag se laaste strale ’n goue skynsel kry.
Maar my gedagtes is elders, verlore in ’n magdom van nuwe feite.

Die afgelope twee dae was ons by drie ongelooflike tempels. Daar was Philae in Aswan, wat in 140 000 stukke opgebreek en na ’n nuwe eiland verskuif is toe die Hoëdam gebou is. Dan was daar Kom Ombo, ’n dubbele tempel ter ere van die valkegod Horus en Sobek (met die krokodilkop), god van vrugbaarheid en skepper van die lewe. En vanoggend was ons by Edfu, ’n struktuur uit een rotsblok wat 2 050 jaar nadat dit gebou is, nog grootliks ongeskonde is.
Dit was soos Egiptologie 101. Ahmed het hom goed van sy taak gekwyt toe hy die ingewikkelde godsdiensteorie en ’n hele rits gode opgesom het in bondige, maklik verteerbare brokkies inligting.
Al drie die tempels dateer uit die Grieks-Romeinse tyd, wat beteken hulle is die helfte so oud soos die piramides, maar glad nie minder indrukwekkend nie. By meer as een geleentheid terwyl Ahmed vir ons die detail op ’n kolossale pilaar verduidelik, kon ek omtrent nie anders nie as om Theroux se toeriste te eggo: “Hoe op aarde het hulle dié goed gelig gekry!”:

By Kom Ombo het ek in ’n antieke Nylmeter afgekyk, ’n putagtige struktuur wat gebruik is om vas te stel wat die seisoensvlakke van die water is. Sodoende kon hulle uitwerk hoeveel belasting mense moes betaal wat aan die oewer woon en boer. Hier is glo ’n krokodil aangehou – mense het hom aanbid en vir hom net die beste vleissnitte gegee. Die antieke Egiptenare het dikwels diere waarvoor hulle bang was, aanbid – dit was ’n soort geestelike versekeringspolis. Teen die een muur was daar ook uitbeeldings van mediese instrumente: tange, skalpels en toetspenne wat ontwerp is vir groot operasies. Ek is net weer getref deur presies hoe gevorderd dié gedoemde beskawing moet gewees het.
Ek dink aan al dié dinge terwyl die Semiramis net suid van Luxor intrek om vas te meer, maar my aandag word vinnig afgetrek deur die heerlike geure wat van die eetkamer hier onder af boontoe sweef.
Kan ’n mens nou lekkerder kry? Dryf ’n rukkie, eet, staar na ’n ruïne wat herrys het. Ek kan baie maklik net hier omdraai, terug Aswan toe vaar en dit weer ’n slag doen.

Dis halfsewe die oggend. Die son is skaars oor die oosoewer van die Nyl en baai die Vallei van die Konings in ’n dieporanje gloed.
Maar dis een, twee, drie en hy verander van oranje na skelgeel en dan spierwit. Ek is 500 m in die lug, in ’n warmlugballon, en verstaan nou hoekom die antieke Egiptenare die songod, Amun-Ra, meer as al die ander gode aanbid het.
Terwyl ek by die mandjie uitloer, sien ek hoe die berge en bouvalle onder my van pers verander na ’n sanderige beige kleur.
Die warmlugballon was Ahmed se idee. Dis nie ingesluit by die prys van die pakket nie, maar teen R1 100 (US$140) kos dit skaars ’n derde van wat ’n mens in Suid-Afrika sal betaal. En dis lag-lag die beste manier om die Vallei van die Konings en die aanliggende Vallei van die Koninginne te sien.
Tutankamen se grafkelder is die bekendste een in die vallei, maar net omdat dit relatief onlangs, in 1922, ontdek is deur die argeoloog Howard Carter – heeltemal ongeskonde. Al die ander grafkelders is oor die eeue heen geplunder… ’n mens kan maar net wonder hoeveel skatte eens op ’n tyd daarin versteek was. Tutankamen was ’n onbeduidende koning wat dood is toe hy net 19 jaar oud was. Eers is geglo die hoëpriester Ay het die jong koning vermoor en toe die troon wederregtelik ingeneem, maar die jongste DNS-ontledings van Tutankamen se mummie toon sy dood is veroorsaak deur ’n kombinasie van ’n skaars genetiese beenkwaal en malaria.
Maar selfs sieklike seunskonings word die lewe ná die dood nie gespaar nie, en die ontdekking van sy ongeskonde grafkelder met die ongelooflike skatte daarbinne het koning Tut wêreldwye roem besorg. Die storie het nóg sappiger geraak toe ’n paar mense in Carter se span skielik dood is nadat die grafkamer leeggemaak is. Destyds het die koerante geskryf oor ’n sogenaamde Vloek van die Farao’s, maar wetenskaplikes meen dit was net ’n mite. Tog wil ek eintlik dit graag glo, dalk oor al die Indiana Jones-flieks wat ek as kind gekyk het.

Later, wanneer ons die Vallei van die Konings op die grond besoek, bevind ek my in ’n lang ry toeriste wat stadig deur koning Ramses I se grafkamer beweeg. Anders as die hiërogliewe teen die tempel se mure, wat aan die elemente uitgelewer is, het die hiërogliewe hier teen die mure en dak van die grafkelder hulle oorspronklike kleur behou. Niemand sê ’n woord nie – net hier en daar sien ’n mens ’n paar monde wat oophang in verwondering.
Ná die Vallei van die Konings vat Ahmed my na die Tempel van Hatshepsut. Hatshepsut – ’n lekker ou tongknoper wat ná twee biere totaal onuitspreekbaar word – was een van die min vroulike Farao’s en een van die suksesvolstes. Tot vandag toe beskou argitekte haar doodstempel, wat aan die kant van ’n berg uitgekerf is, as een van die merkwaardigste geboue ter wêreld.
Teen die tyd dat ons by Luxor se Karnak-tempel uitkom, is dit al laat in die dag. Dis oor ’n tydperk van 2 000 jaar gebou en vandag nog onvoltooid. En dit word beskou as die tempel der tempels. Maar nou raak alles vir my effens oorweldigend – die pilaarwoud wat die lug in skiet; die laan van sfinkse; die langste antieke obelisk wat nog staan, gekerf uit ’n enkele blok rooi graniet. (“Hoe op aarde…”)
Ahmed kom agter ek bly nie meer so lekker by nie en stel voor ons gaan na sy gunstelingtempel toe: Die tempel van Coca-Cola, waar ons ’n welverdiende blaaskans kan vat.

Maak toe
Jon Minster
zoomzoom

Die noordelike Rooisee is 'n skubaduiker se droom. Hier ontspan twee duikers op die duikplatform voor die halfuurlange bootrit van Giftun-eiland terug na Hurghada.


’n Mens ry omtrent vyf uur van Luxor af Hurghada toe, ’n vakansiedorp aan die Rooisee. Ek groet vir Ahmed en die Semiramis en spring op nog ’n wit minibus.
Die pad loop oos, weg van die groen oewers van die Nyl af. Nou ry ons oor ’n verskroeide woestyn waar granietberge soos tande op die horison staan. Dit lyk ’n bietjie soos die suide van Namibië, maar feller. Hier is niks water nie, en ’n mens verstaan hoekom die antieke Egiptenare die lewegewende krag van die Nyl aanbid het. Niks groei hier nie, selfs nie ’n eensame palmboom nie.
Daarom voel dit vreemd as ’n mens skielik ’n strook diepblou see sien, mooi versier met groen koraalriwwe en seiljagte wat aan hulle ankertoue ronddobber.

Ek het ’n bespreking by ’n oord net suid van Hurghada. Hoewel die oord self skoon en gerieflik is met alles wat ’n mens nodig het, is Hurghada nie ’n mooi plek nie. Ek weet nie mooi of dit die resessie se skuld is nie, maar dit lyk asof alle bouwerk net skielik gestaak is – die doppe van halfklaar woonstelblokke en oorde staan soos skelette in die sand.
Dit lyk of Egipte se konserwatiewe sedes ook die pad gevat het: Slonsige kroeë en neonverligte nagklubs staan die hele strandfront vol – ’n ongewone gesig in ’n Moslemland. Hurghada lê ook reg in die pad van die tierende noordoostewind, wat die lug spierwit inkleur met stof en van ’n stranduitstappie ’n taamlik onaangename ervaring maak – dit voel of die sand jou vel stadig maar seker wegskuur.

Eintlik is daar net een rede hoekom ’n mens hierheen kom: om te skubaduik.
Die Rooisee is een van die beste duikbestemmings ter wêreld – hier val baie min reën en daar’s nie riviere wat die water vertroebel nie; dus is die sigbaarheid gewoonlik meer as 40 m. (Dis die soort sigbaarheid wat ’n mens hoogstens twee keer per jaar in Mosambiek of KwaZulu-Natal sal teëkom.) En omdat die Rooisee se kus so yl bevolk is met beperkte visvangs, is die seelewe manjifiek.
Hurghada wemel van duikoperateurs. Jy kan ’n kursus doen en dan ’n dag lank gaan duik óf ’n paar nagte op ’n boothuis deurbring – dan kom jy by meer afgeleë en skouspelagtige duikplekke uit. En selfs vir Suid-Afrikaners is dit heel bekostigbaar (lees die kassie hiernaas).

In die loop van twee dae gaan duik ek vier keer in en om die Giftun-eilande. Elke keer as ek uit die warm, kleurryke wonderwêreld onder die branders opkom in die ysige wind en woestynlandskap om my, dan wens ek ek kan weer afgaan en net daar bly.
Yasser Bahaa, die gesellige Egiptiese duikinstrukteur aan boord van die Sea Dream, verseker my die slegte weer is ongewoon vir dié tyd van die jaar. In die somer kan jy op die dek lê en sonbaai en tussen duikslae ’n bietjie snorkelduik, maar vandag bondel al die passasiers saam in die kajuit en wag vir die volgende duikslag.

Dis my laaste dag in Egipte.
Daar’s nog een buffetontbyt oor en dan wag ’n lang vlug huis toe vanaand. Die stikstof van die duikery het in my bloedstroom opgelos, my kamerakaarte het niks meer plek nie, en my notaboeke is vol los sinne oor Farao’s, dieregode en vreemde rifvisse. En ek het ’n nuwe Facebook-vriend.
Tog voel dit of ek maar net op die oppervlak rondgekrap het. Egipte is ’n land waarheen ’n mens eenvoudig moet terugkom, en wanneer Egyptair se vlug 839 skuins draai en Kaïro se liggies onder my verskyn, wéét ek ek sal so maak.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 11 Mei 2010 | 11:04:29

Hallo Ek stel baie belang in bogenoemde Egipte toer. Kan u moontlik vir my die datums deurgee? Dankie Cecile Kriek

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek