Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Reservaat: Moolmanshoek


In die verte is Visierskerf, so genoem omdat die keep in die berg soos "n geweer se visier lyk.
zoommore

In die verte is Visierskerf, so genoem omdat die keep in die berg soos 'n geweer se visier lyk.

By Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat kan 'n mens iewers tussen die doendinge en die grootste stilte weer jou siel vind.

Moolmanshoek 101

Kampeer: Hier is kampplek op Langesnek wat meestal gebruik word vir groter groepe soos skoolkampe en gaste by troues. As jy mooi vra, behoort hulle gesinne te huisves.

Koste: R85 p.p.p.n.

Ander verblyf:
By Langesnek is kamers vanaf R150 p.p.p.n. (sonder linne). By die lodge op Moolmanshoek begin die pryse by R615 p.p.p.n. Dit klink duur, maar dit sluit ontbyt én ’n heerlike aandete in. Kinders onder 12 kan op ’n matras by die ouers in die kamer slaap teen R300 per kind.

Elektrisiteit:
Ja. Bring net jou eie verlengkoord as jy kamp.

Selfoonontvangs:
Vodacom en MTN het op party plekke ontvangs.

Braaigeriewe:
Ja.

Troeteldiere:
Nee.

Ure:
Kantoorure is tussen 8 vm. en 4 nm. en die hoofhek is dag en nag oop.

Kontak:
www.moolmanshoek.co.za;  051 933 2220;  082 788 6623

Hoe kom ek daar?
Van Johannesburg af vat jy die N1 Kroonstad toe. Draai by Kroonstad links op die R76 Steynsrus toe. By Steynsrus draai jy regs Senekal toe. Ry deur Senekal op die N5 na Bethlehem. Ongeveer 5 km anderkant Senekal draai jy regs op die R70 na Ficksburg-Rosendal. Draai 10 km duskant Rosendal links op die grondpad Moolmanshoek toe.  Hou dan net ongeveer vir 7,5 km aan en jy’s by die reservaat se hek.
GPS-koördinate: 28 37’58 S 27 59’56 E

En wat nog?
As jy ’n ernstige drawwer is, kan jy aan die Vierpieke-wedren deelneem. Dié roete loop oor die Piramides, Jacobsberg, Visierskerf en Sekonyelashoed. Die roete is 24 km lank en vind die naweek van 25-26 September plaas. Stuur vonkpos na saffyav@icon.co.za.
• Vlieghengel kos R30 per stok op ’n  vang-en-vrylaat-basis. Jy kan baars en karp vang.
• Abseil by Langesnek kos R100 p.p.
• En les bes, as dit te warm raak, gaan swem in die swemdam. 

Doendinge by Moolmanshoek:

Lawrette McFarlane
zoomzoom

Van ervare ruiters tot totale nuwelinge sal 'n perd kry om te ry. As jy nie kans sien nie, kan jy agterop 'n perdekar wildkyk.


Rosemary Fourie en Lorraine Lourens kry ons by ontvangs. “Hoe ervare is julle in die saal?”
Ek trap rond... Perdry is nie by my tweede natuur nie.
Dit help ook nie dat ek vir Pelgrim, ’n forse boerperd, kry nie. Ek klouter maar op.
“Hier is 350 perde,” vertel Lorraine, ’n jeugwerker wat met die perde help as hier nie jeugkampe aangebied word nie. “Sommige is heeltemal wild en ander word gebruik vir ry en teel.”

Ons stap verby ’n troppie elande. Hulle hou ons fyn dop... Dit voel asof hulle ons wantrou.
Rosemary, ’n  perdewetenskaplike, het praktiese ervaring hier kom opdoen, maar sy het dit só geniet dat sy besluit het om in die reservaat te bly.
Springbokke en blesbokke wei in troppe van 20 tot 40, en ’n  paar volstruise hang ook rond.

“Sal ons galop?” vra Rosemary.
My eer is groter as my vrees en ek stem in. Ek sukkel. Ek is nie naastenby so elegant soos prins Charles in sy polodae nie, maar ek val gaandeweg in ’n (soort van) ritme... Wiesman Nel, Willie se seun, probeer raad gee met “make love to the saddle”.
Ons kom tot stilstand by die Mini-Serengeti, ’n grasvlakte waar diere in massas saamtrek. In die verte sien ons honderde gemsbokke, springbokke, swartwildebeeste, volstruise en elande.

Koste: R100 per uur. Jy moet self onderhandel of jy ’n een- of veeldagrit wil doen.
Weg sê: Wees gerus: Hier is wildritte in ’n voertuig teen R100 p.p.

Maak toe
Lawrette Mcfarlane
zoomzoom

Hulle is lief vir die sonnetjie, maar veiligheid kom altyd eerste.


Shelton Kanyoka laai ons vroegoggend by die lodge op. Hy werk al drie jaar hier en is van Zimbabwe, waar hy ’n gids was vir filmspanne van National Geographic.

Hier is agt meerkatkolonies op die plaas en die een wat ons gaan besoek, het 11 volwasse meerkatte en 8 kleintjies. Ons stop ongeveer 20 tree van die kolonie af. ’n  Paar meerkatte hou wag vir die res van die kolonie. “Hulle kom uit vir die son, mits alles veilig is. Hulle verloor snags baie liggaamshitte in die tonnels,” vertel Shelton. Smiddae kom skep hulle die laaste sonstrale voordat hulle gaan inkruip.
“Die groep word meestal gelei deur ’n dominante wyfie. Net een paartjie teel. As die ander meerkatte wil paar, moet hulle die ko-lonie verlaat en hulle eie begin.”

Koste: R100 p.p.
Weg sê: Die meerkatte is tog te oulik. Jou kinders sal vir ewig die “remote” vir jou aandra as jy vir
hulle dié gaan wys.

Maak toe
Lawrette Mcfarlane
zoomzoom

Stap net sowat 40 minute bergop dan kyk jy van Aunt Mitchell se grot oor die hele reservaat uit. Hier het die tannie haar middagtee kom geniet in die dae toe sy op die plaas gewoon het.


Die 1,4 km lange stappie tot by Aunt Mitchell’s duur sowat ’n  halfuur. Volg net die bordjies van ontvangs af – as jy dit nié doen nie (soos ons), gaan jy onnodig sukkel.
Dis ’n stywe klim oor klipperige terrein, maar dis absoluut die moeite werd. Die uitkykpunt van Aunt Mitchell’s af bied jou een van die heel mooiste uitsigte op die plaas.

Hier is ook veeldagroetes vir ernstige stappers wat Visierskerf wil tem: Jy kan die Waterkloof-roete oor 2 (21 km) of 3 dae (33 km) stap. Dis R114 p.p.p.d.
Slaapplek is in kamers op die buurplaas Langesnek.
Die Sfinks-roete van 15,3 km is ’n tweedagroete. Dit sluit ’n  deel van die Waterkloof-roete in.

Kontak: 0861 522 262
Weg sê: Stap vroegoggend voordat die son jou te veel opkeil. Smeer nogtans sonroom en vat jou hoed.

Maak toe
Lawrette Mcfarlane
zoomzoom

Moolmanshoek is vier keer deur Weg se sustertydskrif WegRy as een van die toptien-4x4-bestemmings in die land aangewys.


“Doen dit eerder oor as wat jy dit oordoen,” sê Niklaas vir my toe ons teen ’n besonderse steil bult uitry. As jy voor jou kyk, sien jy net blou lug. Onder jou hoor jy die wiele spartel om vatplek te kry aan die rots. “Dis wat ek by oom Francois Rossouw van RSG se 4x4-klub geleer het.”
Wiesman sit met ’n gipsbeen op die voorsitplek terwyl Niklaas sy bakkie bestuur. Hy het ’n paar weke gelede onder ’n perd beland en sy been gebreek. Hy lyk min gepla.
Ek, daarenteen, is angsbevange. Ek is nie seker waarheen ons op pad is nie; al wat ek weet, is dat ons teen ’n  duiselingwekkende steilte sit.
Dit voel nie vir my asof ’n  kar veronderstel is om teen so bult te kan opry nie. Die bakkie klouter egter halsstarrig en stadig teen die rotswand op. En dan is ons bo. Dankie tog!

Hier is vier roetes op die plaas. Ons ry die Kloofroete, en volgens Wiesman is dit ’n graad 3-roete. Roetes gaan tot by graad 5, maar vir die deursnee-ou met ’n bietjie ervaring is graad 3 net reg. “Maar dit hang af of dit reën of nie, want dan raak dit graad 4...”
Ons ry teen nog ’n skerp hang uit terwyl ’n klomp van die plaas se perde langsaan verbygalop. Dis inderdaad ’n spektakel – jy hoor net hoewe klap en perde runnik. En dan is ons op ’n effense plato en kyk uit oor die hele vallei. Pragtig.

Koste: R200 per dag per voertuig. Bring jou eie 4x4.
Weg sê: As jy die Kloofroete ry, onthou tog om op pad terug by die Showerpool te stop. Die water is heerlik koud en hier is ’n waterval waar jy kan stort.

Maak toe
Lawrette Mcfarlane
zoomzoom

Die meer as 1300 stuks wild kan te voet, te perd, te perdekar of te voertuig besigtig word.


Die lug ruik na nat grond. Donderwolke rammel en vet reëndruppels plons op die gras, die blare, die dakke. Die wind ritsel saggies deur die bome. En al is hier glo meer as 230 voëlsoorte in Moolmanshoek, hoor jy nie ’n enkele een tjirp nie.

Ek staan op die stoep van dié private reservaat se lodge. Ondanks die reën is dit warm: ’n soel, amper betowerende somerreën.
Visierskerf (2 407 m), deel van die Witteberge en op twee na die hoogste bergreeks in die Vrystaat, staan statig na regs in die reën. Voor my, by die twee Piramides en Jacobsberg, sny ’n wit bliksemstraal deur die lug.
Al is daar baie te doen in die reservaat, is dit oomblikke soos dié dat Moolmanshoek jou boei.

Die baas van die plaas, Willie Nel, het Moolmanshoek in 1996 in ’n natuurreservaat omskep, vertel Niklaas Arangies, wat met Willie se dogter Isabel getroud is.
Hy neem ons op ’n wildrit. Niklaas was eers ’n oogkundige, maar het besluit hy wil sendingwerk doen. Hy het Isabel op die plaas ontmoet toe hy hier kom “kop skoonmaak het” en nou woon hulle op Langesnek, een van die buurplase.
“Willie is visioenêr,” sê hy. “Toe die implementepakhuis (deesdae die lodge) destyds afbrand en die dak op die implemente instort, het hy besluit om ’n reservaat op die been te bring.”
Mense was skepties, maar nou is die plaas van 330 km2 ’n private reservaat. “Eers is hier met skape en beeste geboer – nou boer ons met perde en mense,” sê Niklaas.

Hier is 1 300 stuks wild — 14 soorte, waaronder elande, volstruise, swartwildebeeste, Burchell se kwaggas en springbokke.
Hier is ook perdryroetes en meer as 350 perde, 4x4-roetes (wat vier keer deur Weg se susterstydskrif WegRy onder die toptien-4x4-bestemmings in die land aangewys is) en staproetes (een- en veeldagopsies).
Verder is hier ’n meerkatteelprojek, ’n lokaal waar mense trouonthale hou en ’n terrein vir spanbou en skoolkampe by Langesnek. Én dan kan jy nog Boesmanteke-ninge kyk en kunsvlieghengel.

Die plaas is genoem na die eerste eienaar van die Moolmanshoekvallei: Petrus Lafras Moolman. Toe hy in 1904 oorlede is, het sy vier seuns die Moolmanshoekdeel verkoop.
Die Moolmans se nalatenskap is nog duidelik te sien op die plaas: Twee sandsteenmure skei ’n deel van die grond – twee van die Moolman-broers het glo só hewig baklei dat die deel tussenin as niemands­land geproklameer is. Diere wat hier gewandel het, is glo summier geskiet. Willie het Moolmanshoek in 1980 by sy skoonpa gekoop.

Van Aunt Mitchell’s af kan jy omtrent die hele reservaat sien.
Dié grotjie in ’n voetheuwel van Piramide 1 (jip, dit lyk nes ’n  piramide) is waar Dora Mitchell, vrou van een van die vorige eienaars, “high tea” kom geniet het.
’n Mens sien gou hoekom sy dié plek gekies het: Die plaas lê in ’n  kom voor jou met die Witteberge wat ’n lang arm om die vallei gooi. Die wild lyk soos spikkels doer onder in die vlaktes. Selfs die elande lyk soos speelgoeddiertjies.

Dis seweuur die oggend en die son piets al. In die hitte staan groen wildeperske-, ouhout-, wasbessie- en withoutbome. Na regs, in die verte, is die ontvangsgeboutjie, waar ons nou-nou ’n spek-en-eier-ontbyt gaan eet.  Ná jare se veeboerdery is die veld gerehabiliteer en lyk dit nou baie soos in Aunt Mitchell se tyd (sonder die leeus, natuurlik).  Ja, dié plek se hart is nog wild.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek