Botswana: Kamp in die hart van die Delta
Om die kanale, eilande en natuurlewe van Botswana se Okavango-delta behoorlik te beleef, moet ’n mens diep in die delta gaan kamp. Jy hoef egter nie dollars te verdien nie – daar is ’n paar kampe wat Suid-Afrikaners kan bekostig.
Kagiso, ons gids, buk oor ’n spoor in die fyn, grys sand en fluister: “Leeus! Baie vars!”
Ek loer bekommerd na die skouerhoogte bossies rondom ons. Niks. Kagiso en die ander gidse hier by Oddballs’ Lodge dra nie gewere nie. Hulle maak staat op hulle boskennis om situasies soos dié in die Okavango-delta te hanteer.
Ek sluk en probeer diep asemhaal, maar dit voel of tien pare geel oë na ons staar. “Kyk, hier het hulle ons gehoor en begin hardloop,” wys Kagiso na ’n duidelike spoor, amper so groot soos my oop hand. Hy sny die spoor nog ’n paar meter verder. “En hier het een van die twee weggedraai.”
Ons staan op ’n eiland, een van meer as ’n duisend wat elke jaar vorm wanneer miljoene der miljoene liters water van die Angolese hier na Botswana stroom. Die Okavango het geen mond na die see nie en die water verdamp stadig tot die grootste gedeelte teen Oktober weer droog is.
Kagiso het my en die fotograaf Lawrette McFarlane met ’n mokoro, ’n uitgeholde boomstam-kano, na die eiland gebring.
Gister het vier Spanjaarde wat ons by Oddballs’ ontmoet het trots met hulle leeu-foto’s gespog. Ons het jaloers ge-oe en aa.
Maar nou is ek nie meer so seker of ek te voet ’n leeu wil raakloop nie...
Botswana is ’n uitgestrekte land en die meeste paaie is in ’n uitstekende toestand. Ek en Lawrette het gemaklik met Weg se Toyota Condor teerpad gery tot op die dorp Maun in die noorde, omtrent 1 500 km vanaf Pretoria.
Vanaf Maun gaan ons nou na Oddballs’ Palm Island Luxury Lodge vlieg, waar vier nagte in die hartjie van die delta vir ons wag. Vlieg is die enigste manier om in die vloedseisoen by Oddballs’, omtrent 75 km noord van hier, uit te kom.
By die klein boslughawe op Maun styg daar elke paar minute ’n ligte vliegtuigie met toeriste op. ’n Paar minute later is ook in die lug. Onder ons skuif ’n eindelose netwerk waterkanale en groen riete verby.
In die skommelende vliegtuigie eis die hitte amper ’n slagoffer. “Ek voel nie lekker nie,” kreun Lawrette met druppeltjies sweet wat op haar voorkop pêrel. Twintig minute later land ons op ’n grond-landingstrook. Net betyds...
Ek hou julle dop...
Ons gasheer, Jack Drew, wag ons met ’n breë glimlag by die “aankomsaal” in – ’n boom waarteen ’n buffelskedel en ’n bordjie wat lees “internasionale vertreksaal” vasgemaak is. Langsaan staan ’n brandblusser en emmers sand.
“Daar was vanoggend olifante op die aanloopbaan,” vertel Jack. Hy en sy vrou, Eve, is oorspronklik van Dalton in KwaZulu-Natal en bestuur Oddballs’. “Wanneer dít gebeur, vlieg die vlieënier net laag oor die diere se koppe om hulle skrik te maak en probeer dan weer.”
In hierdie deel van Afrika waar superluukse verblyf so volop soos rooibokke is, is Oddballs’ een van net ’n paar kampe waar jy nog kan uitspan sonder pakkies dollarnote in jou koffer. Jy bly in doodgewone seiltente op houtdekke en deel badkamers.
Toe Lawrette weer kleur in haar wange het, vertrek ons saam met die ander gaste op ons eerste mokoro-uitstappie. Elke twee gaste kry hulle eie gids wat jou in sy mokoro rondneem. Ons s’n is Kagiso Molefe, die outjie met die breë glimlag wat voorop Oddballs’ se brosjure pryk. Die gids dryf sy mokoro met ’n paal aan – ’n soort Okavango-gondel.
Die gidse stop ’n kwartier later by ’n eilandjie so groot soos ’n heliblad. Enkele treë voor ons in die water lê ’n krokodil van oor die drie meter lank! Hy hou ons stip dop.
“Hy het ons gehoor en toe in die water gegly,” beduie ’n gids. “Jy kan aan die sleepmerke sien hy het hier gelê waar ons nou staan.”
Daar’s ’n luiperd op my stoep
Terug by Oddballs’ neem ons laatmiddag stelling in op die uitkykdek bo die eetkamer. Drie kameras op driepote kiek die son wat bloedrooi ondergaan.
Vier seekoeie maak beurte om hulle kop bo die water uit te steek en onder ons dartel ’n visvangertjie deur die riete. Bobbejane begin oorkant die kanaal te skree, terwyl ’n reënvoël êrens in die appelblaar agter my roep-roep-roep. Later word die seekoeie se snorkery deur die duet van ’n visarendpaar aangevul.
Jack loop deur die kamp om die fakkels langs die paadjies aan te steek, amper soos in Survivor. Dit voel nogal of ons aan ’n stamvergadering deelneem wanneer ons vlak langs die water om die vuur kuier.
“Die seekoeie is op my payroll tot agtuur,” sê Jack toe die seekoeie klokslag agtuur ophou snork. “Daarna moet ek hulle oortyd betaal en dis te duur.”
Hy vertel ons ook van sy voorganger se ervaring hier met ’n luiperd, amper nes Oom Schalk Lourens s’n in Herman Charles Bosman se storie In the Withaak’s Shade.
“Die man het omtrent drieuur die oggend nog in die sithoekie gesit en lees toe ’n luiperd ingestap en op die sementvloer kom lê het. Vir ’n uur lank het my voorganger tjoepstil gesit; te bang om ’n bladsy om te blaai. Toe het die luiperd opgestaan en net so stilletjies weer verdwyn.”
Eiland vir drie
Ek word wakker van die gerommel van donderweer, of so klink dit. Dis Elijah die olifant wat deur die kamp loop en elke palmboom skud om die vruggies in die hande te kry. Gisteroggend moes een van die Spaanse toeriste maar knyp, want Elijah het sy pad na die badkamer versper.
“Het jy lekker geslaap?” vra ek buite in die paadjie vir Jack.
“Hier? Altyd!” antwoord hy.
Ons hou ’n Italiaanse paartjie dop wat suutjies op ’n mokoro deur die riete verskyn. Hulle het twee aande in die bos gekamp. En dis wat ons ook vanaand en môreaand gaan doen.
“Ons het die leeus gesien!” roep die Italiaanse vrou. Nou’s dit ons beurt. Twee tente, matrasse, lanterns, twee koelbokse, ’n graaf, drie stoeltjies, ’n skottel en ons klere word op die mokoro gestapel.
Vir twee uur druk Kagiso sy “ngashi” (paal) teen die bodem van die kanale vas om ons met ritmiese hale amper geruisloos deur die water te stoot. Ek sit voor, plat op ’n ou stoelsitplek op die mokoro se boom, met Lawrette agter my en dan volg ons pakaas. Heel agter staan Kagiso doodluiters. Of so lyk dit, maar aan sy oë wat heen en weer flits, kan ’n mens sien hy is op sy hiperste hoede vir seekoeie.
Die boot se punt kloof die gras voor ons oop en dan vou dit weer agter ons toe asof niemand ooit hier gevaar het nie. Lelies lê soos Pacman-mannetjies in die plate water rondom ons.
“Dis nie moeilik om in die delta te verdwaal nie,” breek Kagiso die stilte, “maar ek gebruik die termiethope as rigtingwyser. Hulle wys altyd effens noord.”
Ons is nou binne die Moremi-reservaat en slaan kamp op op Witeiland, wat omtrent so groot soos ’n krieketveld is. Dis so genoem omdat die sand hier baie wit is, soos maar oral in die delta. Kagiso inspekteer die plekkie en kom terug met ’n stel koedoehorings.
“Die koedoe is deur die leeus gevang,” verduidelik hy. Die horings word terstond die toiletrolhouer en kry ’n ereplek langs ’n seekoei-onderkaak, kameelperd-skedel, twee skilpaddoppe en ’n olifanttand wat Kagiso-hulle vorige kere opgetel het.
Ek tel die tand op; voel die gewig. Dis die eerste keer wat ek ivoor in my hande hou.
Noue ontkomings
Dis heeltemal anders om in die veld rond te stap as om op ’n wildrit te gaan. Jy voel maar weerloos en klein. Jou sintuie verskerp sodat die geringste geritsel jou laat omspring.
Kagiso wys vir ons die wildesalie wat sy stam as muskietweerder gebruik en ons sien ’n trop rooibokramme en ’n bruinslangarend. En natuurlik die leeuspore...
Dan vertel Kagiso van daardie aand twee jaar gelede: Sy neef is deur leeus opgevreet...
Hyself het al ’n beneukte leeu twee meter voor hom in die oë gekyk. Die Amerikaanse toeriste wat by hom was, het gehardloop dat hulle klein word en Kagiso moes ’n uur lank spoorsny om hulle weer te kry.
“Ons is baie versigtig, want elke jaar is daar ’n voorval in die delta,” sê hy. Oddballs’ het gelukkig nog net een ‘insident’ gehad. Een van die gidse het ’n seekoei verras wat toe ’n gat in die mokoro – en ’n toeris se been – gehap het.
Slaaptyd. ’n Skopsuiltjie prrrup-prrrup bo ons koppe en twee verskillende paddakore ding mee om die hardste te kwaak. In die verte brul ’n leeu.
“Julle moet die tent se vensters toemaak,” sê Kagiso toe ons gaan slaap. “Die leeus kan julle sien beweeg en kom ondersoek instel. Die gaas is nie so sterk nie.”
Hoe lyk ’n heel hoender?
Kagiso het op 16 tering gekry en toe hy ná sy behandeling wou teruggaan skool toe, was daar nie meer plek nie. Toe het hy ’n gids geword.
Om by Oddballs’ te werk, moet jy jou eie mokoro hê. Kagiso het syne vir 2000 pula (R2 700) gekoop. Dis van ’n worsboom gemaak en het ses maande geneem om te kerf. By die meeste ander kampe word veselglas-mekoro gebruik sodat minder bome afgekap hoef te word.
Wanneer ’n mens op die eilande gaan kamp, vat die gids jou elke oggend vroeg uit met die mokoro om te gaan stap. Dan kom eet jy brunch, slaap ’n bietjie of lees en gaan stap dan laatmiddag weer.
Ons moes vanoggend twee keer van rigting verander toe Kagiso ’n trop olifante gewaar het. Voor ons die middag gaan stap, slaan Kagiso met die graaf teen ’n klip. ’n Mens hoor net water plas soos die olifante verskrik wegbeur.
“Ek wil nie hê hulle moet te naby aan ons eiland kom nie,” sê hy. “As ek so slaan, klink dit vir die olifante soos ’n geweerskoot. Hulle sal nie gou weer terug wees nie.”
Ons gaan stap op Kremetarteiland en sien kameelperde en sebras en kry ’n vlakvark se slagtand. “’n Kameelperd sien baie goed – tot twee kilometer ver,” vertel Kagiso. “Hulle skop ook goed sodat hulle hulself teen leeus en luiperds kan beskerm.”
Die aand braai ons braai steak en maak gevulde botterskorsie vir aandete. “Die Amerikaners weet nie hoe om oor ’n vuur kos te maak nie,” sê Kagiso. Een vrou was glo baie verbaas toe sy die heel hoender gesien het wat Eve gewoonlik saamgee. “Ek het nie geweet hoender lyk so nie,” het sy gesê.
Die leeus brul bitter naby. “Ek dink hulle is op die volgende eiland,” sê Kagiso.
Dan brul nog ’n leeu.
“Daai een is glad nie ver nie. Miskien 100 meter.”
Ek borsel blitsig tande onder die naaste boom, duik by die tent in en rits die deur toe.
Toeriste-terapie
Op ons laaste oggend in die bos waai die wind en dis koelerig. Dis nie goeie omstandighede as jy leeus wil sien nie. “Selfs al is die spore vars, sal hulle oud lyk omdat die sand oor hulle waai,” sê Kagiso. “Boonop kan die leeus ons myle ver ruik.”
Ai, die Italianers en die Spanjaarde sien leeus, maar die Suid-Afrikaners moet droëbek huis toe gaan. Tog ontdek ons wel iets besonders: die horings van ’n rooibok wat gisteraand deur ’n luiperd gevang is.
“Jy kan sien dis baie vars,” vertel Kagiso, “want hier is nog stukkies vleis waar die kopbeen aan die horings vas is. Die luiperds eet die héle bok op.”
Asof die natuur hom wil help om sy punt te maak, kom ons op nog ’n rooibokhoring af. “Voel hier, dié een is baie ligter en dus heelwat ouer.”
Ná brunch tree agt toeriste aan wal op ‘ons’ eiland. Dit blyk hulle is sielkundiges van plekke soos Oostenryk, Kanada en Amerika wat ’n konferensie in Kaapstad bygewoon het. (Dit klink amper soos die begin van ’n grappie: “Wat kry jy as jy agt sielkundiges op ’n verlate eiland los?”)
Ons pak vinnig op en op pad terug na Oddballs’ maak Kagiso vir my en Lawrette elkeen ’n lieflike waterlelie-halssnoer.
Weerloos in die wildernis
Vir ons laaste uitstappie vat Kagiso ons na die dorpie waar hy grootgeword het en steeds elke aand gaan slaap. Dis op Slangeiland, ’n halfuur se vaar met die mokoro van Oddballs’ af. Hier woon omtrent 350 mense afgesny van die buitewêreld. Tog moet hy sy mokoro met ’n slot vassluit sodat iemand hom nie steel nie.
“You know my hips don’t lie...” blêr ’n treffer van Shakira uit ’n modderhut. ’n Sonpaneel dryf die klanksisteem aan. Die hutte is gebou van koeldrankblikkies wat afgepleister is met termiethoop-grond.
Vir ons was dit pret om vir ’n paar dae tussen die wilde diere te bly, maar vir hulle is dit ’n leefwyse – een waar jy moet hoop ’n olifant kom vertrap nie jou mielies of ’n seekoei stamp die mokoro om waarop jou kinders van die skool af kom nie.
Maar dêmmit, ek sou tog graag ’n leeu wou gesien het!
Besprekingsinfo
Die syfers
Die delta - van toeka tot nou
Waar kom die water vandaan?
Die Makgadikgadi-panne en die Okavango-delta was 15 000-10 000 jaar gelede nog ’n supermeer van drie keer hulle huidige grootte. Vermoedelik dieselfde aardkorsbewegings wat die Zambezi van koers laat verander het (sodat dit vandag oor die Victoria-waterval stort en nie in die Limpopo in vloei nie) het die Botswana-waters se weë egter verander.
Agtiende eeu Die Bayei-stam trek van Barotseland in die weste van Zambië na die delta en bring die eerste mekoro met hulle saam.
30 September 1966 Botswana word onafhanklik van Engeland
1967 Diamante word by Orapa ontdek en plaas die arm land op ’n weg van welvaart. In dieselfde jaar word die Chobe- nasionale park geproklameer, Botswana se eerste.
Vroeë 1990’s Botswana voer ’n toerismebeleid in waar hulle minder toeriste, maar wat meer pitte het, probeer lok, sodat die impak op die omgewing laer is.
1998 Die Skot Alexander McCall Smith se eerste roman in The No. 1 Ladies’ Detective Agency-reeks van agt boeke verskyn. Dit handel oor ’n Tswana-vrou, Mma Ramotswe, wat ’n speurder is in die hoofstad van Botswana, Gabarone.
Terug na bestemmings | Terug na bo






















Kommentaar