Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Krugerwildtuin: Mopani


Die uitsig oor die Pionierdam wat jy gratis saam met jou "pie and gravy" by die kafeteria kry, is fantasties.
zoommore

Die uitsig oor die Pionierdam wat jy gratis saam met jou "pie and gravy" by die kafeteria kry, is fantasties.

Daar is twee dinge wat my mopanieveld toe lok: skaars boksoorte en ’n stort onder die sterre by die Tsendze-kampie. Hier is meer te sien en doen as wat mense verwag...

Mopani 101

Sleep die Jurgens nader, want die Krugerwildtuin het die ou probleem dat ’n mens nie tussen Letaba en Shingwedzi kan kampeer nie, opgelos deur Tsendze te bou, net 10 km suid van Mopani. Dis net vir kampeerders en hier is nie ’n winkel, restaurant, swembad of ander ontspanningsgeriewe nie. Ook geen elektrisiteit nie.

Staanplekke: Tsendze se staanplekke is uitstekend. Dis groot, gelyk en privaat. Van die staanplekke het egter min skaduwee en hier is geen kragpunte nie. Dis ook een van die min plekke in die wildtuin waar staanplekke toegewys word. As jy privaatheid soek, vra mooi by Mopani se ontvangs vir staanplek 3, 4 of 26; vir skadu-wee kies staanplek 6; en as jy in ’n groep kampeer, vra vir staan-plek 27 of 28. As jy gewonder het hoe groot ’n mopanieboom kan word, gaan loer ’n bietjie by nr. 14!

Badkamers: Sonpanele verskaf genoeg krag om die badkamers se ligte snags te laat brand, terwyl gasbranders warm water verseker. Hier is twee ablusieblokke in die kampie en al twee word goed onderhou en skoongemaak. Die hoogtepunt is die vier buitelugstorte by elke ablusieblok.
Ander geriewe: Die twee openbare kampkombuisies lyk anders as die tipiese wildtuinkombuisies. Elkeen het vyf dubbelplaatgasstofies en vyf wasbakke teenoor mekaar in twee lang rye.
Die kombuisies is afgewerk met houtpale en al twee het ook ’n  gasyskas waar jy jou melk en kaas kan koud hou.

Besoekers: Tsendze het nie grasperke nie, maar natuurlike lang gras en enorme hardekool-, mopanie- en appelblaarbome. Die natuurlike tuin lok vyf uilspesies wat jy snags kan hoor: reuse- en gevlekte ooruile, witkol-, witwang- en nonnetjiesuile. Moenie skrik as jou gaslamp motte lok wat so groot is soos jou handpalm nie! En wees maar versigtig vir skerpioene.

En as ek nie kamp nie? Dan’s dit rondawels toe in Mopani, ou bees. Dié rondawels het egter geen uitsig nie en almal lyk eenders. Die goedkoopste rondawel kos R575 per nag vir 2 mense.

(Nota: Alle pryse akkuraat in Maart 2010)

Watter paaie moet ek ry?
Villiers Steyn
zoomzoom

Hier’s dalk nie leeus by Mopani nie, maar jy’t ’n goeie kans om Lichtensteinse hartbeeste, rietbokke en swartwitpense te sien.

Villiers Steyn
zoomzoom

Uit die Shipandaniskuiling waar jy die Tsendzerivier oorsteek, behoort jy ’n klompie seekoeie te kan sien


Vroegoggend
Luiperds, tsessebes, baster-gemsbokke (56 km, 2 uur en 40 min.)

Vir die kans om ’n luiperd langs die Tsendzerivier te sien, ry vroeg-vroeg suid van Mopani af op die H1-6-teerpad vir ongeveer 12 km (12 km, 25 min.)  Draai links op die S50-grond-pad en ry stadig noord.  Stop by die Nshawu-watergate (hulle is genommer van 1-4) en hou jou oë oop vir olifante en tsessebes (basterhartbeeste). In die somer het jy ’n kans om die skaars swart vleiloerie by die Nshawudam te sien (14 km, 45 min).  Draai links op die S143-Steen-bokskeerkringomrit ná ongeveer 14 km. Dis my gunsteling-paadjie in die omgewing en is fantasties vir volstruise, skaars bokke soos tsessebes en bastergemsbokke en olifantbulle met reusetande!
Fynkam die vlaktes om die Tihongonyeni-watergat met jou verkyker vir elande en daardie skaars boksoorte. Jy kan ook blouwildebeeste, sebras, kameel-perde en rooijakkalse hier verwag (14 km, 60 min.). Ry dan stadig terug na die kamp toe via die suidelike punt van die S144 en die H1-6-teerpad (16 km, 30 min).

Heeldag uit
Buffels, hiënas en njalas (130 km, 6 uur)

As jy nie die dag langs Mopani se swembad wil deurbring nie, ry noord op die H1-6-teerpad al die pad tot by Shingwedzi (63 km, 3 uur). Wees op die uitkyk vir buffels by die Bowkerkop-watergat net noord van Mopani en vir gevlekte hiënas naby die João-watergat by Shingwedzi.
Eet ’n toebie by Shingwedzi en ry dan terug Mopani toe met die S50-grondpad (±67 km, 3 uur). Soek na njalas naby die Kanniedooddam en verwag koe-does, buffels en olifante op pad terug na Mopani.

Laatmiddag
Groenrugreiers en Sharpe-grysbokkies (61 km, ± 2½ uur)

Dis ’n goeie plan om vroegoggend se pad andersom (kloksgewys) te ry sodat die laatmiddagson nie in jou oë skyn nie.  Indien jy ’n ander pad wil ry, draai net suid van Mopani regs af op die S142-grondpad. Ry tot by die Shipandaniskuiling en wees op die uitkyk vir bontkiewiete, driebandstrandkiewiete, groen-rugreiers en swartriethane waar jy die Tsendzerivier oorsteek (5 km, 10 min.). Jy behoort ook seekoeie uit die skuiling te sien. Ry dan die volle lengte van die S142-Shongololo-omrit en jy sal heel waarskynlik Sharpe-grysbokkies, waterbokke en sebras sien (36 km, 90 min.).  Ry terug kamp toe op die H1-6-teerpad (20 km, 45 min.).
Die klein en stil Mooiplaas-piekniekplek op die Tsendzerivier tussen Mopani en Tsendze is die lekkerste plek om spek en eiers vir ontbyt te maak.


Wat kan ons nog gaan doen?
Jan Momberg
zoomzoom

Eet ietsie by die restaurant en drink sommer 'n skemerkelkie terwyl jy op die uitkyk is vir wild.

Villiers Steyn
zoomzoom

As jy in die Shipandaniskuiling slaap, ruik jy byna die seekoeie se asem as hulle nurk.


Stap die Mopani-wandelpad

Die Mopani-wandelpaadjie binne-in die kamp neem sowat 45 minute om te stap.
Dis ’n taamlik maklike stap, maar Oupa en Ouma en die snuiters kan moontlik swaartrek op die klipperige dele. Hier is elke paar treë ’n groen inligtingsbordjie met feite oor paddas, slange, skoenlappers, malaria, seekoeie, watervoëls en die plante hier rond. Die paadjie is duidelik aangedui met geel mopanieblaartjies wat soos vlindervlerkies lyk.
Wees op die uitkyk vir seekoeie, krokodille en visarende langs die Pionierdam en loop maar lig vir spinnerakke op die laaste deel van die roete. Trek ’n langbroek aan vir die lang gras. Die roete begin langs die kafeteria.

Word verras op ’n skemerrit
Die veldgids Hennie Combrink bewys my vooroordele oor Mopani verkeerd. Hy laai my net ná 4 nm. in Tsendze op en ons gaan nog twee gaste in Mopani oppik. Op pad daarheen sien ons ’n enorme trop buffels wat die H1-6-teerpad tydsaam oorsteek.
Ons ry noord. By Bowkerkop vertel Hennie hoe belangrik die kremetartboom doer op die koppie is: “Verskeie voëlspesies broei in die kremetartboom, van die klein stekelstertjies tot die reuse-bromvoëls.”  Op die S143-Steenbokskeerkringomrit sit ons 45 minute by die Tihongonyeni-watergat. Dis soos 7de Laan, want hier kuier almal saam: Blouwildebeeste, sebras, olifante, elande, tsessebes, vlakvarke en volstruise wei binne ’n radius van 50 m! Ons sien ook kameelperde en rooijakkalse.  Bo die vlaktes sien ons ’n roof-arend, blouvalkie en ’n bruin-jakkalsvoël. Die hoogtepunt is egter ’n blouvleivalk wat laag oor die grasse sweef op soek na knaagdiertjies vir ete.
Koste: ’n Skemerrit kos R140 p.p. en duur ongeveer 3 uur. Gidse laai gaste by Mopani en Tsendze op en af.

Slaap in die Shipandani-skuiling
Shipandani is een van net twee oornagskuilings in die Kruger-wildtuin. Dis kleiner as die Sable by die Phalaborwa-hek, want net ses mense kan hier oornag.
Die skuiling kyk uit oor  ’n kuil in die Tsendzerivier. Die hoogtepunt is die seekoeie wat jou so rondom 1 vm. wakker nurk as hulle klaar gewei het. Dit raas so aanhoudend ’n hanetreetjie van jou af dat jy nie eens jou skoonpa sal hoor snork nie.
As jy ’n sterk flits het, kyk of jy die skaars en skugter witrug-nagreier op die oorkantste oewer kan opspoor.  Die beste tyd om in Shipandani te oornag is in die lente of herfs, want in die drukkende somer gaan die muskiete jou stukkie vir stukkie wegdra en in die middel van die winter word dit snags baie koud.
Langs die skuiling is ’n omheinde braaiplekkie en ’n toilet.

Koste: R325 vir die eerste twee mense en R160 per ekstra persoon (maksimum 6). Jy kan vooraf by Sanparke bespreek. Die skuiling kan slegs vir een nag bespreek word.
Hoe werk dit? Jy ontvang die sleutels, beddegoed en ’n gaslamp by Mopani se ontvangskantoor.
Bring jou eie kos, water en hout. Jy mag ’n halfuur voor hektoemaaktyd by die skuiling aankom en moet ’n halfuur ná hekoopmaaktyd uit wees.


Villiers Steyn
zoomzoom

Sit 'n rukkie met jou verkyker by die Tihongonyeni-watergat. Tsessebes, bastergemsbokke, elande en kameelperde drink gereeld hierlangs.


Die Mopani-kamp is, net soos Letaba (“rivier van sand”), Olifants en Shingwedzi (“plek van ysterklip”), genoem na die opvallendste eienskap van sy omgewing: in dié geval die digte mopaniewoud.
Omdat ek gedink het hier is niks meer as miershope en spinnerakke in hierdie vaal habitat nie, het ek die omgewing jare lank vermy. Dit was eers onlangs dat ek besef het Mopani bied meer as wat ’n mens met die eerste oogopslag sien.

Die kamp lê op die oewer van die Pionierdam en het, nes Olifants, nie ’n kampeerterrein nie. Maar al die ander geriewe wat ’n mens in ’n groot kamp verwag, is hier wel, soos ’n vulstasie, winkeltjie, piekniekplek vir dagbesoekers en wassery.
Die restaurant het ’n pragtige uitsig oor die dam, en die swembad, wat tussen die rotse is, is seker die lekkerste afkoelplek in die ganse wildtuin.  Die kamp se wandelroete het meer inligtingspunte as enige ander kampwandelroete in die wildtuin, dus kan jy lekker bene rek en op die koop toe ’n paar dinge leer.

Minder as 10 km suid van Mopani lê Tsendze, ’n nuwerige boskampeerplek. Die toppunt van beskawing hier is twee ablusieblokke en kampkombuisies.
Hier is g’n elektrisiteit in die kamp nie en enigiemand wat nie weet waar om die streep te trek met sy karradio se volumeknoppie nie, sal vinnig die hek gewys word. Jy kan dus agteroor sit en jou verbeel jy kampeer nou by Savuti in die Chobewildtuin.

Hoewel sommige paaie rondom Mopani en Tsendze stil is, kan jy ’n paar skaars boksoorte verwag wat jy nie elders in die wildtuin te sien kry nie (langs die Nshawuspruit en op die Steenbokskeerkringomrit).

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek