Mosambiek se suidkus: Die lekkerste vakansieplekke
Deur Jon Minster
Aan die bopunt van KwaZulu-Natal spoel Suid-Afrika oor in Mosambiek. Jy’t garnale en 2M-bier op die spyskaart, die rand kraai koning en jy kan Radio 2000 luister tot by Inhaca-eiland. Jon Minster en die fotograaf Dawie Verwey het gaan kuier.
Aan die Mosambiekse kant van die grenspos by Kosibaai kronkel vier sanderige paadjies die bosse in. ’n Polisieman beduie na die een heel regs waarheen ’n minibustaxi mik. “Ponta Do Ouro? Just follow that taxi, ma friend.”
Wat? ’n Gewone Hi-Ace? Hy gaan dit mos nooit tot in Ponta Do Ouro, 7 km verder deur die diksand, haal nie! En waar is sy graaf vir die vasvalslag?
Maar ons laat nie op ons wag nie en laat wiel. Ons – en die taxi – vorder verbasend goed, want die pad is nie meer die sandput van tien jaar gelede wat bakkies vir brekfis ingesluk het nie nie. Goed, dis nou nie die N2 nie, maar die sand is deesdae vaster onder die wiele.
Ponta Do Ouro, oftewel die Punt van Goud, is die eerste van ses sulke puntjies langs die suidelike kus van Mosambiek – van die grens onder by Kosibaai tot by die Santa Maria-skiereiland, omtrent 100 km verder noord. Ek en Dawie Verwey, met sy groot sak vol kameras en lense, is hier om die lekkerste vakansieplekke te soek. Ons gaan rustig van die een ponta na die volgende piekel en op pad sommer ook ’n draai deur die Maputo-olifantreservaat ry.
Ons draai die ruite af en kry die onmiskenbare reuk van Mosambiek: Stof, sout en sonskyn…
Ponta Do Ouro (9 km van die grens af)
Duik en dolfyne
Net voor Ponta Do Ouro draai die minibustaxi af na ’n klein mark. Ons hou verby en ry oor ’n bultjie die dorpie binne. Die son sak vlamrooi in die truspieëltjie.
Tydens die burgeroorlog was Ponta Do Ouro basies ’n spookdorp. Deesdae sien ’n mens steeds bouvalle, maar ook ’n hele klomp wat opgeknap word. Hier’s ook heelwat splinternuwe geboue en reklameborde wat Suid-Afrikaanse behuisingsprojekte adverteer.
In die middel van die dorp staan ’n fier rooi-en-wit selfoonmas, amper soos ’n kerktoring wat ontwikkeling en vooruitgang verkondig. Ponta, soos die meeste vakansiegangers dit noem, is inderdaad op ’n flukse ekonomiese galop.
Genadiglik is ons buite die seisoentyd hier, want in skoolvakansies raak dinge besonder woelig. Die dorp is stil, behalwe vir ’n paar seuns wat ’n sokkerbal naby die drankwinkel rondskop.
Ter wille van die goeie ou dae val ons in by die Motel Do Mar teen die see vir slaapplek. Sedert ek laas hier was het dit ’n vars laag verf gekry, maar verder het dié baken in Ponta nie veel verander nie: Die dubbelverdieping-cabanas lyk nog steeds soos iets uit die TV-reeks Tropical Heat, maar dis skoon en gemaklik en net ’n paar treë van die strand af.
En kyk, hierdie is ’n strand waaroor jy maar huis toe kan skryf. Die baai se puntjie wat soos ’n sekel in die see uitloop, beskut die strand teen die golwe van die Indiese Oseaan. In die aandlig blink die baai soos ’n stuk foelie. Ons stap af na die strand waar die golfies saggies op die sand uitkabbel en die water net so warm soos jou bloed voel.
Ná ’n bord garnale (teen R100 nie juis ’n winskoop nie) by Restaurante Fishmonga lê ek in die bed en luister na die see. In die noorde van die land maak die sikloon Jokwe tans glo amok, maar hier in die suide is dit so soel soos kan kom. ’n Louwarm briesie kielie my tone en binne sekondes is ek vas aan die slaap.
Die meeste besoekers aan Ponta het twee doendinge op hulle lysie: visvang en skubaduik. Daar is ’n hele paar vlak riwwe naby die strand wat ideaal is vir duik, en verder see-in kruip die blinklywe weg waarvan hengelaars droom.
Ek en Dawie bespreek ’n duik by Simply Scuba (ons kies hulle sommer so uit die bondel; daar’s ’n swetterjoel duikoperateurs in Ponta en dis te warm om die fynskrif te staan en lees).
Ek het al ’n paar jaar ’n duiklisensie en Dawie het pas syne gekry. Ons duikmeester, Karl, ’n rojaal getatoeëerde jongman, werk in Ponta omdat dit ver weg van alles is. “Ek haat Facebook,” sê hy. “Al hierdie mense uit jou verlede wat uit die bloute verskyn… Hier werk die internet gelukkig die meeste van die tyd nie.”
Die enigste ander duikers op die boot is ’n pasgetroude paartjie van Polokwane, Marita en Etienne Dorfling, wat hier kom wittebrood hou het nadat hulle mekaar verlede jaar op ’n duikvakansie in Ponta ontmoet het.
Ons duik by ’n rif wat Steps genoem word, en onder die water wys Karl ’n paar kleurryke kreature aan ons uit – ’n skaars seeduiwel (“frogfish”) en ’n piepklein papiervissie. Marita en Etienne swem styf teen mekaar en hou hande vas.
Ons is skaars terug op die boot toe sien Karl ’n walvishaai agter die golwe. Ons sit blitsig weer ons duikbrille en snorkels op en plons terug in die water, net betyds om te sien hoe die swartgrys vis met ’n bek so groot soos ’n Volksie verby swem.
“Ek raak nooit moeg daarvan om saam met walvishaaie te swem nie,” sê Karl. “Al sien ek sewe op een dag.”
Ou Karl kom duidelik beter oor die weg met visse as mense…
Die volgende oggend ontmoet ons vir Roxy Macdonald van Dolphin Encountours by hulle kantoor langs die strand. Dis ’n organisasie wat al die afgelope 12 jaar navorsing doen oor die dolfyne by Ponta.
Agter haar is ’n muurkaart met foto’s van die dorsale vinne waarmee hulle ’n groep van sowat 300 dolfyne kan uitken wat in ’n strook van 40 km hier langs die kus voorkom.
“Ons is gewoonlik nogal gelukkig wanneer ons besoekers uitvat see toe,” sê Roxy. “Meestal is die dolfyne net so lus vir speel soos ons. Ek het eenkeer vir byna ’n uur saam met ’n skool geswem.”
Gister was die weer perfek, maar verder noord woed die sikloon Jokwe – en mik-mik in ons rigting. Buite is dit vandag winderig en grys. As ek ’n dolfyn was, sou ek vandag beslis nie lus gewees het om bollemakiesies vir toeriste te doen nie.
Maar Roxy se boot is propvol mense – ek, Dawie en ’n groep baie opgewonde Duitse rugsaktoeriste. Ons ploeg deur die branders en skommel teen die kus op, met mae wat by die minuut aardiger voel. ’n Halfuur later gee een van die Duitse Fräuleins ’n gilletjie toe ’n eskader grys vinne skielik naby die boot deur die water klief. Die boot poer-poer nader en Roxy hang oor die kant om die skool te probeer uitken.
“Dis Gilly en haar kleintjie, Gulliver,” sê sy uitasem toe sy weer tot verhaal kom. Mongoose, een van die navorsers, maak vinnig aantekeninge op ’n knypbord. “Bow en Tie is ook saam met hulle én klein Kiwi. Maar hulle is op pad iewers heen. Dis beslis nie nou speeltyd nie.”
Die Duitsers kwetter soos ’n swerm kanaries terwyl die skipper die boot in die rigting van die dolfyne stuur. Toe Roxy die sein gee, plons ons almal omtrent gelyk in die water in en spat Mongoose se knypbord sopnat.
Eers kan ek nie kop of stert uitmaak wat in die grysblou water om my aangaan nie, maar skielik pyl twee dolfyne op ons af, ’n grote en ’n kleiner ene. Hulle swiep letterlik ’n paar sentimeter voor my duikbril verby en, woerts! weg is hulle...
My hart klop tot in my snorkel.
Ek duik dieper af om weg te kom van die golwe op die oppervlak. Om my hoor ek die klik- en piepgeluidjies van die dolfyne, en skielik sien ek hulle weer: Gilly wat stadig en beskermend saam met haar kleintjie swem. Hulle lyk nuuskierig en talm vir ’n oomblik onder my. Dan, met ’n swiep van hulle sterte verdwyn hulle soos spoke.
My asem is op, maar ek wil nie weer boontoe gaan nie. Ag, as ek maar net ’n paar kieue gehad het…
Ponta Malongane (7 km) en Ponta Mamoli (4 km)
Sand en seewater
Die pad na Ponta Malongane is nie so waffers soos die een waarmee ons gister gery het nie. Daar is lang stukke diep sand en ’n paar bulte waar ’n mens dankbaar is vir ’n 4x4.
Omtrent halfpad op pad na Malongane is ’n groot, oop duin aan die linkerkant wat voos is van die wielspore. Dit word die “sandput” genoem en dis hier waar vierwielmotorfietse en 4x4’s hulle uitwoed (blykbaar is daar in Desember ’n skerp toename in skouerbeenbreuke by die hospitaal in Manguzi, net oorkant die grens in Suid-Afrika). Hou eerder verby.
Ponta Malongane is nie eintlik ’n dorp nie, maar ’n enkele vakansieoord – Parque De Malongane – met chalets, rondawels, ’n skaduryke kampeerterrein en ’n parate duiksentrum. Dit voel soos ’n kleiner weergawe van Sodwana, en genadiglik is vierwielmotorfiets verbode binne die grense van die oord en moet by die hek geparkeer word.
Ons chalet is ruim en netjies en dit lyk nogal soos dié wat ’n mens in Suid-Afrika se nasionale parke kry. Ons bure aan die een kant is ’n skiboot-hengelklub van Gauteng. Daar is nêrens ’n vrou te sien nie en dit lyk of die manne op ’n streng dieet van braaivleis en Captain Morgan is. Hulle groot, blink bote staan in die koelte getrek ná vanoggend se sessie op die see.
Aan die ander kant is ’n groep vriende – meestal bankiers en rekenmeesters, ook van Gauteng – wat met ’n bier in die hand op die stoep sit en mor oor die reënweer wat die sikloon in ons rigting stuur.
Die strand is nie so goed beskut soos by Ponta Do Ouro nie en hier is heelwat minder mense. Van hier af kronkel die kuslyn noord tot by die volgende “punt”, Ponta Mamoli, en ’n tydens rustige stappie seelangs soontoe behoort jy die meeste van die wêreld se probleme in jou kop te kan oplos.
Of jy kan net hier bly en jou sit gaan kry in die plek met die beste uitsig: Die Nascer Do Sol Bar-kroeg (“sonopkomskroeg”) op die dak van die duiksentrum. Dis die gewildste plek in die oord en loshande die gewildste ou is uiteraard die kroegman, Sam José.
“Hallo, mense, wat wil julle drink?” vra Sam met die opregste glimlag wat ek in jare gesien het.
“Dois 2Ms, obrigado,” sê Dawie (die enigste volsin Portugees wat hy onder die knie het, blyk dit).
Sam is ook die eerste ou wat ons teëkom wat eerstehands weet hoe lyk dit op die Santa Maria-skiereiland, ons eindbestemming. “Die paaie is sleg daar. Maar dis mooi, maar op ’n ander manier as hier. Wel, hierdie plek is nie lelik nie, maar julle weet wat ek bedoel… hierdie kon netsowel in Suid-Afrika gewees het.”
Sam is oorspronklik van Maputo. Hy hou van sy werk hier, maar tydens die toeristeseisoen kan dinge soms te bedrywig raak. “Nuwejaar! Ha! Dis mal, man! Hierdie kroeg sal dolleeg wees, nie eens ’n druppel Captain Morgan bly oor nie! Dan is ek die kroegman, uitsmyter, skoonmaker, alles. Ek kry niks slaap nie.”
Die geur van ’n braaivleisvuur prikkel ons neusgate. Ons drentel strandlangs na die restaurant vir peri-peri-hoender en tjips. Die son is lankal onder. Die wolke trek plek-plek oop en doer agter skyn die sterre of hulle wil vergoed vir die dag se slegte weer.
Die oggend gaan duik ons eers by Anchor en ’n bietjie later by Drop Zone, waar ’n groot karetskilpad vir ’n paar minute saam met ons kom swem. Ná rukkie raak hy verveeld en sweef weer die bloute in.
Jokwe is steeds aan die karring in die lug bo ons, maar dit maak nie eintlik saak nie, want onder die water is dit altyd, wel, natterig.
Ná die tyd pak ons in en ry na Ponta Mamoli, omtrent 4 km verder.
Sommer in die ontvangsvertrek van Mamoli is dit reeds duidelik dat ’n ander soort toeris by dié oord kom ontspan. Hier is nie kaalbolyf vissermanne wat by die kroeg rondsit nie; hier’s ’n paartjie in netjiese Puma-sweetpakke wat op ’n sagte rusbank sit-lê. Een lees ’n Dan Brown-roman.
Ook by hierdie oord is vierwielmotorfietse verbode, maar jy kan wel gaan perdry, skubaduik of in die seisoen seeskilpaaie soek. As jy gelukkig is, sien jy dalk in die donkerte ’n leerrugskilpad wat besig is om haar eiers te lê.
Die houtchalets (vir twee mense) het en suite-badkamers en sagte beddens met muskietnette wat in die bries bolstaan. As jy nie ’n tentmens is nie, is Mamoli die plek om jouself vir ’n nag of twee te bederf.
Die beddens lyk heerlik sag. Net reg vir 10 minute se vinnige skuinslê...
Twee uur later is ons weer op die been, net betyds om oor ’n yskoue 2M en ’n bord geroosterde calamari in ’n suurlemoenbottersousie te sien hoe die son sak.
Die Maputo-olifantreservaat (41 km) en Ponta Torres (68 km)
Tot hiertoe en nie verder nie
Ná ’n stewige Mosambiekse ontbyt (basiese dieselfde as ’n Suid-Afrikaanse plaasontbyt) ry ons die onbekende in. Min mense waag dit verder as Ponta Mamoli en ons kom gou agter hoekom: Die pad is iets verskrikliks.
Eers ry ons vir sowat 11 km op die oorblyfsels van ’n teerpad tot op die dorpie Zitundu. Dan draai ons regs op ’n voosgeryde tweespoor-sandpaadjie na Catembe, die dorpie wat oorkant die baai van Maputo lê. Maar dié pad is soos ’n strykplank vergeleke met wat wag…
Ná 30 km, een stadige vragmotor en ’n polisieman wat in die bosse skuil, kom ons uiteindelik by die hek van die Reserva Especial de Maputo (oftewel die Maputo-olifantreservaat) aan. Om by die Santa Maria-skiereiland en ons eindbestemming, Ponta Torres, moet ons nog ’n stuk of 70 km deur die reservaat ry.
In die jare sewentig is groot getalle grootwild uit die Umfolozi-reservaat in Suid-Afrika hierheen verskuif, maar in die burgeroorlog kort daarna is byna al die diere uitgewis. Net ’n klein troppie olifante het oorleef.
Volgens ’n kennisgewing by die ontvangskantoor het ’n lugsensus in 2006 gewys die olifantbevolking staan op 330 – nie dat dit maklik is om hulle te sien nie, want, anders as hulle neefs in die Krugerwildtuin, beskou die olifante hier die mens as sy vyand. In 2007 was daar twee voorvalle waar die olifante voertuie “beduidend beskadig” het, sê die kennisgewing.
Die enigste pad deur die reservaat loop al langs ’n reeks kragpale wat elektrisiteit aan Inhaca-eiland verskaf. Die wielspore is só diep in die sand dat ek my hande van die stuurwiel af kan lig en die kar homself bestuur. Dis ’n geskud en geruk vir die eerste span.
Ons ry oor ’n bultjie oorgaan en iets vang my oog: ’n Donker kolletjie doer in die middel van die grasgroen vloedvlakte. Dis ’n olifant wat statig deur die riete stap.
Dis nogal roerend om ’n dier te sien wat so ’n bloedige burgeroorlog oorleef het. Ons hou die olifant vir ’n tydjie dop. Hy beweeg in die rigting van die digte bosse en verdwyn dan skielik, asof hy nooit daar was nie.
Die paadjie eindig by Ponta Torres. Dis nie ’n plek waar jy per ongeluk beland nie; jy moet regtig soontoe wil[italics] gaan.
Hoekom wil enige regdenkende mens so ’n vrot pad verduur? Wat kom soek mense hier? Vis! Dis die plek vir vissermanne wat op soek is na die hardste van die hardekoejawel koningvisse duskant Bazaruto.
Mense soos die Namibiër Jack Lamprecht. “Ek hou daarvan dat jy ’n 4x4 nodig het,” sê hy. “Dit hou baie mense hier weg.”
Jack is ons buurman in die Ponta Torres-kamp met sy verrassend gemaklike selfsorgchalets met lugreëling en en suite-safaritente. Dis net vyf minute se stap van die berugte Hell’s Gate af, ’n smal en baie onstuimige strook water tussen die vasteland en Inhaca-eiland. Aan die een kant lê die Baai van Maputo soos ’n (misleidend) gladde spieël, en aan die ander kant die onstuimige Indiese Oseaan.
Ons klim saam met Jack op sy bootjie en vaar reg in die middel van Hell’s Gate in. Hy soek koningvisse terwyl sy helper, Mbeki, die boot die gety instuur. Geniepsige brandertjies klots oor die kant van die boot en onder ons spel die kleur van die water net een ding: gevaar.
“Die visse byt asof hulle betaal word hier in Hell’s Gate!” skree Jack bo die wind uit met sy sigaretas wat oral trek. “Julle sal sien – vanaand eet ons soos konings! Of eet konings ons. Whatever...”
Die volgende oomblik buig sy visstok amper dubbel en die lyn sing onder die boot in en dan weer oop see toe. Hy speel die vis moeg en katrol dit stadig in, maar net toe die grote amper by die boot is, breek die lyn. Weg is hy.
“Dis maar hoe visvang werk,” sê Jack. “Hulle is lekker skelm, hierdie koningvisse.”
Hy laai ons op die suidpunt van Inhaca-eiland af en gaan terug na Hell’s Gate om weer lyn in te gooi. Ons gaan lê op die sand en hou hom dop. Die slegte weer wat saam met Jokwe gekom het, is besig om te wyk en die son breek uiteindelik deur die wolke.
Dis die eindpunt. Daar’s nêrens waarheen ons nog kan gaan nie, behalwe al die pad terug soos ons gekom het. “Ons moes ’n 2M saamgebring het,” sê Dawie terwyl Jack en Mbeki se bootjie stadig in die kanaal op en af patrolleer. “Dit lyk asof dit nog ’n tydjie gaan vat…”
“Hy kan maar tyd vat,” sê ek en lê terug op die sand. Ek maak my oë toe en voel die son op my vel.
Gaaf, maar hoeveel kos dit?
PONTA DO OURO
Motel Do Mar: ’n Cabana met slaapplek vir vier kos tussen R495 p.n. (buite seisoen en nie op die strand nie) en R1 185 p.n. (hoogseisoen en op die strand). 012 348 2690; www.ponta.co.za.
Duik: R230 (saam met Simply Scuba), plus ’n eenmalige seebelasting van R20. Duiktoerusting: R160 per dag. 011 678 0972; www.simplyscuba.co.za.
Dolfyne: R250 p.p. saam met Dolphin Encountours. 011 462 8103; www.dolphin-encountours.co.za
PONTA MALONGANE
Parque de Malongane: Kampeerplek R65 p.p. (buite seisoen) en R100 p.p. (hoogseisoen); vierman-chalet R620 (buite seisoen) en R760 (hoogseisoen). 013 741 1975. www.malongane.co.za.
Ponta Mamoli: Chalet (met aandete en ontbyt) R700 p.p. (buite seisoen) en R900 (hoogseisoen). 011 444 3260; www.pontamamoli.com
SANTA MARIA-SKIEREILAND
Maputo-olifantpark: R70 p.p. en R70 per voertuig (jy hoef nie weer te betaal as jy van die Santa Maria-skiereiland af terugkom nie).
Ponta Milibangalala: R35 p.p.p.n.
Ponta Torres: R600 per tent per nag; R375 p.p.pn. vir ’n chalet buite seisoen; R2 000 vir tot agt volwassenes binne seisoen; Tweeslaapkamer-chalets kos R1 200 vir tot 4 volwassenes. 084 555 0822; +25 882 252 4670; info@africaafrica.co.za
Suid-Mosambiek 101
Wat is die beste tyd om te gaan? Dié stuk van die kus is die ideale bestemming vir mense wat graag Mosambiek wil ervaar sonder om honderde kilometers ver in ’n vreemde land te ry (of geld te ruil, want jy gebruik sommer rande).
Dit beteken ongelukkig ook dat duisende Suid-Afrikaners tydens groot vakansiedae oor die grens stroom. Dan raak restaurante se kos op, loodgieters werk oortyd en mense se humeur vlam op. Die sanderige paaie raak ’n speelplek vir bendes vierwielmotorfietsryers wat dink Mosambiek behoort aan hulle. In die water verloop dinge ook nie stemmiger nie: Mense op waterponies pla die dolfyne.
“Nuwejaar en Paasnaweek is die ergste,” sê Nigel Bennett, ’n duikinstrukteur by Ponta Do Ouro. “Die geraas is iets verskrikliks. Die mense jaag deur die strate. As ek ’n sê gehad het, sou ek quads heeltemal verbied het.”
Vermy dus Suid-Mosambiek tydens hoogseisoen. Die meeste blyplekke is goedkoper buite seisoen, die plaaslike mense is vriendeliker en jy kan saans in jou bed klim en die see hoor…
Hoe kom ek daar uit? Vat die N2 noord van Durban en draai by Hluhluwe af op die R22. Volg die aanwysings na Sodwanabaai en dan Kosibaai. (Van Johannesburg af kan jy die N17 Ermelo toe vat en dan die N2 na Jozini – volg die aanwysings na Kosibaai.)
Die sandpaaie aan die Mosambiekse kant van die grens lyk aanvanklik soos ’n doolhof, maar die meeste sluit weer aan by die twee “hoofpaaie”: een wat reguit noord loop na Maputo (dis die pad as jy na die Maputo-olifantreservaat en die Santa Maria-skiereiland wil gaan) en die een wat dadelik regs (oos) na Ponta Do Ouro, Ponta Malongane en Ponta Mamoli swaai. Jy kan ook by Malongane en Mamoli uitkom deur die pad Maputo toe te vat tot by Zitundu en dan regs te draai kus toe.
Het ek ’n 4x4 nodig? Ja, as jy noord van Ponta Do Ouro gaan reis. As jy net tot op Ponta gaan, is ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte noodsaaklik. Blaas jou bande af tot 60% van die normale druk as jy in die diksand gaan ry – tot so laag as 1,2 bar.
As jy vermoed jou Tazz gaan dit nie haal nie (dit sal nie), los dit in die afgekampte parkeerplek by die Kosibaai-grenspos en reël dat die lodge waar jy gaan bly, jou daar kom oppik. Al die lodges bied dié diens (teen ’n tarief), maar reël dit voor die tyd.
Wat van malaria? Suid-Mosambiek is ’n malariagebied. Tref voorsorg. Maak veral seker jy vat die regte medisyne as jy gaan skubaduik (party middels het newe-effekte as jy duik). Doxycycline en Malanil word as veilig beskou, maar maak seker by jou dokter voor jy vertrek.
Kontant of kredietkaart? Party van die groter duikmaatskappye en lodges aanvaar kredietkaarte, maar kontant is koning. Die rand word oral aanvaar. Jy kan basiese kruideniersware in Ponta Do Ouro koop (daar is ’n mark, slagter en bakkery net voor jy die dorp inry).
Het ek ’n visum nodig? Nee, maar jou paspoort moet vir minstens nog drie maande ná jou terugkeer geldig wees. Moenie jou voertuigregistrasiedokumente vergeet as jy met jou eie kar ry nie. (As jy met iemand anders se voertuig ry, moet jy ’n amptelike brief van die eienaar hê.)
Derdepartyversekering is verpligtend in Mosambiek. Koop dit by die grenspos (R150 per motor en R80 per sleepwaentjie). Die grenspos by Kosibaai is ’n plesier in vergelyking met die een by Komatipoort. As jou dokumente in orde is, behoort jy vinnig deurgelaat te word.
Sal my selfoon werk? As jy jou op een van die heuwels rondom Ponta Do Ouro staan, kan jy dalk ’n taamlik swak Suid-Afrikaanse sein ontvang, maar as jy jou selfoon elke dag wil gebruik, is dit beter om die internasionale reisfunksie te laat aktiveer. Daar is ’n sterk Mosambiekse sein oral langs die kus, behalwe in die mees afgeleë dele van die Maputo-olifantreservaat.
Maak toeLus vir peri-peri-garnale?
Ponta Do Ouro het lekker restaurante. Los maar jou tweeminuutnoedels by die huis.
Bar Babalaza
Waar? Op die dorp se hoofplein.
Wat? Prego-rolletjies, seekos en hoendergeregte.
Hoeveel? R25-R70.
Weg sê: Goeie waarde vir geld. Is jy ’n avontuurlike eter? Bestel die krapkerrie. Die ontbyt is egter nie waffers nie.
Café del Mar
Waar? Net agter die hoofplein teen ’n steil stel oranje trappe op.
Wat? Soet en soutige Franse pannekoeke.
Hoeveel? R20-R60.
Weg sê: Die spek-en-avokado-pannekoek is ’n wenner, maar hou matigheid voor oë, anders gaan jou beursie dit ontgeld. Daar is gewoonlik ’n lekker partytjie op die dek.
Beach Bar
Waar? Op die strand langs die munisipale kampeerterrein.
Wat? Ligte etes.
Hoeveel? R35-R65.
Weg sê: Dis ’n luilekker plek vir middagete. Koop ’n hoender-pregorolletjie en ’n 2M-bier en hou die vlieërplankryers in die baai dop.
Florestinha Do Indico
Waar? Regoor die ingang na Motel Do Mar.
Wat? Seekos en peri-peri-hoender.
Hoeveel? R25-R65.
Weg sê: Dis ’n gunsteling onder die inwoners. Die atmosfeer is gesellig en die kos smaaklike en billik. Koop die halwe hoender en tjips – Kolonel Saunders kan ’n les of twee hier kom leer.
Scandals
Waar? Langs die ingang na die munisipale kampeerterrein.
Wat? Gebak, ontbyt en toebroodjies.
Hoeveel? R20-R40.
Weg sê: Dis Ponta se weergawe van ’n koffiewinkel: ’n netjiese plekkie met ’n skaduryke balkon waar jy na Portugese skinderpraatjies kan luister.
Restaurante Fishmonga
Waar? Op die boonste verdieping, net bo die hoofplein.
Wat? Meestal seekos.
Hoeveel? R70-R150.
Weg sê: Hierdie plek is ’n nabootsing van Suid-Afrika se Fishmonger-ketting. Die kos is heilsaam, maar duur. Jy kan presies dieselfde goed in Bellville of Benoni eet.
Bula Bula
Waar? Op die rietdak-veranda langs die hoofplein.
Wat? Dis ’n uitgebreide spyskaart met iets van alles.
Hoeveel? R40-R350.
Weg sê: Die seekosbord by die tafel langsaan het lipleklekker gelyk, maar ons sou Dawie se kamera moes verkoop om dit te kon bekostig.
Diep gedagtes
Die suide van Mosambiek is’n hemel vir duikers (en dit maak nie saak hoe ervare jy is nie). Hier is ’n paar menings van ’n bootvrag vol duikers by Parque de Malongane.
Calvin Letcher (500+ duike)
“Die riwwe is in ’n goeie toestand as ’n mens dit met Sodwana en Aliwalbank vergelyk. Die rumskemerkelkie op die duiksentrum se dak verdien ook spesiale vermelding.”
Peter Davies (7 duike)
“Ek hou daarvan dat Malongane nie deel van die hoofstroom-duikplekke is nie. Dis nie so kommersieel soos van die ander plekke nie.”
Timothy van den Berg (120 duike)
“Ek hou van die redelik vlak riwwe. ’n Mens kan langer duik, en met ’n boot kom jy gou-gou daar uit.”
Pieter Lucas (1 duik)
“Dit was my heel eerste duik. Alles was fantasties. Wanneer gaan ons weer?”
Robin Cooke (1 000+ duike)
“Die kampeerplek by Malongane word goed in stand gehou en die duikgeriewe is puik. Dis altyd lekker om hierheen terug te kom.”
Lyn Cooke (350 duike)
“Die anemoonvisse is my gunsteling. Nemo se neefs en niggies!”
Leanne Greeff (18 duike)
“Die seelewe hier is wonderlik. Ons was in Desember die eerste keer hier. Dís hoekom ons teruggekom het.”
Cindy Davies (1 duik)
“Dis soveel beter as ’n swembad! Dit was baie mooi, al was daar ’n paar deinings onder die water.”
Gepubliseer op 1 Julie 2008
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 8 Januarie 2012 | 00:05:42
You've relaly helped me understand the issues. Thanks.






















Kommentaar