Malawi
Deur Anim van Wyk
In Malawi kan jy rustig langs die meer sit, op die meer gaan roei of in 'n idilliese baaitjie gaan snorkelduik. Anim van Wyk wys jou waar.
Malawimeer 101
Waar bly ek?
Domwe-eiland
Bring jou eie kamptoerusting en kamp vir R115 per persoon (maksimum 4 mense per houtdek). Jy kan ook toerusting huur.
Kontak: www.kayakafrica.net
Chembe Eagles Nest.
’n Vakansieoord weg van die gewoel van die dorpie af. Jy kamp op gras, maar kan nie jou voertuig langs jou tent parkeer nie.
Koste: $6 (R42) per persoon
Kontak: www.chembenest.com
Fat Monkeys.
Gewild onderSuid-Afrikaners, maar jy kamp op sand en het nie veel privaatheid nie. Dubbelkamers kos R65 per nag.
Koste: K400 (R20) per persoon
Kontak: fatmonkeys@africa-online.net
Gaia Gastehuis
Hierdie gastehuis het lekker bome, koffie in ’n dompelpot, en goeie storte.
Koste: K500 (R25) per persoon
Kontak: +265 994 8501
Golden Sands.
Dis die park se kamp. Jy slaan voor die vervalle Cape Maclear-hotel tent op. Hier’s ’n wye strand en stilte, maar powere ablusiegeriewe.
Koste: Sowat R55 per persoon.
Dit is K250 (R15) plus die daaglikse toegangsgeld van $5 (sowat R40).
Kontak: +265 158 7456
Mumbo-eiland.
As jy jouself wil bederf, slaap in ’n safaritent op ’n granietblok terwyl die Malawimeer reg onder jou druis.
Koste: R1 100 per persoon
Kontak: www.kayakafrica.net
Waar eet ek?
Tatsanze (Steven’s). Heerlike omelette of pannekoeke teen net R9.
Labana. Vis en rys vir R8. Oorkant Gaia Lodge.
Fat Monkeys. Pizza vir tussen R21 en R46.
Gaia. Buiten goeie koffie maak Gaia ook ’n lekker ontbyt.
Die naaste supermark is in Monkey Bay, maar by die mark in Chembe kan jy groente en vrugte koop
(Let wel: Pryse akkuraat vir Oktober 2007)
Lees die volledige storie:
Kaap Maclear en die doendinge
Hier kan jy ordentlik vakansie hou
Toe die ontdekkingsreisiger David Livingstone in 1861 die eerste keer op die Malawi-meer gevaar het, het hy besluit om die baai na sy vriend die sterrekundige Thomas Maclear te vernoem. Kaap Maclear se boogstrand van omtrent 4 km vorm deel van die Nankumba-skiereiland aan die suidpunt van die meer.
Nadat Livingstone in 1874 in Londen begrawe is, het die Free Church of Scotland ’n sendingstasie hier gevestig ter nagedagtenis aan hom. Malaria het egter onder die sendelinge gemaai en twintig jaar later is dit gesluit.
Omdat ons gisteraand in die donker aangekom het, is alles vanoggend ’n groot verrassing. Die ligbruin strand lê vlak voor die grasperk van ons blyplek en verder strek die blou water tot aan die horison. Aan weerskante leun heuwels oor die baaitjie.
Ek stap strandlangs na Kayak Africa om ons voorafbespreekte roei-uitstappie van drie dae na die nabygeleë eilande uit te stel. Dawie se bagasie moet eers kom.
Elke paar meter langs die meer skrop iemand ’n swartgebrande pot, of seep ’n kledingstuk in. Was, was, was. Tussendeur sit die mans en visnette regmaak langs hulle uitgeholde boomstamkano’s.
Hier bly 13 000 mense op die dorpie Chembe. Die gastehuise en woonhuisies staan deurmekaar ingeryg langs Kaap Maclear se strand.
“Hellooo...” ’n Plomp handjie word in elkeen van myne gedruk. Hier’s honderde kinders, oral, die een ouliker as die ander. Nadat die roeitog uitgestel is, soek ons goedkoper blyplek en kry kamers by Steven’s Resthouse teen R50 ’n nag. Dan stap ek en Dawie oor die sandstraat na ’n kroegie om te ontspan.
“Welkom by Seattle Beach Bar,” sê ’n jong Malawiër met Rastalokke. Hy sak onder die grasskerm op die sand langs ons neer. “Ek is Reggae Chris.”
“Reggae Beach Bar wants peace, love and harmony,” is op die kroegmuur geverf. Oor ’n jukebox blêr dieselfde liedjie ’n derde keer. “Waaroor sing hy?” vra ek.
“Die man se meisie het hom gelos toe hy arm was. Later kry hy werk en dan kom sy terug na hom toe met ’n mooi, gegrimeerde gesig,” verduidelik Reggae Chris.
Sowat 10 m voor ons skitter die koel waters van Afrika se derde grootste meer, wat van hier af amper 600 km na die noorde toe strek. Ek en Dawie knak ons eerste Kuche Kuche-bier.
Ons vakansie het begin.
Doendinge op Kaap Maclear
Geniet die Malawi-meer- nasionale park
Dié park rondom Kaap Maclear is in 1980 geproklameer om die meer se unieke visspesies en die Pierneef-agtige Brachystegia-bome teen die hange van die heuwels te beskerm. Die toegangshek is op die linkerkantste punt van die baai as jy voor die meer staan.
Koste: $5 (R35) p.p., $1 (R7) per motor
1. Kyk vér. Klim die Nkhunguniberg bokant die baai uit en kry ’n beter uitsig op jou omgewing. Uit en tuis het jy minstens drie uur nodig om bo nog ’n bietjie te kan rus en foto’s neem. Jy kan ook reguit met die paadjie aanhou na Otter Point (sien 3) by die meer.
Waar begin ek? Betaal by die hek, volg die tweespoorpad na die sendelinge se grafte en dan die groen kolle.
2. Verstaan die verlede. By die begin van die staproete is die grafte van vyf sendelinge wat aan malaria dood is. In die museumpie binne die park hoor jy dié mans het geglo dat die mis oor die vleilande malaria veroorsaak, vandaar die samestelling, “mal” (slegte) met “aria” (lug). Vra een van die werkers daar om jou die kremetart te wys waaronder Livingstone gepreek het.
3. Sê koebaai vir die son. Die granietkoepels teenaan die meer by Otter Point, ’n nasionale gedenkwaardigheid, is een van die beste plekke om te kyk hoe die son in die meer smelt. En hou ook jou oë oop vir otters, want hulle is glo teen sonop en sononder hier woelig.
Wat die Beach Boys vir jou kan doen
Kaap Maclear se beach boys – nie die branderplank-troebadoers nie, maar jong Malawiërs – sal enigiets doen om jou te oorreed om jou kwachas (die geldeenheid) met hulle te deel. Hulle kan jou help met dié dinge:
4. Soos ’n vis in die water. As jy jou duikbril en paddavoete vergeet het, huur ’n paar by die beach boys, want Kaap Maclear is ’n snorkelduikparadys. Gaan duik by Otter Point in die park, of onderhandel met die beach boys om jou met ’n houtbootjie na Wes-Thumbi-eiland, sowat ’n kilometer van Kaap Maclear, te neem.
5. Voer die voël. Vra ’n beach boy om jou die “mak” visarend by Wes-Thumbi-eiland te wys. Hou jou kamera reg. Hulle gooi ’n vissie in die water en dan neem jy ’n foto wanneer die arend oor die water skeer en die prooi met sy kloue uit die water gryp.
6. Eet op die strand. Geniet heerlike vis, rys en tamatie-en-uiesmoor. Dit word voor jou op die strand gemaak en jy eet sommer net daar op die sand. Vra liewer vir “kampango”, ’n soort baber, as “chambo”, wat ’n bedreigde spesie is.
Weg sê: Ons het $35 (R250 – vir ons albei) betaal vir ’n kombinasie van die drie aktiwiteite op die Zimachitika-houtboot (Zimachitika beteken “dit gebeur”), die huur van duikbrille ingesluit.
7. Haal asem onder die water. Wil jy leer skubaduik, maar is nog nie seker of jy die volledige kursus wil doen nie? Kayak Africa bied ’n kursus aan waar jy die beginsels leer en dan saam met jou instrukteur duik.
Koste: R525 p.p. Teen $255 (R1 600) kan jy die intreevlak PADI-oopwaterkursus by Scuba Shack doen.
8. Drentel deur die dorpie. Leer wat die kinders bedoel as hulle aanhoudend “jambule” skreeu wanneer ’n gids soos “Steady” Jali jou deur die dorpie Chembe begelei en van die plaaslike gebruike vertel. (Dit beteken: “Neem ’n foto!”)
Koste: $4 (R28) p.p. vir twee uur. Bespreek by Fat Monkeys.
Domwe- en Mumbo-eiland
Ons eie eiland
Die klanke van die jukebox in die Seattle Beach Bar sterf geleidelik agter ons weg terwyl ek en Dawie met kajakke na die eilande rondom Kaap Maclear – deel van die nasionale park – begin roei.
Kayak Africa, wat al 18 jaar hier sake doen, het die afgelope ses jaar ’n kamp op elk van die twee eilande gebou waarop hulle ’n eksklusiewe konsessiereg het.
’n Gids roei saam en ons laat waai na Domwe. Dié eiland word wel net deur ’n strook water van omtrent 20 m van die land geskei, maar dis omtrent 5 km van Kayak Africa se plek af. ’n Uur later is ons in ’n halfmaanbaaitjie en sleep die kajakke uit die blougroen water.
Die kamp is op verskillende vlakke uitgelê, tussen wurgvye, granietrotse so groot soos ligte lorries, en ’n yslike kremetart. Elkeen van die vyf houtdekke waarop die tente staan, is uit die oog vanaf die ander. Jy stort onder ’n emmer waarin die opsigters vir jou warm water gooi.
Ons voel ’n bietjie soos twee magnate, want vanaand is daar geen ander gaste nie. Die eiland is ons s’n.
Die wind van voor
Die volgende oggend word ek wakker van ’n sterk wind wat aan die tent se seile pluk. Dis die suidooster – die “mwera”. Die golwe wat dié wind veroorsaak, sorg glo dat die water vol suurstof bly en lig voedingstowwe van die bodem af sodat die visse kos het om te eet.
Later toe ons die kajakke in die rigting van Mumbo-eiland, 8 km van daar af, stuur, peper die “mwera” ons behoorlik van die kant af. Ons dobber – op en neer, op en neer. (Indien enigiemand gewonder het: Dit is wel moontlik om in ’n kajak seesiek te word.)
Groen om die kiewe groet ons ons Kanadese gasvrou by Mumbo-eiland, eet ’n paar grondboontjies en gaan lê tot ons later, steeds blekerig, aansit vir middagete.
“Sorry that we’ve invaded your private island!” bulder ’n stem langs my. Dis Tim, ’n Amerikaner van Chicago, wat saam met sy vrou, Ann, en twee kinders by ons aansluit vir die aand.
Terwyl hulle leer hoe om “boa”, ’n Afrika-bordspel, te speel, gaan stap ons om die eiland. As jy ooit ’n eiland wil koop, soek een soos Mumbo: Dis nét groot genoeg om in ’n uur reg rondom die eiland te stap, terwyl die drie pare visarende wat hier broei, onophoudelik bo jou kop roep.
Rondom die eiland swem jy as’t ware in jou eie akwarium. Met ons eerste skubaduik die volgende oggend sien ek goud-pers vissies, visse met swart kolle, koningsblou visse... Hier is na raming digby 1 000 visspesies in die meer, en meer as 90% van hulle kom nêrens anders ter wêreld voor nie.
Dis ’n moeilike besluit toe die kuiertjie op Mumbo tot ’n einde kom: Gaan ons luilekker saam met die Amerikaners op die motorbootjie terugvaar, of op eie stoom terugroei?
Die wind is reg van voor, maar ons wil die toer op die regte manier klaarmaak. Amper teen die einde van die 10 km-roei rus ons eers in ’n baaitjie langs Wes-Thumbi, die eiland reg noord van Kaap Maclear.
“Julle is maar die tweede groep vanjaar wat die hele roete tussen die eilande geroei het,” sê ons gasvrou terug op droë grond. “Welgedaan!”
Die Ilala-veerboot
Lekker op die dek!
Terwyl ek in die People’s-supermark koeldrank en koekies koop, blaas die mishoring van die Ilala, Malawi Lake Services se veerboot, wat elke week oor die lengte van die meer vaar. Dis tienuur, sien ek – die tyd wat die Ilala veronderstel is om te vaar! Ek laat spaander.
Ek sak verlig en uitasem op die eersteklasdek neer. Maar uiteindelik vaar ons eers halftwaalf uit Monkey Bay se hawe, 10 km soos die kraai vlieg van Kaap Maclear af.
Môreaand, dis nou as die Ilala nie vertraag word nie, sal ek en Dawie afklim op Likoma-eiland, wat rofweg halfpad in die meer op lê. Dis deel van Malawi, al lê dit teen die Mosambiekse kus.
Daar is ’n paar buitelanders saam met ons op die bodek. “In Malawi is die antwoord altyd óf ‘10 minute’ óf ‘ja’, want die mense hier wil jou so graag tevrede stel,” vertel Adrian Phillipson, ’n dokter van Sheffield in Brittanje. “Gaan hierdie bus Blantyre toe? ‘Ja,’ sal hulle dan met ’n hele paar kopknikke sê. Gaan die bus halfpad omslaan en ek ’n pynlike, uitgerekte dood sterf? ‘Ja,’ sal hulle met ewe veel kopknikke antwoord!”
Buiten Adrian is hier ook ’n Duitse en Deense paartjie én twee ouens van Finland aan boord. Ons en die Duitsers slaap vanaand op die dek langs die kroegie, onder ’n skadunet, terwyl die ander kajuite op die tweede vlak gehuur het waar die eetkamer en storte ook is. Heel onder in die boot ry die tweede- en derdeklaspassasiers saam met die vrag.
Die Ilala vaar om Kaap Maclear se skiereiland en vang die “mwera” skuins van voor. Al genade teen die naarheid is om op die naat van jou rug te lê op een van die matrasse wat ons gehuur het.
’n Tante van Skotse afkoms
By die eerste hawe, Chipoka, word die Ilala versigtig teen die betonkaai vasgemeer. ’n Groepie mense staan daar en wag. Hulle klim op na die dek en luister na ’n bemanningslid wat geesdriftig praat en beduie.
“Mag ek ’n foto saam met jou laat neem?” vra een van sy luisteraars. Haar naam is Ruth en sy is op ’n uitstappie saam met ander personeellede van ’n skool in Lilongwe om na die Ilala te kom kyk. Dis die heel eerste keer in Ruth se twintig jaar dat sy die meer sien.
Ek wonder of haar gids vir hulle van die Ilala se geskiedenis vertel het. “Die boot is in Glasgow gebou en in stukke na Monkey Bay gestuur,” het Gift Nyanya, die Ilala se hoofoffisier, my vertel. “Sy is van die vroeë jare vyftig al op die water.”
Die boot se naam kom van die Ilala-palm wat in hierdie geweste volop is en dit beteken “reis” in Chichewa, wat naas Engels ’n amptelike taal van Malawi is.
Die wind wil nie bedaar nie. Later die aand toe ek in my slaapsak kruip ná ’n heerlike warm stort, swaai die halfmaan heen en weer bo my soos die pendulum van ’n staanhorlosie.
Vragskip
Êrens in die donker stop ons by nog ’n hawe, Nkhotakhota. Ek weet nie hoe die mense alles opgelaai het op die hewige golwe nie, maar toe ons die oggend opstaan, is die onderste vlak van die boot tjokvol mense en die gange is toegepak met kool, tamaties en mieliemeel.
Teen negeuur stop die Ilala by Metangula aan die Mosambiekse kant van die meer. “Ghhrrrrrr,” maak die katrolle wat die reddingsbote laat sak by hawens soos dié sonder ’n kaai. Dié roeibote ry vrag en passasiers aan en van die plaaslike ouens kom sit ook hand by met hulle eie bote.
Sakke suiker, matrasse, matte en mandjies kool word oorgelaai. Kleuters word onder een arm gegryp en soos ’n sakkie uie aangegee.
Teen halfsewe is ons by die eiland Likoma. Net toe ons op die bootjie oorklim wat ons na die rugsakhotel aan die ander kant van die eiland gaan neem, trek ’n vragskuit langs die boot in. Daarop is ’n silwer Toyota-bakkie wat met ’n hyskraan op die Ilala se dek gelig gaan word. Ai, dít sou ek graag wou sien.
Likoma- en Chizimulu-eiland
Kom herwaarts, getroues
As ’n mens 36 uur lank op die water was, voel dit ten minste vir nog ’n halwe dag daarna of jy dobber. So raak ons aan die slaap in die eenvoudige riethuisies van die Mango Drift-rugsakhotel terwyl die meer se golfies ’n paar tree verder klots.
Die ligging van Mango Drift is perfek: ’n Mens bly letterlik op die strand, en al langs die water staan groot kremetarte soos pilare geplant. Die kroeg is onder ’n mangoboom.
Dis Sondag en ek en Dawie staan vroeg op om die diens in die St. Petrus-katedraal by te woon. Katedraal? Ja, so groot soos die Westminster-abdy in Londen!
Die Anglikaanse sendingstasie op Likoma is in 1886 gestig en die gemeente het die katedraal tussen 1903 en 1905 gebou op ’n plek waar drie “hekse” in die vorige eeu verbrand is.
Ons volg ’n netwerk van voetpaadjies oor die eiland van 32 km2 – ongeveer 8 x 4 km. Vroeër was die sendinghospitaal se ambulans die enigste voertuig op die eiland, maar deesdae is hier twaalf (hoewel net sewe tans loop).
In die deur van die rooibaksteenkatedraal sit ’n vrou met ’n pers katoenrok waarop ’n afdruk van St. Petrus pryk. Langs haar is ’n klomp kaartjies uitgepak. “As iemand nagmaal wil gebruik, moet hulle hul kaartjie by my kom kry en ’n donasie gee,” verduidelik sy.
Die twee Finne stap in. Met hulle lang lywe en blonde koppe staan hulle uit soos mielieboere by ’n bike rally. Boonop gaan sit hulle aan die vroue se kant van die kerk. Ek lag onderlangs en stap liewer uit om na die binnehof te gaan kyk. Agter my laat waai een van die drie kore met ’n uitbundige hallelujalied in Chichewa, begelei deur trom en klawerbord.
In die binnehof staan ’n man met ’n maroen baadjie en blou hemp in ’n kring kleuters. “Prraaaaise the Loorrrrd!” roep hy uit, waarop die kleintjies piep: “Ha-le-lu-jah!”
Gee my meer
Die seile van die dau waarin ons na Chizimulu, Likoma se buureiland, vaar, is vernuftig met mielie- en sementsakke aan mekaar gestik. Maar die rand van die bootjie het pas die tiende keer oorgehel en so hittete aan die water geraak.
Voor my geestesoog sien ek hoe die boot water skep, omslaan en Dawie se kamera met al die foto’s in die dieptes wegsink. My hande is taai van die teer waarmee die boot gesmeer is soos ek aan die rand vasklou.
Binne ’n uur, glo ’n rekordtyd, is ons daar. Ek en Dawie stap oor na die Wakwenda Retreat, ’n rugsakhotel wat deur ene “Chizi” Nick bestuur word. Daar eet ons omelette en pannekoeke en luister na Nick se geselsies. Later swem ons met ’n duikbril en paddaskoene om die rotslewe rondom Wakwenda se sondek te verken.
Dis vandag Maandag en die laaste dag van ons vakansie. Môre klim ons weer op die Ilala vir ons terugvaart na Monkey Bay, die rit na Lilongwe en dan die vlug huis toe.
Nadat ek eers genoeg gekyk het na die kleurryke vissies, gaan sit en bak ek my droog op die dek. Kort-kort sien jy net water spat soos Dawie duik om ’n vissie met sy onderwaterkamera te kiek.
Ek maak my oë toe.
“Dertien jaar gelede was my plan om net vir ’n maand in Malawi te bly,” het Nick vroeër vertel. “Toe het ek nog nie ’n bles gehad nie en niks grys hare nie.” Soos Kayak Afrika se duikinstrukteur, ons gasvrou op Mumbo en ander expats in Malawi, het Nick besluit om sy lewe vir ’n eenvoudiger weergawe in te ruil. Een van die vakansieoorde op Kaap Maclear is dringend op soek na ’n bestuurder, onthou ek skielik.
Ek maak my oë oop. Rondom my klots die water teen die granietrotse. Op die strandjie steek die kremetarte hulle vingers die blou lug in. In die windstil lug hang die palms se blare roerloos.
Ek’s lus en bel daai oord vir die job...
Wat kan jy op Likoma-eiland doen?
Gaan kerk toe. Besoek die St. Peter-katedraal in die middel van die eiland. Vader Vincent, wat amper 80 jaar oud is, sal jou rondneem.
Gaan weer kerk toe. St. Mark is nog ouer as St. Peter; dis geleë op die heuwel bo die Kaya Maya-hotel.
Kuier by Kaya Mawa. As jy regtig lus is om iets anders as vis en rys te eet, kan jy by Kaya Mawa vir ’n driegangmaaltyd teen R250 p.p. gaan aansit.
Seil na Chizimulu-eiland. Die openbare dau kos R5, maar vertrek soggens om vyfuur. Ons “private” dau het R150 gekos. Jy kan ook met die Ilala oorvaar, of vir Chizi Nick bel om jou teen R25 p.p. te kom haal as jy by hom gaan bly.
Hang uit by die Hot Coconut. Dié kroeg is naby die vasmeerplek van die Ilala, en allerhande strokiesprente – met onder andere George W. Bush, Saddam Hoesein en Osama Bin Laden – versier die mure.
Waar bly ek?
Mango Drift. Die lodge is onlangs deur die gemeenskap oorgeneem en die diens sukkel nog met ’n paar groeipyne, maar die ligging is onverbeterlik. Hulle kom haal jou op die Ilala; dit kos $3 vir die terugvaart.
Koste: R42 per hut.
Wakwenda Retreat. Drink ’n gin & tonic, of koop ’n Mars Bar vir R10.
Koste: R70 vir ’n grashut, R12 p.p. om te kamp
Kontak: +265 934 8415 (selfoon) of * +265 135 7272/286 (Dis die poskantoor se nommer; vra die mense om Nick te roep en bel dan oor 5 minute terug. Die selfoon behoort binnekort te werk.)
Wanneer gaan ek?
Craig Barlow van Kaya Mawa meen April is die beste tyd: Dis windstil en nie so warm nie. Tog pak Suid-Afrikaners die kampeerplek by Fat Monkeys oor Desembermaande vol.
Deur die wolke
Ons het teen R3 000 p.p. (retoer) van Johannesburg na Lilongwe gevlieg.
Watter geldeenheid vat ek?
Malawi se geldeenheid is die kwacha, maar Amerikaanse dollar word wyd aanvaar.
Waar kry ek inligting?
www.malawitourism.com
Gepubliseer op 1 Oktober 2007
Terug na bestemmings | Terug na bo

























Kommentaar