Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Krugerwildtuin: Shingwedzi


Rondom Shingwedzi is hope mooi rivierpaaie. Olifante is volop in die rivierbeddings, en langs die S56, volgens dié wat weet die mooiste rivierpad in die wildtuin, gaan jy waarskynlik buffels sien.
zoommore

Rondom Shingwedzi is hope mooi rivierpaaie. Olifante is volop in die rivierbeddings, en langs die S56, volgens dié wat weet die mooiste rivierpad in die wildtuin, gaan jy waarskynlik buffels sien.

Shingwedzi, wat amper heel noord in die Krugerwildtuin lê, is verder van ’n ingangshek af as enige ander kamp in die park – ongeveer 70 km van Punda Maria en 137 km van die Phalaborwahek. Hier is net ’n handjie vol wildkykpaaie in die omgewing, maar die meeste van hulle loop deur die digte oewerwoud, langs riviere waar daar hope diere is. Veral buffels en olifante is volop. Nog lekkerder as die rivierpaadjies is die kamp self.

Shingwedzi 101

Daar is min kampterreine in die Krugerwildtuin waar jy soveel voëls sien en hoor as in Shingwedzi.
Dis asof hulle hier makker is, en die groot verskeidenheid klanke trek die heeltyd ’n mens se aandag.

Staanplekke: Shingwedzi se staanplekke is groot en gelyk met genoeg skaduwee. Die kampplekke is ongelukkig nie duidelik afgemerk nie, maar verder is daar nie fout in dié groot kampterrein nie.
My gunsteling-staanplek is in die oostelike hoek, teen die draad onder ’n groot haak-en-steek. Hier het jy genoeg skaduwee vir ’n Boeing 747 en is jy skaars 20 treë van die ablusieblok af. Die staanplekke is so ingerig dat jy net aan die een kant ’n buurman sal hê. Hier is ook ’n paar lekker
staanplekke aan die noordwestekant langs die swembad, maar die gefuif by die swembad kan nogal steurend raak en hier is ’n paar bosse wat onwelriekend is in die somer.

Badkamers: Hier is twee redelike groot ablusieblokke – een in die ooste en min of meer in die
middel langs die rondawels. Jy sal dus ver stap badkamer toe as jy langs die swembad kamp.
Die mans- én vrouebadkamers het storte en baddens. Vir die mans is dit effens moeilik om te skeer in die oostelike ablusieblok aangesien dié se spieëls nie reg bo die wasbakke sit nie.

Ander geriewe: Hier is ’n wassery langs die oostelike ablusieblok en op ’n paar plekke in die kampterrein is klein kampkombuisies met wasbakke, stofies en urns. Die swembad grens aan
die kampeerterrein.

Geveerde vriende: Die meeste van die voëls in die Shingwedzikampterrein is makker as die
deursnee-huiskat. Voëls soos rooioogtortelduiwe, grootblouoorglansspreeus, miksterbyvangers,
swartvlieëvangersen blousysies is veral volop. In die somer weerklink die klanke van die bosveldvisvangers aanhoudend in die kampterrein.•Ander besoekers: Oom Ollie kom loer elke nou en dan in langs die draad.

Ongenooide gaste: Wees op die uitkyk vir die giftige sakspinnekop in die badkamers. Hulle is lief daarvoor om in die stortgordyne se voue te skuil. Hulle is klein en lig van kleur met groot, donker kake. Moet hulle nie probeer vang nie! En as ek nie kamp nie? Shingwedzi het ’n groot verskeidenheid rondawels as jy nie daarvoor kans sien om met tentpenne en tent opslaan te
sukkel nie. Die goedkoopste opsie is die hutte wat slegs R270 per nag kos en tot drie mense kan huisves.

(Nota: Alle pryse akkuraat in Februarie 2010)

Watter paaie moet ek ry?
Villiers Steyn
zoomzoom

Probeer agter teen die heining kamp. Jy sien dalk 'n olifantbul soos dié oubaas!


Vroegoggend (65 km; 3 uur)
Hiënas, buffels en krokodille
Ry vroegoggend by die kamp se hoofingang uit en draai links by die T-aansluiting.
Volg dan die H1-6-teerpad vir ongeveer 13 km en wees op die uitkyk vir gevlekte hiënas wat soms naby die Joãowatergat langs die pad lê (± 15 km, 30 min.).
Draai regs op die S52-Red Rocks-omrit en maak seker jy stop by die Red Rocks-uit-kykpunt net nadat jy op die grondpad afgedraai het.
Jy mag hier uit jou voertuig klim. Die uitsig oor die rooi klipbanke is vroegoggend op sy mooiste met die son wat van agter af daarop skyn.
Ry die volle lengte van die S52 en stop ook by die Tshanga-uitkykpunt naby die Bateleur- private kampie.
Jy mag ook hier uitklim en oor die rotse klouter, maar wees versigtig vir slange en los klippe. Hier is tafeltjies vir uitspan en ’n long drop.
Jy kan olifante, buffels, se-bras en ook kameelperde op die S52 verwag.
In die Shingwedzirivier is krokodille, en in die omgewing word soms luiperds gesien (± 45 km, 2½ uur).
Ry op die H1-6 reguit terug kamp toe (5 km, 10 min.). 

Heeldag wildkyk
Grysbok op die mooiste rivierpad
(119 km; 9 uur)
Staan lekker vroeg op en volg die H1-7-teerpad noord tot by die S56-Mphongolo-omrit se suidelike afdraai (9 km, 20 min.).
As jy die S56 heelpad volg, kan jy buffels in die rivierbedding gaan soek. Jy kry ook dalk olifante en die skugter Sharpe-grysbokkie te sien. Vroegoggend maak gevlekte hiënas en luiperds soms hulle verskyning.
Dis waarskynlik die heel mooiste rivierpad in die ganse Krugerwildtuin – ry dit stadig en geniet die beeldskone landskap (31 km, 3 uur).
Draai links op die H1-7-teerpad en ry noord tot waar die S58 links uitdraai. Hier is dalk jagluiperds op die oop vlaktes! (18 km, 1 uur).
Ry tot by die Dzundzwini-uitkykpunt en terug na die H1-7 teerpad (8 km, 30 min.).
Volg die H1-7-teerpad al die pad terug tot by Shingwedzi en wees op die uitkyk vir bastergemsbokke, tsessebes en elande in die omgewing van die Babalala-piekniekplek (’n lekker plek vir middagete) en Boyela-watergat (± 53 km, 4 uur). 

Skemertyd
Allerhande soort reiers
(± 40 km, 3-4 uur)
As die Shingwedzirivier vloei, ry by die kamp se agterste hek uit en draai links op die S135.
Gaan stop langs die laagwater-bruggie en hou die watervoëls en krokodille dop wanneer hulle vis probeer vang. Dis voorwaar ’n skouspel!
Hou jou oë oop vir reuse-reiers, grootwitreiers, geelbek-ooievaars, groenrugreiers en hamerkoppe. Olifante drink ook soms hier water.Indien die rivier nie vloei nie, ry by dieselfde hek uit, maar hou reguit op die S50, verken die eerste 20 km van die pad en draai dan weer om.
Dit kan die moeite werd wees om ’n tydjie in die voëlskuiling by die Kanniedooddam te verwyl.


Wat kan ons nog daar doen?
Villiers Steyn
zoomzoom

Slaap wakker by al die stormwaterpype onderdeur die pad by Shingwedzi. Wyfiehiënas bêre baiekeer hulle kleintjies hier.


Gebruik jou sintuie
Die beste manier om die veld te waardeer is om te gaan stap, soos een oggend saam met die veldgidse Matt Burnett en Bishop Shilowa naby die Mashagadzi- watergat, suid van Shingwedzi.

Span ál jou sintuie in: ruik die vars olifantmis naby ’n modderbad; hoor ’n reuse-ooruil
en twee gewone troupante wat ’n keel opsit; voel hoe glad ’n olifant ’n growwe boomstomp met sy agterwêreld kan poleer; sien ’n ou skilpad- en slakdop, ’n goue wawielwebspinnekop en ’n magdom spore; en proe aan ’n tros bessies wat Matt waarborg nie giftig is nie.
Moenie verwag om baie diere te sien nie. Kom stap eerder as jy die veld se diversiteit wil ervaar. 
Wie kan dit doen? Enigiemand wat gou kafee toe kan stap.
Hoe lank? Sowat 3 uur
Koste: R270 p.p.

Gaan op ’n nagrit
Van al die ritte wat Shingwedzi bied, verkies ek die nagrit. Jy sien skemertyd gereeld gevlekte hiënas en soms ’n sivetkat of luiperd.
Ons gids stop op die brug oor die Shingwedzirivier sodat ons die sterre kan bewonder. Hy wys Orion en ’n paar ander konstellasies met sy lig uit.
Ons bring ’n hele tydjie saam met ’n gesin gevlekte hiënas deur wat dig teen die pad bly en sien ook die klein Sharpe-grysbok naby die kamp.
Hoe lank? Sowat 2 uur
Koste: R120 p.p.


Villiers Steyn
zoomzoom

Die beste staanplek in die kampeerterrein is in die oostelike hoek, teen die heining onder 'n groot haak-en-steek.


Shingwedzi is groot, maar heelwat stiller as Skukuza en Onder-Sabie in die suide. Hier sal jy beslis kan ontspan.

Die restaurant is aan die voorkant van die kamp en kyk uit oor die Shingwedzirivier. Die kamp sal enige voëlkyk-entoesias ure lank
besig hou met die verskeidenheid spesies wat hier voorkom. ’n Paar skaars spesies soos die palmmôrelyster en die lysternagtegaal is al hier gesien.

As jy dus ’n ernstige voëlkyker is, vra gerus vir die gidse waar in die kamp jy na watter voëlsoorte kan gaan soek. Hier is ’n winkeltjie en kafeteria. Jy kan ook die tenk volmaak, klere by die wassery was en langs die swembad uitspan. Gaan lees gerus by ontvangs watter diere ander gaste in die omgewing gesien het en teken self jou leeugelukkie (of meer) in die wildkykboek aan.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek