Tuinroete: Lindsay-kasteel
In die jare sestig het Don Lindsay, ’n professionele grootwildjagter, met ’n sweeftuig op Noetziestrand, sowat 8 km van Knysna, geland en dadelik besluit om sy eie kasteel te bou.
Ek het twee aande in sy kasteel op Noetzie oornag; dis in ’n weggesteekte strandbaaitjie, weg van enige ander mense, diere of geboue.
Die pakket sluit ontbyt en ’n heerlike driegang-aandete in. Julia en Wayne, wat die kasteel namens Don bestuur, is die gashere en sorg dat die kaggel warm en die glase vol is.
Teen ’n muur in die kasteel lees ek prinses Diana sou op ’n keer hier oornag het: ’n Geraamde brief van Buckingham-paleis, gedateer 8 Julie 1997, bevestig haar verblyf (onder die naam “MacEwan”) vir twee nagte in September. Sy het egter enkele dae voor dit verongeluk...
Hier is ook ’n paar ander kastele op die strand, maar dis in private besit en deel van die luukse Pezula-oord.
Dis ’n heerlik ouwêreldse ervaring, ideaal vir ’n spesiale geleentheid soos ’n huweliksherdenking of selfs ’n romantiese wegbreeknaweek.
Blitsfeite
Waar? Draai van die N2 af Noetzie toe. Die strand is sowat 8 km van Knysna af. Bel vir Julia vir aanwyings.
Koste: Die kasteel is gesluit in Desember (die eienaars trek dan in). Van 15 Januarie af is dit R880 p.p. Gesels met Julia oor spesiale tariewe vir Suid-Afrikaners en kinders.
Kontak: 044 384 1849 (Julia); www.knysnacastles.co.za
Terug na bestemmings | Terug na bo
























Kommentaar