Asemrowende uitsig


1. Bo-op die Drakensberge
Op die kant van die Mount-aux-Sources-amfiteater kan mens langs die Tugela-waterval staan en ver uitkyk oor die golwende KwaZulu-Natalse heuwels, see se kant toe. My pa sê hy kon al die see op ’n helder winterdag sien. Die Drakensberge is soos geen ander plek in die wêreld nie – jy voel sommer eerbiedig as jy hier staan, selfs as jy ’n effense ligsinnige streep het... Al is jy aan die mollige kant, kan jy ook die dagstap agterom en tot bo-op die amfiteater stap. Maak ’n plan...

2. In die Wildtuin

Ek het baie gunsteling-uitkykplekke in die Krugerwildtuin. Die een by Olifantskamp voor die kafeteria (as hulle eendag klaar daar gebou het), is wonderlik. Ek het selfs al daar met ’n verkyker gestaan en ’n luiperd op ’n strandjie in die Olifantsrivier sien hardloop. Noudat ek daaraan dink, ek het ook al ’n luiperd van die dekrestaurant by Onder-Sabie gesien. Ek is ook gek daaroor om met ’n verkyker op ’n bankie langs die rivier in Letaba te sit en kyk hoeveel olifante en maraboes ek kan sien. Of by die Nwanetsi-piekniekplek in die rigting van Mosambiek. Nee man, die wildtuin is vrot van die uitkykpunte...

3. Naspers se kafeteria

Min mense wat in die hoë Naspersgebou in Kaapstad by Media24 werk hou baie van die kafeteria op die 22ste verdieping, want dis so half ou-styl... dit laat jou so ’n bietjie aan ’n koshuis-eetsaal dink. Maar as jy vroeg in die oggend gaan, is daar amper geen ander mense nie en jy kan twee eiers en ’n stukkie roosterbrood vir iets soos R6 koop en jy kan gaan sit en oor die hawe en Robbeneiland uitkyk. Ek het een oggend daar gesit en vir ’n halfuur lank na ’n walvis sit en kyk wat in die Duncandok gespeel het. Hy’t gerol en sy flippers en stert op die water geklap en geblaas... Toe ek met middagete terugkeer is hy wraggies steeds daar – voor die hawe-pote hom met ’n sleepboot neus gegee het oopsee se kant toe.

4. Bitou en Keurbooms

 Dis nou nie veel van ’n uitsig nie, maar een van die plekke waar ek die graagste staan en visvang is net daar op die sand-skiereilandjie waar die Keurbooms- en Bitouriviere inmekaarvloei by Plettenbergbaai. Jy kan hier met sandgarnale of met ’n lepel gooi vir kabeljou, gespikkelde knorder en selfs elf. Daar’s altyd baie mense in die omtrek, maar daar heers ’n absolute Zenagtige rustigheid oor die watervlaktes. Doer op die Plet-oewer troep ’n groepie voëlkykers versigtig verby, ’n middeljarige man roei stil in ’n kajak verby en wil weet of die vis byt, daar anderkant in die stroom met hulle lyne in die water sit twee ou omies op ’n bootjie en lag. Ek maak die woorde: “Nee, sy’s nou vir jou ’n skoonheid, hoor,” uit. Hier agter my tussen die gras word ’n paar Rastas wakker na die vorige aand se daggapype. Dis ’n lekker plek.

5. Fort Klapperkop
Ek het ’n sagte plekkie vir Pretoria. Die plek het ’n kort, maar besige geskiedenis. As jy hier by Fort Klapperkop in die suide staan en stad se kant toe kyk kan jy so baie van die gees van Pretoria optel. Dié stad het mos so half ’n beleërde gevoel – jy staan by ’n fort, net so links van jou hou die onverbiddelike Voortrekkermonument wag, voor jou staan die naaimasjiengebou van Unisa soos ’n skuifdeur by een van die poorte tot die stad, en agter dié sit die klossie boere-wolkekrabbers wat in die ou dae die hardekwas gees van die Afrikaner en die nasate van Paul Kruger se gewigtige Hollandse staatsamptenare voortgedra het soos ’n bolwerk teen “donker Afrika”, en agter dit sien jy die blou rantjies van die Moot waarvandaan die bittereinders ’n eeu gelede nog aanvalle op lord Roberts se kakies wat Pretoria beset het, geloods het. Die ironie is dat Pretoria nou ’n soort Afrika-Washington in die kleine is. Pretoria is deesdae ’n meer verdraagsame en metropolitaanse stad as selfs net tien jaar gelede.

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek