Met ’n rugsak en ‘mtatu’s’ deur Malawi


Een van die beste maniere om die Malawimeer te verken is aan boord van die Ilala.Jy het pragtige uitsigte oor die meer van die boonste dek af.
zoommore

Een van die beste maniere om die Malawimeer te verken is aan boord van die Ilala.Jy het pragtige uitsigte oor die meer van die boonste dek af.

Wijnand Germs en Leigh-Ann Thomas het Malawi ’n maand lank verken – met taxi’s, busse, ’n lorrie en ’n veerboot. Hulle het heelwat vriende langs die pad gemaak – én ’n sampioenplaas ontdek.

Dag 1
KAAPSTAD NA LILONGWE
Uiteindelik – Malawi!
Dis nou al ’n paar jaar dat ek daarvan droom om Malawi met ’n rugsak te verken. Daarom is ek sommer baie opgewonde toe ons vroegmiddag by die Kamuzu-lughawe naby Malawi se hoofstad, Lilongwe, neerstryk. Terwyl ek vir my bagasie wag, ontmoet ek toevallig ’n groep mense wat Afrikaans praat.
    Annemarie Malan, wat sedert die jare sewentig hier sendingwerk doen, bied my ’n geleentheid aan na Lilongwe, sowat twintig minute se ry van die lughawe af. Sy laai my by Shoprite af. Net soos in baie ander Afrika-lande weet almal hier waar dié winkel is.
    Laatmiddag ontmoet ek my vriend Dawie Myburgh. Hy’s ’n geoloog wie se werk dit is om swaarminerale te soek – goed met name soos sirkoon, rutiel en ilmeniet. Ek gaan vir ’n week by Dawie bly terwyl ek vir my meisie, Leigh-Ann, wag om haar by my aan te sluit.
    Ons oornag by die Korean Garden Lodge – in Malawi, ja.

Dag 2-3
LILONGWE NA CHIPOKA
Chipoka se Afrikaanse hawemeester

Chipoka lê ongeveer 90 km oos van Lilongwe. Hier word ek begroet deur die Malawimeer, wat, net soos die Tanganjika- en Victoriameer, sy oorsprong in die Oos-Afrika-sinkdal het.Tegnies nie reg nie, meen ek: Is die Tanganjikameer is nie deel van die slenkdal?
    As ek sê Malawimeer is groot, dan bedoel ek gróót. Met ’n lengte van 580 km en ’n breedte van 85 km op sy wydste punt is dit op agt na die wêreld grootste varswatermeer.
    Chipoka is ’n slaapdorpie aan die suidwestekant van die meer. In die koloniale tydperk het die Britte glo groot planne vir dié dorp gehad. Hulle het ’n hawe gebou, wat deesdae hoofsaaklik gebruik word as ’n plek waar die Ilala, ’n veerboot wat elke week mense en goedere oor die meer vervoer, voorraad aanvul.
    Die hawemeester, net bekend as Nelson, praat tot my verbasing vlot Afrikaans. Sy pa was ’n Malawiër en sy ma ’n Suid-Afrikaner, en hy’t in Polokwane grootgeword. 
    Die blyplek by die Lake View Lodge in Chipoka is basies, maar die uitsigte is pragtig. Aandete hier bestaan uit bokvleis en Chibuku-bier – ook bekend as “shake-shake”. Dit word gebrou van sorghum en mielies en het ’n smaak wat jy met die tyd aanleer.

Dag 4
CHIPOKA
’n Geil oes op die lande

Ek besluit om saam met Jerry, een van Dawie se werkers, die omgewing rondom Chipoka te verken. Jerry moet voorafbepaalde boorposisies met ’n GPS soek, dit merk en dan evalueer of ’n mens met ’n boormasjien daar kan uitkom.
    Ek en Jerry merk oral punte terwyl ons deur die veld stap. Dis duidelik dat Malawi ’n baie goeie reënseisoen gehad het: Daar’s groen katoenvelde, boontjieplantasies, cassava, tamatieplantjies en mielielande gereed om geoes te word. Ná die afgelope paar jaar se erge droogtes kan ’n mens amper voel hoe dankbaar die aarde is.
    Malawi is oorwegend ’n landbouland en die grootste deel van die bevolking is bestaansboere. Die mense op die landerye groet vriendelik met ’n “mulibwanje”.

Dag 5-7
MALAWIMEER
Skugter meervisse

Vroegoggend kyk ek van die Lake View Lodge af uit oor die Malawimeer, met Mosambiek se berge wat in die verte kop uitsteek. Ek oorreed twee vissermanne met ’n klein bootjie om my op die meer uit te neem. Hulle stel belang in die visstok wat Dawie vir my saamgegee het.
    My kunsaas en brood is nie reg vir die meer se visse nie, sê hulle. Ons roei dieper die meer in op soek na ’n visserman wat vir ons lewendige aas kan gee.
    Ná ’n stewige ent se roei kry ons twee visserskuite. Die manne is druk besig om hulle net in te trek en ’n paar minute later lê die vangs in die skuit en spartel.
    Met ’n paar vriendelike gebare is ons weg met ons aas – nie dat dit enigsins gehelp het nie, want ek kom steeds met leë hande by die Lake View Lodge aan.

Dag 8-11
BERG MULANJE
Pragtige plantegroei

Ná omtrent ’n week in Chipoka kry ek vir Leigh-Ann by die lughawe in Lilongwe. Ons plan is om Malawi met openbare vervoer te verken. Dis nie die gemaklikste en vinnigste manier nie, maar só ontmoet jy plaaslike mense en beleef die alledaagse lewe. 
    Ons mik oor Blantyre in die rigting van Berg Mulanje. Van Blantyre af is dit ongeveer ’n uur se ry in ’n mtatu (’n minibustaxi) na die dorpie Mulanje, van waar jy met ’n bakkie ’n geleentheid na die berg moet kry. Berg Mulanje is ’n granietrots (soos die Paarlberg in die Paarl, net baie groter) in die suidooste van Malawi en teen 3 000 m bo seespieël sentraal-Afrika se hoogste berg.
    By ons aankoms maak ons kennis met ons gids, Comestar (afgelei van “comes from a star”), wat ons tot by die berg se hoogste spits, die Sapitwapiek, sal begelei. Die volgende drie dae bring ons teen die berg deur.
    Die uiteenlopende plantegroei wat ons teëkom, is verstommend – van denneboomplantasies tot natuurlike reënwoud en fynbos. Ons sien selfs proteas.
    Van die Sapitwapiek af kan jy oor die res van die berg sien, asook die omliggende Phalombe-vlakte en die teeplantasies doer ver. Dís nou iets om oor huis toe te skryf.

Dag 12-17
MONKEYBAAI EN LIKOMA-EILAND
Op die Ilala

Van Berg Mulanje af kies ons oor Blantyre koers na Monkeybaai. Dis naby Kaap Maclear, ’n gewilde toeristebestemming. Deur die “beach boys”, wat allerhande aktiwiteite hier bemark, reël ons om by die eiland Fish Eagle te gaan snorkelduik.
    Die verskeidenheid kleurryke vissies is ongelooflik, en as jy op die regte plek in die meer snorkelduik, is dit selfs beter as ’n akwarium.
    By Monkeybaai klim ons op die Ilala, die belangrikste vervoermiddel op die meer. Op die veerboot is daar basies drie dinge wat jy doen: ontspan, ontspan en nogmaals ontspan.
    Die volgende drie dae maak ons inderdaad so. Ons lees, gesels, staar in die verte en drink bier. In Malawi kry jy nie sommer wyn in die hande nie, veral nie teen ’n billike prys nie, maar in die Ilala se kroeg ontdek ons toe ’n 1997-bottel Rooiberg Shiraz… R100 later sit ons en drink Suid-Afrikaanse rooiwyn terwyl die son in die meer wegsink. 
    Onderweg stop ons by Likoma-eiland, ’n volle 17 km² groot. Ons dwaal ’n bietjie rond; een van die besienswaardighede op die eiland is die St. Petrus-katedraal wat vroeg in die twintigste eeu deur die eilandbewoners en Skotse sendelinge gebou is.
    Toe die son begin sak, maak ons en nog ’n paar ander vir ons bed op die boonste vlak van die boot en slaap salig onder die sterrehemel.

Dag 18-22
LIVINGSTONIA

’n Sampioenplaas langs die meer
Ons klim af by Chilumba, die noordelikste hawe waar die Ilala aandoen. Van hier af reis ons padlangs met mtatu’s suidwaarts, al langs die westelike oewer van die meer, rustig terug Lilongwe toe.
    Op pad, omtrent 400 km noord van die hoofstad, ontdek ons ’n sampioenplaas wat van die Livingstonia-eskarp af oor die meer uitkyk. Dit behoort aan Mickey Wild, ’n Australiër wat ná ’n vakansie in Malawi besluit het om dié land sy tuiste te maak. Mickey en sy personeel streef daarna om so volhoubaar en omgewingsvriendelik as moontlik te boer.
    Die sampioenplaas het ’n groot vegetariese spyskaart, en elke aand sit ons aan vir ’n feesmaal. Mickey bied ook abseil-uitstappies aan by die Machewee-waterval hier naby.
    Livingstonia, binne stapafstand van die sampioenplaas af, is ’n klein dorpie wat rondom die Livingstonia-sendingstasie ontstaan het.
    Ná die ontdekkingsreisiger dr. David Livingstone se dood in 1873 het die Skotse kerk glo ’n sendingstasie in Malawi gebou. Die eerste een is in 1875 in Cape Maclear opgerig, maar het weens malaria later noord na Bandawe geskuif. Hier het sake ook skeef geloop en die sendingstasie is in 1894 uiteindelik na Livingstonia geskuif.

Dag 23-24
MZUZU
’n Vinnige stop in ’n ‘stad’

Ná ’n paar dae besluit ons om aan te skuif. Ons volgende stop is Mzuzu (ongeveer twee uur se ry van die sampioenplaas af), glo Malawi se derde grootse “stad”. Dit lyk maar soos ’n groterige dorp in Suid-Afrika. Ons koop wat nodig is en vertrek ná een nag Nkhatabaai toe.

Dag 25-27
NKHATABAAI
’n Baai met baie

’n Vriend het eenkeer vir my gesê dis baie maklik om in Nkhatabaai vas te haak – en ons het sommer gou agtergekom hoekom.
    Al is dit ’n werkende dorp waar toerisme nie oorheers nie, is dit ook ’n lekker plek om te ontspan.
Ons bly in die Mayoka Village, op die oewer van die meer wat deur die oud-Kapenaar, ene Gary, gebou is en bestuur word.
    Saans gaan vissermanne op houtbote – dit word bwato’s genoem – uit en lok usipas, ’n soort vis, na die bote deur lanterns aan te steek. Met tientalle bootjies wat ver op die meer uit lê, lyk dit soos ’n string pêrels wat uigestrooi lê op die water. En oral op die meer sien ’n mens dit.
    Vroeg die volgende oggend vertrek ons saam met Isaac en Jairos in twee dubbelkajakke. Ons het besluit om ’n oornag-kajakuitstappie saam met ’n plaaslike maatskappy, Monkey Business, te doen. Hulle verseker ons die stormweer oor die meer sal gou opklaar.
    Die eerste paar uur stoot die suidoostewind ons gemaklik vorentoe, en die roeiery gaan heelwat makliker as wat ons verwag het. Met elke roeislag gly die meeroewer, wat met welige plantegroei oortrek is, vinniger verby. Oral sien ons watervalletjies wat in die meer in tuimel en selfs ’n otter wat vinnig laat spaander.
    Die aand sit ons om die kampvuur by Sanje, ’n klein dorpie aan die oewer van die meer direk noord van Nkhatabaai, en Jairos sê hy wil graag Suid-Afrika toe kom om ’n tuinwerker te word. Hy vertel met verwondering hy’t gehoor hoe mense in Suid-Afrika nie met ’n handlem grassny nie, maar met ’n masjien wat jy net rondstoot.

Dag 28-30
NKHOTAKHOTA
’n Laaste paar draaie

Die volgende oggend neem ons ’n mtatu en lorrie na Nkhotakhota, so twee tot drie uur suid van Nkhatabaai.
    Twee dinge verstom my van die openbare vervoer in Malawi en die meeste Afrikalande. Daar’s altyd plek vir nóg iemand, al dink ek die gaatjie is nie eens groot genoeg vir ’n muis nie. En dan is dit merkwaardig hoe geduldig hierdie mense met sulke ongemaklike omstandighede saamleef.
    By die Pottery Lodge, net buite die dorp, oornag ons en drink ’n bottel 2005-pinotage, nogal uit Zimbabwe. 
    Die volgende middag kom ons in Lilongwe aan en koop ’n paar geskenke om huis toe te neem. Ons slaap weer in die Korean Garden Lodge en ek dink terug aan die laaste maand se ervarings – die pragtige landskap, die ongelooflike onderwater-wêreld, die vriendelike mense, maar ook die armoede.
    Hoe het Johnny Clegg nou weer gesê? “It’s a cruel, crazy, beautiful world…”

Maklik deur Malawi
Het jy ’n paspoort nodig?
Jip, maar geen visum as jy ’n Suid-Afrikaner is nie.
Met watter lugdiens vlieg jy na Malawi? Die SAL of Air Malawi.

Wat kos ’n vliegtuigkaartjie?

Ongeveer R3 300 vir ’n retoerkaartjie van Johannesburg af na Lilongwe. As jy met Air Malawi, “Africa’s friendly airline”, vlieg, kos ’n retoerkaartjie R3 500 uit Johannesburg. ’n Retoerkaartjie tussen Kaapstad en Malawi kos ongeveer R4 000 met die SAL.

Hoe billik is die openbare vervoer?
Dit is spotgoedkoop – ongeveer R20 vir ’n minibusrit van een uur. Geleenthede op bakkies kos ongeveer dieselfde, terwyl die groter busse dikwels ietwat goedkoper (maar baie stadiger) is.

Is daar enige verpligte inentings voordat jy Malawi toe gaan?
Geen inentings is verpligtend nie, tensy jy voor die tyd deur ’n geelkoorsgebied gereis het. Dit is ’n goeie plan om voor die tyd malariapille te neem.

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek