Tuinroete: Diepwalle-4X4
Vroegoggend ry ek saam met Dennis Carlisle van Bhejane 4x4 Adventures in sy viertrek-Condor vir ’n halfdaguitstappie diep in die Knysnabos. Terwyl ons die 22 km op “Petrus se brandpad” in Diepwalle ry, vertel hy slegs sowat 2% van die oorspronklike bos – wat 200 jaar gelede van George tot Humansdorp (sowat 220 km) gestrek het – bestaan vandag nog.
Dis al ’n cliché, maar terwyl die grondpad ál dieper die digte bos in kronkel, dink ek onwillekeurig aan Dalene Matthee se karakters uit Kringe in ’n bos: Oupoot. Saul Barnard. Die bloubokkie se gal...
Aftand is die naam van die laaste olifant wat in 1967 hier in die Knysnabos doodgeskiet is.
“Wie weet? Hier kan dalk tien olifante vir ons staan en kyk,” lag Dennis. “Olifante is skugter, soos spoke. Die olifante en houtkappers het baie gemeen gehad. Albei wou van die mense af wegkom.”
Dennis vertel van die Italianers wat hier kom woon het. Hulle wou baie geld maak met sywurms, maar daarvan het niks gekom nie.
Die destydse migrasieroetes van die olifante – wat later die houtkappers en boswerkers se voetpaadjies geword het – is steeds sigbaar.
Ons stop gereeld en klim uit om te kyk na varings, enorme geelhoutbome en swamme. “Dalk is hier ’n groter kans dat ons feetjies en kabouters raakloop as olifante,” sê Dennis, laggend. Ná byna vier uur in die bos stop ons by die Diepwalle-gemeenskapstuin, waar tannie Clara Stuurman heerlike vetkoek en melktert voorsit. Dit was ’n lekker uitstappie.
Goed vir die siel.
Blitsfeite
Waar? Ontmoet die ouens van Bhejane 4x4 by die Garden of Eden, langs die N2 tussen Knysna en Plettenbergbaai.
Wanneer? Reël self met Bhejane 4x4.
Koste: R350 p.p. (dit sluit middagete in)
Kontak: 044 535 9257; www.bhejane.com
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar