Tuinroete: Diepseehengel
Ons is hier vir ’n propperse diepseehengel-ervaring van vyf uur saam met Plett Fishing Charters. Hulle verskaf alles: visstokke, hoeke, aas en bystand.
Kort ná sonopkoms vertrek ons van Plettenbergbaai se hoofstrand af. Ons boot dreun deur die deinings, en binne minute, skaars 100 m verder, sien ons ’n walvis. “Kyk net daardie monster!” roep die skipper, Graeme Pollard. Ons vaar ongeveer 5 km see-in.
Wat lê voor?
Stokvis, rooiroman, kabeljou, geelbek... knewels soos op ’n Stywe Lyne-voorblad? Eric, die helper aan boord, gee ’n bietjie perspektief.
“Om op die water te werk is amper soos in ’n myn: Soms kom jy met niks terug nie.” Maar dis nie lank nie of hy begin spog met ’n vorige vangs. “Daai geelbek was groter as ek,” sê hy met uitgestrekte arms, soos ’n krieketskeidsregter wat ’n wydloper aandui. “Rêrig, hy’ t alleen op die skaal gelê.”
Ek het geen ervaring nie, maar Eric help met die aas (sardyne) en kry my lyn in die water. Ek moet net wag... Sodra iets byt, pluk ek die stok hard en begin vir ’n vale inkatrol. Ná ’n paar verbroude kanse katrol ek ’n kabeljou in wat in ’n skoendoos sal pas. Dit sukkel maar. Én ek begin seesiek voel… of is dit dalk die toebroodjies?
Die Tuinroete se dramatiese kuslyn van Keurboomstrand af tot by Nature’s Valley is pragtig hier van die see se kant af, en op pad terug sien ons ’n walvispaartjie wat naby Keurboom-strand flankeer. Graeme meen die water was vanoggend effens te koud vir die visse. Maar dit pla ons nie. Die paar uur op die oopsee was heerlik. Terapeuties.
Blitsfeite
Waar? Die Osprey vertrek van Plettenbergbaai se hoofstrand af.
Wanneer? Reël self met Graeme Pollard.
Koste: R600 p.p. (minimum van 4 mense)
Kontak: 083 324 6331; www.deepseafishing.co.za
Terug na bestemmings | Terug na bo




















Kommentaar