Die Kwangpan is een van die mooiste watergate noord van Nossob. Die diere kom groet jou amper by jou voertuig en jy moet jou verkyer naby hou, want hier is baie voëls.
'n Beginner wildkyker behoort minstens 'n springbok, gemsbok, kameelperd, grondeekhoring, rooijakkals, sekretarisvoël en 'n rooiborslaksman in die Kgalagadi, waar die diere volop is, te sien.
Die Kgalagadi-oorgrenspark is groot. Toast Coetzer het die park se grondpaaie gaan ry om te kyk wat jy alles met ’n gewone kar kan sien.
Kgalagadi 101 Hoe vorder die toegangspad na die park?
Net 28 km van die laaste 60 km na die park se ingangshek moet nog geteer word. Dit sal teen April 2009 klaar wees (dalk vroeër).
En die paaie in die park?
Jy kan met ’n gewone motor op die hoofpadnetwerk ry. Die twee “hoofpaaie” begin onder by Twee Rivieren. Een loop langs die Auborivier se bedding tot op Mata Mata (120 km;
2 uur en 30 min.), die ander met die Nossob se loop na Nossob-kamp
(160 km; 3 uur en 30 min.). Twee dwarspaaie oor die duine verbind die twee “hoofpaaie”. Heelpad sinkplaat? Min of meer, ja. Die paaie word een keer per maand geskraap, maar jy gáán skud.
Banddruk? Die parkowerheid (goed, die petroljoggie by Twee Rivieren) stel ’n banddruk van 1,3 bar voor vir ’n swaar kar. As jy ’n gelaaide 4x4 het, hou dit in viertrek wanneer die pad erg sinkplaat is. Hou by die spoedgrens van 50 km/h.
Wenke? ’n Hoër voertuig help. Die twee hoofpaaie is plek-plek al diep geskraap, wat beteken jy sit soms baie laag. As die gras hoog staan, sien jy skaars ’n gemsbok as hy 10 m van die pad af staan. Brandstof? Daar is brandstof by die park se drie hoofkampe, Twee Rivieren, Mata Mata en Nossob. As jy twyfel, maak vol by Molopo Lodge, 60 km voor die park se hoofhek.
Moet ek bespreek vir die 4x4-roetes in die park? Beslis.
Toegang word streng beperk. Besprekings vir die Leeuwdril-dagroete (13,2 km; R100 per voertuig) word egter op ’n daaglikse basis gemaak.
Kan ek die park uit Namibië en Botswana binnekom? Ja. Die Mata Mata-grenspos met Namibië is verlede jaar geopen. Jy kan egter nie net sommer deur die park ry en anderkant uitgaan nie. Jy moet minstens twee nagte in die park oorbly. Sedert 2000 kan ’n mens ook die park via die Botswana-sektor inkom. (Daar word tans gebou aan ’n gemeenskaplike Suid-Afrika-Botswana-grenspos by Twee Rivieren.)
Het ek ’n paspoort nodig? Net as jy die park via Namibië of Botswana verlaat. As jy Botswana van Suid-Afrika se kant af besoek, binne die parkgrense bly en weer terugkom na Suid-Afrika, het jy nie ’n paspoort nodig nie.
Goedkoper as Etosha?
Kort antwoord: Ja, sommer baie. Toegang en dagtarief: R33 p.p.p.d. Kampeerplek (met kragpunt) vir 6 mense: R120 Chalet vir 4: Vanaf R420 Chalet vir 6: Vanaf R675 Wilderniskampe vir 2: Vanaf R640 Kontak: Suid-Afrikaanse besprekingskantoor: 012 428 9111 of 054 561 2000; reservations@sanparks.org. Botswana-besprekingskantoor: 00 267 318 0774; dwnp@gov.bw Webwerf: www.sanparke.org
Plan B* (B vir bekostigbaar):
Oorweeg om ’n Wild Card by die park se ontvangskantoor te koop. Toegang tot die park (die dagtarief is R33) is dan gratis. ’n Wild Card vir ’n gesin kos R460. As ’n gesin van vier dan byvoorbeeld vier dae in die park bly, spaar jy R68, want sonder die Wild Card sou dit jou R528 gekos het (R33 toegangsgeld x 4 mense x 4 dae = R528).
Boonop gee die WildCard jou gratis toegang tot die res van Suid-Afrika se parke en talle reservate vir ’n jaar.
(Nota: Pryse akkuraat in Augustus 2008) Lees die volledige storie:
Nossob
Die lig in die Kalahari brand vroeg soggens en weer teen sonsondergang baie vlugtig goudgeel.
Die heining hou nou die jakkalse buite by Nossob, mits jy die hek mooi agter jou toemaak.
Jakkalse op DStv Regs van my is Ma, Pa, vier kinders en ’n Cruiser. Die kinders het nou hulle waslappies en roer oor die sand ablusieblokke toe. Dis badtyd.
Aan my linkerkant kampeer ’n oupa, ouma en kleinkind. Dít het ek uitgepluis sonder dat dit nodig was om te vra. Kleindogter is besig om ’n boks met water te vul. Sy maak ’n swembad, maar toe sy inklim, skeur die karton oop.
Alleen kamp het sy voordele. Jy bly merendeels stil en kan jou bure heelaand sit en afluister. Alles gebeur ook vinniger as jy nie vir ander mense hoef te wag nie. Lank voordat Oupa en Ouma se vuur gepak is, brand myne al hoog.
“Vra vir Buurman of hy nie sommer ons s’n ook kan aansteek nie,” roep Oupa van sy kampstoel af. Maar hy maak net ’n grappie – Ouma begin reeds vuur aansteek.
Jy hoef nie jou wekker in die Kgalagadi te stel nie, veral nie as jy in ’n tent slaap nie. Eers mompel ’n stem van die ablusieblok se kant af; rondom jou lei een gedempte gewerskaf tot die volgende, en as jy weer hoor, dan word ’n voertuig beleefd aan die gang getorring om heel voor by die hek te gaan stelling te gaan inneem. En selfs as jy deur dit alles slaap, sal die son jou gou-gou kom opklop.
Ek is vinnig op en in my skoene. Daar is reeds vier voertuie voor die hek, en toe dit seweuur oopmaak, kies hulle koers, party noorde toe, ander suidwaarts.
Ek wil noorde toe ry, Unie-end toe, daar waar die Republiek ’n skerp puntjie maak teen die grens van Namibië en Botswana. Soos by Kaap Agulhas is daar nie veel te sien daar nie; dis eerder ’n “ek was al daar”-bestemming waaroor jy by ’n braai kan gesels.
Afstande in die park is bedrieglik en jy moet goed beplan, ook as dit by brandstof kom, selfs al is daar petrolpompe by die park se drie hoofkampe. Unie-end toe (131 km) en terug is ’n hele dag se ry.
Ongeveer 10 km anderkant Nossob staan ’n voertuig langs die Cubitje Quap-watergat. Die mense kyk na iets in die pad. Toe hulle wegtrek, ry ek nader. Leeuspore. Gisteraand s’n, sou ek raai, maar Ta is nêrens in sig nie.
Dis April en die stertkant van ’n nat somer in die Kalahari. Die suur- en boesmangras staan oral lank en die wild is oorvloedig. Gemsbokke, springbokke, blouwildebeeste en rooihartebeeste.
Toe ek uiteindelik die piekniekterrein naby Unie-end bereik, is ek rasend honger, desperaat vir bene rek en blaas leegmaak.
Onder die ander koelteboom staan ’n Ford F250-bakkie wat ek al van gister af opmerk (’n mens kyk nie sommer die F-reeks mis nie). Ek stap nader en knoop ’n geselsie aan. Dis Julie en Johann Bredenkamp, beesboere uit die Waterberge daar anderkant Modimolle, en hulle eet mielies. My middagete is maar skraps. Hulle gee my ’n mielie en ons eet lekker saam.
Unie-end self is net meer as 10 km verder. Daar’s ’n bord wat sê Pretoria is 773 km ver. In die posbus vir die besoekersboek is daar net een verfrommelde bladsy waarop ’n paar patrollerende Botswana-weermaglede aangedui het hulle was hier en dat dit vir hulle mooi was. Daar’s ook ’n uitgawe van die Jehovah-getuies se nuusbrief, die Watchtower.
Op pad terug Nossob toe, naby Kwangpan, staan twee voertuie met hulle linkerwiele op die padwal (die pad is plek-plek só diep uitgeskraap dat jy so moet parkeer om iets te kan sien). Hulle kyk almal in dieselfde rigting met die erns van mense wat leeus sien. Julie en Johann is in die een motor en hulle verduidelik daar lê twee maanhare, langs ’n wildebeeskarkas wat blykbaar vroeër die dag gevang is.
Waar? Dáár, onder die bome, in die lang gras, 400 m ver. Dáái soort leeus. Dis blykbaar twee mannetjies genaamd Freek en Jan, kinders van die park se celebrity-leeu, Ousus (daar’s ’n boek oor haar te koop in die kampwinkels).
Ek kyk en kyk en kyk. Uiteindelik sien ek ’n stert kwispel. Dan staan een op – kom ons sê maar dis Freek – en plof vyf sekondes later weer neer.
SODRA DIT DONKER WORD en die lig by die Nossob-watergat, reg langs die kampterrein, aangeskakel word, kom die jakkalse om motte en ander goggas te vang. Tussendeur draf ’n dikkop waaksaam diékant toe en daai kant toe, soos ’n pion met ’n plan.
Party mense stort eers klaar, dan kom sit hulle hier in die donker en soek in die gloed van die lig leeus. Ander bring hulle aandete saam, eet fluisterend met plastiekvurkies. Dalk kom Jan en Freek hier gatswaai vanaand?
Wat’s daai? Nee, dis ’n reuse-ooruil. Dié sit soos ’n netjiese tofkussing in die droë boom. En daai? Nog ’n jakkalas.
Dis soos DStv hier by Nossob se watergat. Soms skiet jy deur die kanale en sien min, net jakkalse. Maar wie weet, dalk skop jy en die leeubroers een aand saam die kroegdeure hier oop.
In my koue tent hoor ek in die vroeë oggendure ’n leeu brul, veraf. Seker Freek wat nou net van sy wildebees-hangover ontwaak...
Maak toe
Mata Mata
Die kameelperde boer in die Mata Mata-gebied en hulle staan duidelik uit in die kaal landskap: dus behoort jy hulle maklik raak te sien.
Die Kgalagadi is bekend vir sy leeus oftewel die Konings van die Kgalagadi. En hulle is baie lief vir voertuigbande...
Vriende en veeriges op pad ’n Maer jong man staan met ’n geweer langs die pad by die afdraai na Urikaruus, een van die nuwe wilderniskampe. Sy naam is John Mathys en die roer is ’n Sako .308.
Ek laai net gewapende duimgooiers op as hulle in ’n natuurreservaat werk. Laas, in Swaziland, was dit ’n veldwagter met ’n haelgeweer, wat hy blykbaar soms gebruik het om die “naughty poachers” skrik te maak.
John soek ’n geleentheid Twee Rivieren toe, want hy’t ’n afdag – hy is toeriste-beampte hier by Urikaruus. Ek is eintlik op pad in die teenoorgestelde rigting, Mata Mata toe, maar ek stem in; die dag is nog lank.
John se pa het vroeër ook in die park gewerk, terwyl sy ma, Trooi, tans by die Twee Rivieren-hek diens doen. Dis al drieuur wanneer ek John aflaai. My onderbroeke is aan die min raak en ek vra ’n guns: Sal hy my wasgoed vir my laat was, dan kom tel ek dit op wanneer ek die volgende dag weer by Urikaruus verbyry? Geen probleem, sê John.
Ek vat die sinkplaatpad Mata Mata toe, 120 km en meer as twee uur verder.
Hoe nader ek aan Mata Mata kom, hoe meer kameelperde sien ek. Dis hulle kant van die park dié. Die eerste langbene het in 1990 uit Etosha hier aangekom, maar is eers ná agt jaar in ’n boma naby Mata Mata losgelaat. Hulle aard goed hier, want die leeus vang hulle selde en hulle het geen kompetisie vir blare in die boomtoppe nie. Deesdae is hier al meer as sestig kameelperde.
Die roofvoëls hou ook nie op nie: Swartborsslangarende, ’n breëkop, ’n berghaan, witrugaasvoëls, statige sekretarisvoël-egpare, en dwergvalkies wat saam met versamelvoëls broei – dié is skaars groter as iets wat jy aan jou truspieëltjie sal hang.
Dan is daar natuurlik poue. Ludwigse poue is skaarser, maar gompoue sien jy agter elke derde driedoringbos, aan ’t patrollie met hulle oop bek, dik kousnek en effens verhewe kuif. Hulle stap eintlik met die kop so ágtertoe, so fancy is hulle.
Wanneer die Kalahari se son sag raak, steek dit alles aan die brand. Toe ek om ’n draai kom anderkant Veertiende Boorgat, is die lang gras in die Auob ’n goue see, die kameeldorings statige skepe, die enkele springbokramme in silhoeët op hulle pos.
As ’n mens so van kamp tot kamp toer, word jou mede-kampeerders gou vriende, want as jy maar sien, dan is julle weer in dieselfde kamp. Al die Bredenkamps is ook hier by Mata Mata – Dries, Johann se ouer broer, en sy vrou, Kobie, ook. Later nooi hulle my vir warmsjokolade. Ek bring hawermoutkoekies.
Daar is ’n watergat teenaan die kampterrein en jy hoef nie eens na die wildskuiling te stap nie. Jy kan sommer van jou kampstoel af sien wat aangaan. Vanaand is dit egter stil.
Daar was tog ’n jakkals, want die volgende oggend lê my asblik omgegooi. Bliksem.
Maak toe
Kieliekrankie
'n Beginner wildkyker behoort minstens 'n springbok, gemsbok, kameelperd, grondeekhoring, rooijakkals, sekretarisvoël en 'n rooiborslaksman in die Kgalagadi, waar die diere volop is, te sien.
Pofadders en wildekatte Kieliekrankie is een van die vyf klein wilderniskampe (daar’s ook die groter Kalahari-tentkamp en die luukse !Xaus-lodge) wat sedert 2000 in die park gebou is. Jy kan Urikaruus, Kieliekrankie en Grootkolk met ’n gewone motor bereik. Die ander twee lê op 4x4-roetes.
Hier’s vier huisies by Kieliekrankie, wat elk net vir twee mense plek het. Rus en vrede is dus gewaarborg. Dis ook wild: Hier’s geen heinings nie. Dis ’n goeie konsep, dié wilderniskampe, want dis eksklusief, maar nie buitensporig duur nie (vanaf R640 per nag vir twee).
Elke wilderniskamp het een personeellid, en hier by Kieliekrankie is dit Heinie Snyders, wat onlangs deur ’n pofadder gepik is. Ek vra en hy wys my die letsel bo sy enkel.
Dit wemel van die slange hier by Kieliekrankie, en Heinie was in Februarie besig om een pofadder te verdryf toe ’n ander een hom van agter af beetkry.
Eers het hy sommer homself gedokter, die bytplek met sy Okapi-mes oopgesny en toe sout in die wond gevryf. Later het hy dit ook met gifbol behandel. Die bytery het vieruur die middag gebeur, maar Heinie het eers tienuur die aand in Twee Rivieren aangekom. Toe’s hy Ashkam toe, asvaal, en veel later Upington toe, om beter te word. Maar hy het oorleef en sy wond het goed genees.
Heinie het tans ’n ander kwaal. Erge tandpyn.
Ralph Cook en Sid Farnie is my buurmanne. Hulle is, soos ek, ook lus om ’n draai te stap en Heinie gaan haal sy R1-geweer om ons deur die duine te begelei.
Voor ons in die pad val, stop hou ’n parkbakkie daar stil. Twee ouens gesels met Heinie en dan sien ek hoe hulle ’n bekende wasgoedsak van die bak af laai. Skitterend, vars kouse!
Ons stap nie baie ver nie en bly binne sigafstand van die huisies, want as daar mense tuis is, moet Heinie ’n ogie kan hou. Ons soek !nabas, die Kalahari-truffel, ’n soort ondergrondse swam wat blykbaar kos van die gode is.
Heinie weet net waarna om te soek: ’n Krakie in die sand wat wys iets daar onder beur na bo, of die graweplek van ’n bakoorjakkals wat agter dieselfde lekkerny aan is.
Die !nabas ontwyk ons, maar Heinie wys ander plante. Die gemsbokkomkommer, die tsamma en die brandboontjie. Met die einste Okapi sny hy die komkommer en die tsamma oop sodat ons kan proe. Die tsamma is nie sleg nie, amper soos ’n flou waatlemoen. Die gemsbokkomkommer smaak weer soos ’n bitterder weergawe van sy Sondagslaai-neef.
Hy grawe die penwortel van die komkommer ook uit, ’n belangrike bron van water vir veral gemsbokke in die droogtetyd. Hy kerf vir elkeen ’n nerf en wag dat ons kou. Bitter soos die hel!
Gelukkig is ons amper weer terug by die huisies en Sid en Ralph nooi my en Heinie om ’n Hansa of twee saam met hulle te kom drink. Hulle wederhelftes, Maggie en Leta, is weer op die been ná hulle middagslapie en ons gee hulle die res van ons veldgroente om te proe. Die son sak en die biere word ’n rustige braai. Om ons in die wye woestyn kek-kek die blafgeitjies hulle laaste pogings om ’n vry te kry vir die aand.
’N HALFUUR VOOR SONOP sit ek reeds op my stoep. Dis doodstil. Twee gompoue beweeg onder die duin verby. Hulle het seker nou-nou in die dammetjie gedrink. Twee steenbokkies roer ook, ore wat die duineveld geruisloos in elke rigting radar. Skielik verbeel ek my ek hoor ’n kat miaau... Kan nie wees nie.
Links van my roer ’n stoel. Dis Heinie, hy sit ook al op sy stoepie. Ek beduie hy moet oorkom vir koffie en beskuit. Sy tand pyn nog en hy’t skaars geslaap, arme man. Ek vertel hom van die kat wat ek gehoor het.
“Dis Suzy, die wildekat,” vertel hy. “Sy bly al seker die laaste drie jaar hier rond. Sy’t selfs al kleintjies gekry hier onder een van die huisies.”
Heinie gooi vier opgehoopte lepels suiker in sy koffie (dis dalk waar daai tandpyn vandaan kom) en dan sit ons sommer net weer en kyk. ’n Mens kan heeldag so sit hier by Kieliekrankie. Dis mateloos mooi. In ’n droë jaar sal dit rooi duine wees so ver as wat jy kan sien, maar nou staan die gras en bossies en struike oral.
Skielik beweeg iets agter die sementwalletjie van die watergat. Ek kyk met die verkyker en gee dit dan vir Heinie aan. Suzy! Sy lê en wag vir voëls om te kom water drink. “Dis maar haar ding,” sê Heinie. “Sy sal daar wees tot so elfuur se kant en dan weer later vanmiddag probeer.”
’n Vuis vol kelkiewyne sirkel juis nou om die watergat. Hulle helder geroep, wat klink soos klippies wat in ’n gul glas shiraz val, trek fluitend saam met hulle ronde lyfies deur die lug. Dan kom sit hulle... Suzy kap na een, maar dis mis! Daar gaat hulle weer.
Maak toe
Twee Rivieren
Laaste aand Ná die verlatenheid van Kieliekrankie voel dit amper te bedrywig in Twee Rivieren, maar dis nogtans lekker om ’n stuk steak in ’n restaurant te gaan eet en vir ’n slag weer my ma te kan bel (jy kry nie sommer ’n selfoonsein elders in die park nie).
Ons gesin was in 1988 hier met vakansie. Dis ook wanneer ek laas hier was. Toe was dit nog die Kalahari-gemsbokpark; nou’s dit die Kgalagadi-oorgrenspark.
Ek het meestal presies dieselfde paaie gery as wat ons destyds in ons splinternuwe Cressida-stasiewa gery het. Vandag, met ’n viertrek, kan jy die Botswana-deel van die park verken, asook nuwe 4x4-roetes aan die Suid-Afrikaanse kant.
Daar’s ook mooi nuwe oornagplekke, en talle van die ou windpompe is met sonkragpompe vervang. Maar een ding sal dieselfde bly: Om vakansie te hou in die Kalahari is niks minder as ’n voorreg nie.
Die Kalahari het ’n waardigheid wat ’n mens stil maak wanneer die donderwolke hoog pak oor die Auob-rivier, soos vanmiddag op my laaste rit deur die park. Dit het ’n ongeforseerde wildheid. Alles hier is rofweg soos dit ’n eeu gelede was.
Daar’s nou wel grensdrade teen Suid-Afrika en Namibië, maar na Botswana strek dit ongehinderd al die pad Okavango toe. Om die waarheid te sê, as ’n wildebeeskoei werklik wil, kan sy hier van die Twee Rivieren-hek af stap tot teenaan die Chobe bo teen Zimbabwe.
Ná vyf dae in die park is ek so rustig soos kan kom. My hart klop omtrent drie slae per minuut. Ek het 950 km in die park gery, amper 100 bleeksingvalke getel, en drie leeus (die derde een het iewers op ’n duin opgestaan toe die wildtel-vliegtuig oorgevlieg het), twee wildekatte en een rooinekvalk gesien.
En ek het my nommerplaat teruggekry. Iemand het dit opgetel en by die hek gelos.
Dis huistoegaantyd. Ek haat huistoegaantyd.
Maak toe
Watter kamp is vir my?
TWEE RIVIEREN: Deurgangkamp Twee Rivieren is amper soos Skukuza: bedrywig, maar ’n goeie plek om jou besoek te begin.
Blyplek: Die kampeerterrein (30 plekke, 6 sonder krag) is langs die ingangshek. Vir rus en vrede is dit beter om by een van die ander twee kampe dieper in die park te gaan tent opslaan. Chalets nr. 1 tot 10 kyk uit oor die duine. Dalk sien jy ’n bakoorjakkals in die gloed van jou braaivuur. Wat’s daar nog? Die winkel hier is die grootste in die park, met al die basiese dinge soos vleis, brood en melk, en vuurmaakgoed. Koop hier alles wat jy vergeet het. Daar’s ’n restaurant, brandstofpompe, ’n swembad en ’n inligtingsentrum met ’n mooi foto-uitstalling. En maak daai laaste selfoonoproep hier, want verder noord is daar nie sein nie.
NOSSOB: Die hart van die park
As jy iewers ’n leeu saans gaan hoor brul, dan is dit by Nossob. Dis reg in die middel van die park (160 km; 3 uur en 30 min. van Twee Rivieren af).
Kampering: Die kampterrein (20 staanplekke met krag) is ruim, maar as jy ’n boom soek, moet jy vroeg kom. Hier is ook chalets. Wat’s daar nog? ’n Klein winkeltjie, inligtingslokaal, brandstof en swembad vir afkoel (wat ’n lekker gevoel is). Die watergat, wat saans belig word, is ’n hoogtepunt.
Wenk: Bring jou eie drinkwater as jy nie lus is vir die parkwater se bysmakie nie.
MATA MATA: Koeltekol
Hierdie kamp (120 km; 2 uur 30 min. van Twee Rivieren) lê teen die grens met Namibië – ideaal as jy beplan om die Kgalagadi via Namibië te besoek. Onthou, jy moet ten minste twee nagte in die park vertoef as jy van die grenspos gebruik wil maak. Dis om te keer dat die parkpad nie ’n deurpad vol Windhoek Lager-lorries word nie. Blyplek: Mata Mata is nog kleiner as Nossob, bespreek dus vroegtydig.
Daar is 8 huisies en 20 kampplekke met elektrisiteit.
Wat’s daar nog? ’n Klein winkeltjie, inligtingsbord, brandstof, swembad en lekker watergat teenaan die kampeerterrein.
WEG sê: Daar is afslag vir senior burgers in sekere kampe sekere tye van die jaar. Bel en vra.
Bederf jouself!
Die !Xaus-lodge bied luukse verblyf, en Weg-lesers kan tot einde 2008 teen die spesiale afslagprys van R1 395 p.p. wat deel daar oornag. Alle etes en aktiwiteite soos wildsritte en in die veld stap saam met Boesmangidse is ingesluit. 4x4- en staproetes beskikbaar. Besprekings: 021 701 7860 (vra vir Marichen) of info@tfpd.co.za; meer by www.xauslodge.co.za
Maak toe
By watter watergate is die wild?
André Butler, hoofveldgids in die park, wys jou waar jy wat kan sien.
Twee Rivieren-kamp
“Jou beste kans om leeus en luiperds te sien is by Samevloeiing, 4 km van die kamp af. Ry Leeuwdril toe, 11 km verder, as dit goed gereën het, want dan staan die water in die pad en kom suip die wild daar. Dit lok weer die leeus. Onthou, waar daar leeus is, sal jy nie sommer ander groot roofdiere soos luiperds en jagluipers sien nie.”
Weg sê: Die Kgalagadi het meer as 700 leeus en amper 200 jagluiperds.
Nossob-kamp
“Die watergat by die Nossob-kamp is in die leeus se gebied. Jy sal sommer hoor[italics] as hulle daar is. Die bruinhiënas kom ook hier deur. Sowat 23 km noord van Nossob is Kwang, wat gewild is onder groot roofvoëls, en 10 km suid is Marie se Draai, my gunsteling in die park. Hier het jy ’n kans om enigiets wat in die park voorkom te sien, behalwe kameelperde. Ek het hier al gesien hoe jagluiperds volstruise vang. Buiten leeus kan jy rooikatte en ratels sien.”
Mata Mata-kamp
“Dertiende Boorgat, Veertiende Boorgat en Dalkeith is almal op lusse (afdraaipaadjies wat ’n kilometer of drie verder weer by die hoofroete aaansluit). Hier’s kameelperde en leeus. Kyk in die bome vir luiperds. Wanneer die leeus nie daar is nie, is jou kans op jagluiperds beter. Die luiperds sien ’n mens soggens in die somer, maar later in die dag deur die winter, want niks roer eintlik voor so negeuur as dit koud is nie.”
Weg sê: As jy Mata Mata toe ry en nie ’n kameelperd sien nie, dan is dit tyd vir venster skoonmaak...
Wat het jy nog nooit gesien nie?
“ ’n Ietermagog. Gewoonlik word net so twee van hulle elke jaar aangetek, en 2008 se rekening moet nog geopen word. Hulle is bedreig en eet net twee spesifieke soorte termiete.”
Maak toe
Lees die res van dir storie
“Okei, kom haal julle waslappies!” hoor ek uit die kampplek langs my. Dis aan die donker word hier in Nossob, en ek het dit net-net gehaal voor hektoemaaktyd. Die sinkplaatpad hierheen het my en die kar simpel geskud. Iewers langs die pad het ek ’n nommerplaat verloor.
Gelukkig is die kampwinkeltjie nog oop en ek koop die onontbeerlike driemanskap: hout, ys en vleis. Vanaand braai ek sosaties.
Gisteraand het ek in die Molopo Lodge, 60 km suid van die park, geslaap. Van Twee Rivieren, die park se ingang, tot hier by Nossob was nog vyf uur se ry. Dis gewoonlik effens korter, maar swaar reën het poele water in die pad laat staan en ek moes ’n ompad ry.
Die eerste 15 km was vervelige duineveld waar jy min wild sien. Maar dis in die haak. Daai 15 km is maar net die voorprent. Toe ry ek die Auob-bedding oor die laaste duin binne...
Regs van my bad drie volstruise in ronde poeletjies reënwater. Vyftien klein verestoffertjies hol rond en probeer self nou en dan in die modder plas. Gemsbokke, die embleem van die park, staan oral rond, swart-en-wit sokkersokkies hoog opgetrek, balmaskers oor die oë.
Om die volgende draai stop ek weer. Ek moet. Voor my kom seker 200 springbokke aan, wei-wei, maar so seker soos ’n tsoenami.
Wanneer die enjin af is, hoor ek hulle hoewe, hulle proese. Twee ramme jaag mekaar, kom tot stilstand in ’n stofwolk en kap horings.
Kommentaar