Lüderitz is 'n tydkapsule, kom 'n mens agter as jy na foto's kyk van jare gelede en daarna van 'n koppie af oor die dorpie tuur. Bittermin het verander.
Moenie Lüderitz met die meer glansryke Swakopmund vergelyk nie – hier is meer as genoeg om jou besig te hou én te fassineer.
Lüderitz is ’n tydkapsule, kom ’n mens agter as jy na foto’s kyk van jare gelede en daarna van ’n koppie af oor die dorpie tuur. Bittermin het verander. Oral sien jy geboue wat in die diamantstormloop opgerig is. Die Duitse invloed staan nog sterk, maar anders as Swakopmund is dié hawedorp nog nie deur ontwikkeling geskend nie.
Doendinge in Lüderitz: (Nota: Pryse akkuraat in Maart 2009.)
1. Verken die skiereiland
Diazpunt is 22 km buite die dorp. Dis waar die Portugese seevaarder Bartlomeus Diaz in 1488 'n klipkruis staangemaak het.
Ruim drie of vier uur in vir die rit van 65 km langs Lüderitz se skiereiland. Pak padkos en takel dan dié sedanvriendelike grondpaaie teen ’n bestendige 30 km per uur – en wees bedag op padvarke wat onnodig om die draaie jaag. ’n Sinvolle plek vir jou eerste benerek is by Diazpunt, 22 km buite die dorp, waar die Portugese seevaarder Bartlomeus Diaz in 1488 ’n klipkruis staangemaak het.
Bring ’n warm baadjie saam, want hier kan die wind jou sake vir jou werk. (Dis dalk hoekom die Europeërs 400 jaar ná Diaz nog nie weer ’n voet hier gesit het nie.)
Ry dan seelangs na die Fjord, sowat 6 km verder, waar daar ’n beskutte piekniekplek is. Op die pad terug Lüderitz toe ry jy eers verby Grosse Bucht (“grootbaai”) en dan weer verby die strandmeer.
Weg sê: Kry vooraf ’n gratis kaart van die skiereiland by Lüderitz Safaris & Tours in Bismarckstraat.
Maak toe
2. Loer in by die Goerke Haus
Hierdie spoggerige huis, een van die sogenaamde diamantpaleise, is in 1909 deur die diamantmagnaat Hans Goerke gebou vir sy verloofde, Louise.
Hierdie spoggerige huis, een van die sogenaamde diamantpaleise, is in 1909 deur die diamantmagnaat Hans Goerke gebou vir sy verloofde, Louise.
Blykbaar was Louise se gesindheid nie heeltemal so goed nie, want sy kon nie op Lüderitz aanpas nie en die egpaar is in 1912 sak en pak terug Duitsland toe.
Die brandskildervenster, kristalglase en antieke meubels neem jou op ’n tydreis van ’n eeu gelede. En op die boonste verdieping kry jy ’n puik uitsig oor die dorp. Die Goerke Haus is ’n nasionale gedenkwaardigheid en dien soms as ’n eksklusiewe gastehuis vir ministers en BBP’s.
Koste: Gratis (R20 per persoon vir ’n begeleide toer)
Weg sê: Die Goerke Haus word soms ook as filmstel ingespan. Wie weet, dalk loop jy vir Angelina Jolie raak neffens die gebrandskilderde flamink.
Maak toe
3. Bekyk Kolmanskop se vergane glorie
Die begeleide toere bied ’n interessante geskiedenisles
vol staaltjies, maar die lekkerste is wanneer jy daarna op jou eie die ingesonke huise en geboue verken.
Ruim minstens ’n oggend in vir ’n besoek aan die spookdorp Kolmanskop, sowat 10 km buite Lüderitz. In 1908 het die spoorwegwerker Zacharias Lewala hier ’n klein, blink klippie raakgespit. Sy bestuurder, August Stauch, het dadelik besef dis ’n diamant. Stauch het oornag ’n miljoenêr geword en die diamantstormloop daarna het gelei tot dié luukse Europese enklave in die dorre woestynlandskap.
Hier was enorme huise, ’n teater, kegelbaan, casino en hospitaal met Suider-Afrika se eerste X-straalmasjien.In 1928 is ryker diamantvelde by Oranjemund ontdek en Kolmanskop het leeggeloop. Vandag is dit ’n spookdorp.
Koste: R45 (volwassenes) en R25 (kinders tussen 6 en 14) vir ’n permit by Kolmanskop se ingang of by Lüderitz Safaris & Tours in Bismarckstraat.
Weg sê: Die begeleide toere bied ’n interessante geskiedenisles vol staaltjies, maar die lekkerste is wanneer jy daarna op jou eie die ingesonke huise en geboue verken.
Maak toe
4. Dwaal deur die dorpsmuseum
Die Lüderitz-museum is 'n ouwêreldse plek waar jy op die hoogte kan kom van die dorp se geskiedenis (veral wat die diamantera betref) en meer uitvind oor die streek se diere en plante.
Moenie dink dié ou geboutjie in Diazstraat is vervelig binne nie. Die Lüderitz-museum is ’n ouwêreldse plek waar jy op die hoogte kan kom van die dorp se geskiedenis (veral wat die diamantera betref) en meer uitvind oor die streek se diere en plante.
Blaai deur ou foto’s en bekyk ’n dwergmoordvis se skelet.
Hier is ook houtsneewerk van Duitse krygsgevangenes uit die Eerste Wêreldoorlog, ’n opgestopte flamink, ’n leeuskedel van Outjo en... man, kom kyk self!
Koste: R10 p.p. Die museum is Maandae tot Vrydae oop tussen 3.30nm. en 5nm., maar reël met die kurator vir alternatiewe besoektye.
Kontak: 00 264 63 202 346
Weg sê: Die museum is dalk klein, maar hier is bedrieglik baie om te besigtig. Moenie dit soos ’n McDonalds Drive Thru benader nie.
Maak toe
5. Raak stil by die Felsenkirche
Dit word dikwels bestempel as die mooiste kerk in Namibië, met indrukwekkende brandskildervensters, waarvan die prominentste een deur Duitsland se keiser Wilhelm II geskenk is.
“Die wyse man bou sy huis op die rots,” het ons altyd in Kinderkrans gesing.
Wel, die Felsenkirche – die rotskerk – op die hoek van Hohe- en Kirchstraat is in 1912 op ’n rots gebou en staan vandag steeds trots op die koppie bo die dorp. Dit word dikwels bestempel as die mooiste kerk in Namibië, met indrukwekkende brandskildervensters, waarvan die prominentste een deur Duitsland se keiser Wilhelm II geskenk is. Daar word deesdae steeds eredienste in die kerk gehou.
Koste: Gratis. Skenkings is welkom. Die kerk is in die somer van 5 nm. - 6nm. en in die winter van 4 nm. - 5 nm. oop.
Kontak: 00 264 63 202 719; 00 264 81 129 7236; ludsaf@africaonline.com.na Weg sê: Of jy nou boekevat of net wil stil en rustig raak, die Felsenkirche bied ’n broodnodige verposing ná ’n bedrywige dag.
Maak toe
6. Soek 'n sandroos op Agaatstrand
Agaatstrand, sowat 6 km noord van Lüderitz, is
'n rustige baaitjie. As die geluk aan jou kant is, kan jy vroegoggend of laatmiddag 'n gemsbok of twee op die strand gewaar.
Agaatstrand, sowat 6 km noord van Lüderitz, is ’n rustige baaitjie met die golwende duine van die Namibwoestyn wat tot op die einders strek.
Die sandkorrels is groot en die strand blink van die mika-minerale, met hier en daar agaatstene.
Jy kan hier ook van die pragtige windverweerde sandrose raakloop, maar jy mag dit net huis toe neem op ’n begeleide toer saam met ’n gids van Natuurbewaring.
Hier is braai- en ablusiegeriewe. Jy kan die koue seewater aandurf, hoewel die strand nie menseredders het nie.
Weg sê: As die geluk aan jou kant is, kan jy vroegoggend of laatmiddag ’n gemsbok of twee op die strand gewaar.
Kommentaar