Blouberg-natuurreservaat
Min mense ken dié Blouberg. Dit lê ongeveer 17 km noordwes van Vivo, ’n uur se ry anderkant Polokwane, in Alldays se rigting.
Verblyf:
Die Tambotie-boskampie het ’n grasdakhuisie met 4 beddens, 2 semi-permanente tente met 2 twee beddens elk, plek om ’n tent op te slaan of selfs ’n woonwa staan temaak. ’n Maksimum van 12 mense kan hier bly.
Die Modumele-wilderniskamp het 1 groot staanplek onder ’n boom. Dis ideaal vir ’n tent, safarisleepwa of woon-wa. As jy enige van die kampe bespreek, is dit net joune, al is julle net 2 mense!
Badkamers: Die Tambotie-boskampie het ’n spoeltoilet en buitestort met ’n donkie vir warm water. Hout word verskaf.
Bring toiletpapier. Modumele het geen ablusie-geriewe nie – bring ’n grafie en vuurhoutjies om
die papier te verbrand.
Kombuisgeriewe: Tambotie het ’n klein, oop kombuis met ’n vrieskas, oond en lampe wat
alles met gas werk. Hier is nie altyd gas nie – bring jou eie veldvrieskas en lamp. Hier is ook eetgerei (bring veiligheidshalwe jou eie), ’n paar plastiek-kerksaalstoele en ’n groot houttafel.
Braaigeriewe: Slegs by Tambotie – ’n pragtige braaiplek met roosters, ’n graaf, kampketel en
’n verskeidenheid driepootpotjies.
Ander geriewe: 12 opvoubare kampstoele.
Elektrisiteit: Nee.
Selfoonontvangs: Swak sein plek-plek.
Drinkwater: Slegs by Tambotie.
Troeteldiere: Verbode.
Wild: ’n Groot verskeidenheid bosveldwild soos kameelperde, koedoes, sebras, rooihartbeeste, gemsbokke en rooibokke. Hier is ook ongeveer 60 swartwitpense en sowat 100 buffels – en moenie van die luiperds en bruinhiënas vergeet nie.
Aktiwiteite: Gaan op ’n wildsrit of gaan stap; kyk voëls; voer voëls by die aasvoëlrestaurant; hou piekniek by die aasvoëlbroeikolonie.
Hektye: 7.30 vm. tot 4 nm. Reël met die reservaatbestuurder as jy laat gaan aankom.
Kontak: Johan van Wyk (reservaatbestuurder) by 015 593 0702 of 083 251 7071.
Koste: Eenmalige toegang is R10 p.p. (R5 vir 6-12-jariges en pensioentrekkers) en R20 per voertuig. Tambotie en Modumele kos al twee R50.
Klik hier vir doendinge by Blouberg
Hoe kom ek by Blouberg?
Van Polokwane af: As jy van Pretoria af in Polokwane kom, draai jy links by die eerste groot sirkel en volg die R521-Dendron-padbordjies (ook op plekke as Mogwadi aangedui) deur die nywerheidsgebied, uit die stad, tot op Vivo. Draai links by die bord wat sê: Schiermonikoog en Indermark. Ry 8,7 km tot by Kromhoek en draai regs. Ry nog 8,4 km tot by Blouberg se ingang aan die linkerkant, net ná ’n sitrusboord. GPS (Blouberg se hek): S 22 58’ 37.5” E 29 09’ 03.3”
Totale afstand: 360 km van Zambeziweg in Pretoria (vier uur; R99,20 tolgeld – eenrigting).
Terug na bestemmings | Terug na bo






















Kommentaar