Ngorongoro-krater, Tanzanië
In Tanzanië se Ngorongoro-krater sien jy op een wildsrit meer diere as in The Lion King, vertel Erns Grundling.
Ngorongoro-krater 101
Die Ngorongoro-krater, 180 km van die stad Arusha in Tanzanië, is deel van die groter Ngorongoro-bewaringsgebied.
Koste: ’n Vierdagpakket na die Manyara-meer en Ngorongoro-krater kos R22 100 p.p. (dit sluit alle vlugte, etes, verblyf, vervoer en parkgeld in).
(Nota: Alle pryse akkuraat in Januarie 2010)
Kontak: 012 664 2229 www.tribesafari.com
Afrika se Eden
Ek het nog nooit so iets beleef nie:
’n Troppie sebras, almal spekvet en gesond, staan luierig en vreet. Hulle weet dit nie, maar skaars 100 m verder hou drie leeuwyfies hulle uit die lang gras dop.
En reg langs hierdie toneel stap ’n Masai-herder – met sy helderoranje kleed wat in die wind wapper – doodluiters met sy kudde beeste verby...
Terwyl ek hier op safari in Tanzanië die Ngorongoro-krater uit ’n Land Rover verken, is Elton John se treffer “Circle of Life” amper noodwendig in my gedagtes. “There’s far too much to take in here, more to find than can ever be found.”
Ek kyk rondom my: Ons word heeltemal omring deur die hoë kraterwand. ’n Geslote amfiteater. Afrika se Eden.
Die krater het ’n fassinerende geskiedenis:
Meer as twee miljoen jaar gelede het ’n vulkaan, wat glo selfs hoër was as Kilimandjaro, ontplof en heeltemal ineengestort.
Só het die krater, ’n sonderlinge natuurverskynsel, ontstaan: 610 m diep, met ’n deursnee van 20 km en ’n vloer van 264 km². Dis die grootste heel kratervloer op aarde en word dikwels die agste wonder van die wêreld genoem.
Hier kom meer as 25 000 diere voor
Dit sluit die Groot Vyf in én dit het die hoogste konsentrasie roofdiere op een plek ter wêreld.
Anders as die Serengeti, wat net 150 km hiervandaan is, hoef die diere wat in die krater woon, nêrens heen te migreer nie, want hier is ’n groot meer en heelwat stroompies en poele. En die uitgestrekte grasvlaktes bied oorgenoeg weiding vir die duisende sebras, wildebeeste en bokke. Net die kameelperd is afwesig – die kraterrand is te steil en ou Langeraat het hom nooit hier kom vestig nie.
Op die einders rank die stofwolkies lugwaarts soos die ander 4x4-voertuie die gebied deurkruis. Selfs al is hier honderde besoekers, voel dit steeds oop en ongerep.
Ons kom af op nog twee leeuwyfies. Dit is net ná twaalf in die middag. Die sonnetjie bak; ons is net drie grade suid van die ewenaar.
My tweede verrassing vir die dag volg:
Die twee leeus staan op en stap houtgerus in ons rigting.
Een kruip tot reg onder ’n Land Rover... net haar stert steek uit! En die ander een kom sit teenaan ’n ander voertuig, op soek na skaduwee. Soos huiskatte. Die kameras flits en ’n paar Koreane gil opgewonde.
Moet net nie dink hierdie leeus is mak nie, waarsku ons gids. Hulle is dalk gewoond aan die voertuie, maar as jy dit buite die Land Rover durf waag, is jy beslis middagete.
Hier is só baie diere dit voel asof ek ’n byspeler is in The Lion King – al wat kort, is Pride Rock met ’n bobbejaan wat ’n jong leeuwelpie omhoog hou.
Nóg diere...
Ek sien ’n magdom wildebeeste en sebras, ’n groot trop olifante, ’n hand vol hiënas, ’n ma-swartrenoster en haar dogter (hier is tot 30 van dié bedreigde diere), ’n jagluiperd en ’n poel met ’n stuk of 40 seekoeie wat digby mekaar dobber en nou en dan met ’n geplas omdop.
Die Magadimeer het ’n pienk skynsel van al die flaminke op die water. Ons eet middagete by een van die poele. Ek moet kort-kort koes vir gulsige valkies wat op my kospakkie afpyl.
Ná sowat vier uur op die kratervloer is dit tyd om te vertrek. Op pad uit dink ek weer aan Elton se liedjie: Ons sien ’n buffelskedel en ’n swerm aasvoëls wat met wydgespreide vlerke op ’n olifantkarkas toesak.
Hier gaan die natuur onverstoord sy gang
Terwyl ons die kronkelpaadjie teen die steil kraterrand aandurf, kyk ek heeltyd terug oor my skouer. Ek wens almal wat ek liefhet, kon dié ervaring in ’n ware paradys met my deel.
En dan is daar die Serengeti...
Skaars 150 km van die Ngorongoro-krater af lê die Serengeti- nasionale park, waar meer as ’n miljoen wildebeeste en 200 000 sebras jaarliks oor die vlaktes migreer op soek na groener weivelde.
Koste: Teen R26 950 p.p. kan jy die Manyarameer, die Ngorongoro-krater én die Serengeti sien. Jy bly dan ses dae.
Kontak: www.serengeti.org. Bespreek by 012 664 2229 of www.tribesafari.com.
Terug na bestemmings | Terug na bo



















Kommentaar