Owen Muhenje, die jong gids wat jou rondwys bo-op dié uitkykkoppie, sal jou vertel dat die Epupa-valle 38 vertakkings maak wanneer die Kunenerivier vol is. Jy kan maar tel; Owen is nie ver verkeerd nie. Die hoofwaterval is heel regs, daar waar die sproeireën hang.
Kaokoland is nie noodwendig Namibië se wilde weste nie. Toast Coetzer en Samantha Reinders het arm-by-die-venster-uit deur dié ruwe streek se makker helfte gery – bo, tot teenaan die Kunene.
Kaokoland 101
Palmwag Lodge
8 netjiese staanplekke reg langs die riviertjie. Die ablusiegeriewe (warm stort, spoeltoilet) is puik; elke staanplek het ’n afdak, opwas-bak en braaiplek.
Hier’s ’n swembad en ’n restaurant by die lodge langsaan. Luukse verblyf is ook beskikbaar. Koste: R95 p.p. vir kamp; onder 12’s halfprys (pryse gaan eersdaags op). Kontak: 00 264 64 416 820 (besprekings); 00 264 67 697 012 (lodge); palmwag@mweb.com.na Weg sê: As jy gelukkig is, sien jy die woestynolifante – hulle kom soms hier suip.
Fort Sesfontein Lodge
’n Luukser opsie in die Sesfontein-Warmquelle-omgewing. Hulle het ook ’n gawe restaurant as jy net wil inloer. Koste: R780 p.p. vir bed en ontbyt. Kontak: 00 264 65 685 034; info@fort-sesfontein.com.na
Ongongo-kampterrein
25 staanplekke met braaiplekke, storte en toilette. Die swempoel by die waterval is ’n moet. Hout, braaipakke en koeldrank is te koop. Koste: R60 p.p., kinders tussen 7 en 11 jaar R40. Kontak: 00 264 81 314 0216; ongongo.campsite@hotmail.com Weg sê: Onthou, die laaste 5 km na Ongongo is tweespoor - ’n bakkie is noodsaaklik.
Opuwo Country Hotel
10 groot staanplekke (tot 10 mense kan ’n staanplek deel) met bome, elektrisiteit, braaiplek, krane en warmwaterstorte en toilette in die ablusieblok.
Dit is agter ’n koppie net buite Opuwo, met lieflike uitsigte, veral as jy in die swembad by die hotel uitspan. Kampeerders het ook toegang tot die restaurant by die hotel. Koste: R75 p.p. vir kamp; kinders onder 12 halfprys. Kontak: 00 264 61 374 750; opuwo@ncl.com.na
Omarunga
6 staanplekke onder die palms reg teenaan die rivier. Warmwaterstorte, spoeltoilette, opwasplek, braaiplekke en krane. Luukse tenteenhede is beskikbaar as jy voel dis tyd vir bederf. Kroeg en restaurant langsaan. Hout te koop. Koste: R60 p.p. vir Suid-Afrikaners; kinders onder 12 halfprys; onder 6 gratis. Kontak: 00 264 61 234 342 (besprekings); 00 264 64 403 096 (kamp); camtrav@iafrica.com.na Weg sê: Hier’s ’n ander kampplek reg langsaan waar jy kan aanklop as Omarunga vol is. Bespreek vooruit tydens vakansietye.
Plan B* (*B vir Bekostigbaar)
Lus vir vars brood? Vra vir Teresa as julle by Omarunga by Epupa kamp. Sy bak vars broodrolletjies (heerlik met grondboontjiebotter en stroop) teen R2 elk.
Kunene River Lodge Twaalf kampplekke onder groot jakkalsbessie- en hardekoolbome. Krag, braaiplekke, ablusieblok
met warm water, ’n swembad en ’n restaurant. Luukse verblyf is ook beskikbaar. Koste: R80 p.p.; R40 vir kinders tussen 4 en 12 jaar; kleintjies gratis. Die prys styg in November tot R100 en R50 onderskeidelik. Kontak: 00 264 61 224 712; reservations@resdes.com.na Weg sê: Dis ook puik voëlkykwêreld dié. ’n Reuse-ooruil slaap sommer reg in die kamp.
Hippo Pools
As jy naby die Ruacana-valle wil kamp, is dié jou beste opsie – dis net onderkant die valle, teenaan
die Kunene. Die terrein is effens oorgroei, maar die 10 basiese staanplekke self is skoon en ruim. Warmwaterstorte, braaiplek, kraan en toilette. Koste: R50 p.p.; kinders onder 12 halfprys. Kontak: 00 264 81 296 2349
Hobatere Lodge
Vyf mooi staanplekke tussen klipkoppies. Elke staanplek het ’n braaiplek, kraan en houttafel met bankies. Warm(rige) storte en spoeltoilette.
Die lodge self is ’n ent weg en het ’n aparte afdraai van die teerpad af. Koste: R65 p.p. vir kamp; kinders onder 7 gratis. Kontak: 00 264 61 232 740; reservations@islandsinafrica.com
As jy gedink het jy kan Kaokoland nie sonder ’n GPS, ’n persoonlike 4x4-instrukteur en drie maande se blikkieskos aanpak nie, dink weer. Ja, sekere dele is rof, maar Kaokoland het ook ’n makker helfte: Dit lê in ’n strook langs die C43, van Palmwag af noord tot teen die Kunenerivier, by die Epupa-valle – een van die mooiste plekke in Namibië.
Die brandstofsituasie
Ons het brandstof gekry op Khorixas (behoort altyd bestendig te wees), Palmwag (die lodge het dit ook nodig, dus goeie voorraad), Opuwo (twee vulstasies) en Ruacana (betroubaar). Sesfontein het enkele pompe by die Fort Sesfontein Lodge, maar daar was geen petrol tydens ons besoek nie – dis dus raadsaam om vooraf te probeer uitvind. Op Okongwati (tussen Opuwo en Epupa) is daar ’n informele garage waar hulle vir jou brandstof uit ’n drom kan pomp, maar maak eerder vol op Opuwo – beskikbaarheid is nie gewaarborg nie. Daar is geen brandstof by Epupa nie. Weg sê: Maak tenk vol wanneer jy kan en ry ’n petrolkan of twee saam as jy plek het.
(Nota: Alle pryse akkuraat in Augustus 2009)
Lees die volledige storie:
Hier kom groot Kaoko
By die Palmwag Lodge kan jy kamp, swem, 'n yskoue koeldrank bestel, restaurantkos eet én jou tenk volgooi. Daar is baie wild te sien net noord van Palmwag, sommer langs die C43 soos jy ry.
As jy gedink het jy kan Kaokoland nie sonder ’n GPS, ’n persoonlike 4x4-instrukteur en drie maande se blikkieskos aanpak nie, dink weer.
Ja, sekere dele is rof, maar Kaokoland het ook ’n makker helfte: Dit lê in ’n strook langs die C43, van Palmwag af noord tot teen die Kunenerivier, by die Epupa-valle – een van die mooiste plekke in Namibië.
Die Kunene, op sy beurt, is vol verrassings.
En as jy die Ruacana-watervalle verder oos op volle vaart vang, gaan jou mond oophang.
Groot dele hier in die noorde is nog taamlik ongerep, maar nie so afgeleë dat jy jou eie petroltenkwa moet saamsleep nie. Trouens, jy’t nie eens ’n 4x4 nodig nie. Goed, dit gaan nie kwaad doen om ’n veldwa te hê vir die wis en die onwis nie, maar jy’t eintlik net ’n voertuig nodig wat effens hoër in sy sokkies staan.
Ons weet al dié dinge nou, maar toe ek en Samantha aanvanklik in Windhoek aankom, was ons ook maar effens bekommerd...
Toe’s dit kalm by die Palm
“Noord van Palmwag? Nee wat, vergeet maar, ons het die afgelope maand ’n paar voertuie daar verloor.”
Dis wat die ou by die motorhuuragentskap vir ons vertel toe ons in Windhoek vir die Nissan- 4x4 teken. Ek was bang hiervoor, want ek weet dit het baie gereën in die noorde van Namibië. Dele van Ovamboland het erg verspoel en die afgelope somer het daar selfs mense verdrink. Ek en Samantha is nog in Windhoek se buitewyke toe ’n wolkbreuk oor ons kom ketting trek.
Oral langs die pad – verby Omaruru, Uis en Khorixas – kan jy sien Namibië het ’n goeie jaar agter die blad. Die gras staan geil, plek-plek nog groen, maar meestal reeds geelwit namate die seisoen stoom verloor.
Van Khorixas af ry ons weswaarts oor die sagte bulte van die C39-grondpad. Ons sien nog nie veel reënskade nie, maar jy moet stadig deur die driffies, anders skraap die kar onder.
Laatmiddag draai ons regs, noorde toe in Palmwag se rigting, op die C43 – die grondpad wat tot heel bo by die Epupa-watervalle loop. Die pad is nie te sleg nie, maar in die lope waar vloedwater oor die pad is, lê dit nog vol klippe, van vuis- tot voetbalgrootte. Dis egter begaanbaar, want die padmakers was reeds hier.
Die dorpie Palmwag en die Palmwag Lodge, aan die oewer van ’n boloop van die Uniabrivier, is ’n oase. Mercia Kenare stop ons eers ’n Savanna in die vuis en gaan wys ons dan waar ons kan kamp. Oral groei noordelike lalapalms of makalanipalms – ja, dis waar daai makalani-neute vandaan kom wat oral in Namibië te koop is as aandenkings. (Die verkoper kan jou naam op die neut uitkerf, maar stry hom af tot R20.)
Die stuk wildernis tussen Palmwag en die Skedelkus is ’n bewarea van 4 50 0 km2 – byna ’n kwart van die Krugerwildtuin.
Die volgende oggend oor koffie wys twee ouens wat vir die Wêreldnatuurfonds werk, vir my op die kaart waar Kaokoland se grootste konsentrasie swart-renosters voorkom: Dit is net noord van Palmwag, waar ons nou-nou gaan ry!
Maak toe
Rylopers en padmakers + VIDEO
By die Ongongopoel kan jy afkoel ná 'n lang dag se stofpad.
Almal is pêlle in Warmquelle
Vroegoggend gooi ons die tenk vol by die Palmwag-vulstasie, want wie weet wanneer ons weer brandstof gaan sien. Ons maak plek op die bakkie se agtersitplek vir Aaron Tjiwinda en Emmie Kaisuma wat wil saamry Sesfontein toe, 120 km noord hiervandaan. Dan vat ons weer die C43, stadig, met alle oë wat soek vir swartrenosters.
“Dis nie maklik om hulle raak te sien nie,” maan Aaron. Ongelukkig is hy reg. Ons sien gemsbokke, springbokke, Hartmannse bergsebras en ’n trop van byna 20 kameelperde. Hier’s glo ook leeus – sommer heelwat. Vroeër het ek toevallig by die lodge gehoor iemand praat met Flip Stander, leeunavorser op Purros, noordwes van hier. Blykbaar het hy reeds sowat 135 leeus in die streek met ’n radiohalsband toegerus.
Van die riviere hier het nog water, maar darem nie veel nie en deurry is altyd maklik. Ons stop om foto’s te neem en sien tot ons verbasing vissies, paddavisse en watergoggas in die vlak poele. Dis ongelooflik dat hulle so skielik verskyn wanneer dit in dié dorre landskap reën.
Ons stop by ’n padskraper wat mank geparkeer staan. Twee mans werk aan ’n wiel wat plat
op die grond lê. Pap. Simon Haraseb en Zebulon Abel kyk op wanneer ek nader stap.
Hulle kry nie gereeld ’n pap wiel nie, sê Simon, maar hulle sukkel nou al van vroegdag met dié ene. Hulle karavaantjie staan net hier op die bult – hulle’t nog nie veel gevorder vandag nie.
“Wat van die leeus; sien julle hulle?” vra ek.
Simon vryf sy ken en glimlag. “Ja, nogal. Ek het eenkeer opgestaan in die oggend – iets het gebrul in die nag – toe ek die deur oopmaak, toe lê hy daar. Ek het daai deur vinnig weer toegemaak! Maar ek’s hulle nou al gewoond.”
Die geluk is egter nie aan ons kant nie. G’n leeus en g’n swartrenosters nie, maar die veld is pragtig en hier’s heelwat ander wild te sien. “Daai bome, ons noem hulle omivongorua in ons taal,” vertel Aaron wanneer ons ’n ent weg is. Hy praat van die bottelbome. Hy sê die Himbas hol die vetpensdeel uit en gebruik dit as vleisbak of om water in te bêre.
Aaron is self ’n Himba en hoewel hy nie tradisioneel aangetrek is nie, het hy nie sy onderste voortande nie – dis Himba-tradisie dat dié tande getrek word wanneer jy sowat twaalf jaar oud is.
“Hoe doen ’n mens dit?” wil ek weet.
“Jy soek daai spyker van die hout, dan slaan jy hom teen die tand met die hamer. Dis seer, en jou kop sommer ook! Maar dis ons tradisie.”
Jislaaik, skielik waardeer ek daai aaklige naald waarmee dr. Coetzee my as kind ingespuit het wanneer hy ’n tand moes trek of ’n gaatjie boor. Sowat 60 km noord van Palmwag daal die pad af in ’n uitgestrekte vallei, geel met die droë gras wat van die een wand na die ander spoel soos Guernsey-room, tot waar die ruwe berge se kaal rotse weer oorneem.
Dan begin ons weer mense sien – Khowarib, Warmquelle en Sesfontein lê kort op mekaar. Emmie klim af op Warmquelle, voor die drankwinkel, waar dit jolig gaan. Ons ry deur Sesfontein toe, laai vir Aaron af voor – reg geraai – die drankwinkel en dan gaan soek ons self lafenis by Fort Sesfontein, die lodge hier.
Ná ’n bier by die lodge (met ons voete wat koel in die swembad hang) ry ons terug Warmquelle toe. Warmquelle kry sy naam van die warm water wat hier uit die grond borrel.
Hier’s nie bordjies wat die bron aandui nie, maar dis skaars ’n kilometer van die hoofpad af, naby die skool – vra maar net vir aanwysings. Die bron is omring deur pragtige bome, maar die terrein lê vol rommel. Dit kan ’n gawe kampplek wees as dit net skoongemaak word.
Ongongo is ’n kampeerplek 5 km buite die dorp met ’n tweespoorpaadjie langs. Iemand het ons vertel van die pragtige swempoel daar.
Die kampterrein self lê op ’n langerige eiland in die rivierbedding, maar die eienaar, Liana Greeff, verseker ons dis veilig.
Nadat ons tente staan, koop ons ’n braaipak by Liana en gaan swem. Die poel – hulle noem hom ook Blinkgatjie – is diep (ek kon nie die bodem raak nie) en jy kan onder die waterval gaan sit sodat die water jou skouers masseer. Salig. Onder die oorhangrots hou ’n waterskilpad my met een glasogie dop.
Reg in die middel van die Epupa-valle staan hierdie mooi kremetartboom. Die lig is een sononder op sy beste vir foto's.
Want Opuwo se koffiewinkel is toe
Sesfontein lê eintlik nog in Damaraland, maar van hier af ry ons beslis Kaokoland binne. Die C43 raak ál nouer en by Joubertpas kan ons sien die pad was tot onlangs onbegaanbaar. Hope klippe lê nou eenkant (danksy die padmakers) en ons kan met gemak deur die nou dele van die klofie ry. Dit help ook baie dat die steilste dele van die pas geteer is.
Om ons lê die Joubertberge. Dis wild en mooi. Die vroeë herfs tooi party bome in geel. Ons sien die eerste kremetarte in die laaste vlak poort van die berg. Dis altyd ’n lekker gevoel om dié ou grotes te sien, want dan weet jy jy’s lekker ver van die huis af. Dis pad loop nou meestal gelyk. Dis verveliger om te ry, maar steeds mooi.
Opuwo is die grootste dorp in die streek. Hier’s twee vulstasies en selfs ’n OK. Terwyl ek by die BP volmaak, stap Samantha oor na die koffiewinkel, maar dis toe. Aangesien die grondpad van hier af Epupa toe glo “soos ’n teerpad” is, besluit ons om die oorblywende 175 km te takel.
Langs die pad sien ons al hoe meer Himbas, veral vroue en kinders in tradisionele klere en grimering. Die rooi kleursel wat hulle in hulle vel invryf, is ’n mengsel van oker, beesvet en kruie.
Die Himbas weet goed die toeriste wil foto’s van hulle neem en dat hulle geld daaruit kan maak. Op een plek staan ’n kind in die middel van die pad sodat ek móét stop. Hy wil hê ek moet ’n foto neem en betaal.
Oral sien jy afdraaie na ’n “Himba traditional village” of iets dergeliks. Ons ry verby, want iewers behoort ons wel ’n meer georganiseerde Himba-toer teë te kom waarmee ons gemaklik sal voel.
Okongwati is die enigste groterige dorp tussen Opuwo en Epupa. Hier’s ’n polisiekantoor, enkele winkels (seep, blikkieskos) en selfs ’n informele garage.
Anderkant Okongwati ry ons deur ’n breë rivierloop met lang, slap noordelike lalapalms op die oewer voordat ons weer die berge binnery – die Omuhonguberge na die ooste en Baynesberge na die noordweste. Ná ’n kort pas daal die pad geleidelik na die Kunenerivier. Ons ry versigtig deur die skerp draaie en lastige driffies.
Himba-huise, vet beeste, groen doringboom- en mopanievlaktes en kremetartbome skuif verby.
Skielik, wanneer ons om ’n draai kom, lê die Kunene voor ons met palms wat dig saamdrom soos miere om ’n plas koeldrank. Die hoofwaterval se sproeireën is ook sigbaar.
Ons ry opgewonde nader en draai in by die Omarunga-kampplek, teenaan die vet bruin rivier en skaars 150 m stroomop van die waterval. Die kamp-terrein is pas gehark en die palms gooi skaduwee.
Die druisende Kunene en die bulderende watervalle by Epupa is soos die see ná ’n lang, warm reis deur die binneland. ’n Mens wil sommer net inspring en swem... maar moenie! Die stroom is heeltemal te gevaarlik én hier’s krokodille. Net anderdag het twee mense hier verdrink. Jy kan wel tot teenaan die waterval stap. Dit is ’n uitgestrekte affêre, met (so sê hulle) 38 afsonderlike watervalle oor die breedte van die rivier.
Die beste uitsig is van die koppie af net onder die valle. ’n Mens betaal net R10 vir dié voorreg, en dis die moeite werd. Boonop gaan jou geld vir ’n goeie doel: Dit word teruggeploeg in die gemeenskap.
Hoe nader die son aan die horison kom, hoe mooier word die waterval. Dis regtig een van Namibië se mees onverwagte gesigte. As ’n mens aan Namibië dink, dink jy gewoonlik aan sandduine en dorre woestyn, maar hier by Epupa, met Angola net oorkant die rivier, is dit soos
’n ander land. Die rivier is vol en al die takke loop sterk. Daar’s ’n paar kremetartbome wat op die rotsknoppe tussen die valle groei, maar dis veral een grote, bykans reg in die middel, wat jou oog tref met sy byna wit bas wat maag wys na die sakkende son toe.
Net regs daarvan dans ’n kort, dik Eddie Ecksteen-reënbogie in die sproei. Nader aan Angola se kant vertak die valle soos melkvingers oor die rotsrif, en naby aan ons kampplek donder die hoofval onverpoos om aandag.
Ons kyk en kyk en besluit om sommer twee dae te bly.
Maak toe
Agter elke Himba
Jatuwaike Mutambo en haar baba, Mapeyarukani,
melk een van hulle koeie.
’n Besoek aan ’n kraal
Jassen Kavari het hom die vorige aand kom voorstel by ons kampplek – hy lei gidse na die plaaslike Himba-nedersettings.
Jassen se reëling met die Himbas wat ons gaan besoek, behels dat toeriste ’n kospakkie moet saambring. Ons koop dus eers sowat R80 se kos by die klein winkeltjie op Epupa – meel, suiker en so aan. Dis hoe hulle betaal word, eerder as met kontant (ons betaal wel vir Jassen kontant as gids, sowat R50 elk).
Nou ry ons uit na ’n groen vlakte 10 km buite die dorp. Die Himbas hier is al gewoond aan toeriste, maar ’n mens moet tog sensitief optree, selfs op ’n “amptelike” besoek. Vra voordat jy foto’s neem of hulle huise betree.
Niks besonders word vir ons gereël nie – g’n kunsmatige verwelkomingsdans nie. Ons loer oor hulle skouers terwyl hulle beeste melk, kinders tug en botter maak. Hulle plant mielies, sorghum en waatlemoen in klein landerytjies.
Dan ry ons verder met die sandpaadjie tot by ’n Himba-begraafplaas. Jassen sê die Himbas begrawe mense op dieselfde dag dat hulle sterf. Beeste word geslag en die horings aan die koppenent van ’n graf opgestapel. Op vrouegrafte wys die horingpunte na onder en op die mans s’n na bo.
Na die weste troon ’n groot knoets in die Baynesberge uit. Jassen sê dié spesifieke berg staan bekend as Omaheva: “It is a holy mountain that one,” vertel hy, “it is impossible to get lost on it, or thirsty. But you must never insult someone when you are on the mountain. A non-biting snake will come to tell you not to do it.”
Later, terwyl ons ’n konkoksie vir aandete op die gasstofie op-tower, loer ’n dun sekelmaan in die skemer se laaste pers lig tussen die palms deur.
Dit word donkerder en die maan gloei ál helderder. Dan, nes die aand begin uitsit, dra ’n wind die reuk van die sproeireën uit Angola na ons toe. Ek wens ons kon ’n week bly.
Maak toe
Die trekveterane
Oorlog se suster Willemiena en klein Jonas van der
Merwe, nasate van die Dorslandtrekkers wat in die jare
twintig uit Angola teruggekeer het na die destydse Suidwes-Afrika.
Ehomba se Van der Merwes
Ons mik nou vir Ruacana, die ander groot waterval stroom-op in die Kunene. ’n Mens kan van Epupa af al teen die rivier ry tot daar, maar die pad van Epupa tot op Swartbooisdrif is ’n 4x4-roete; ’n volle, harde dag se ry.
Ons ry dus “binneland” om terug Okongwati toe, en dan, 35 km verder, links op die D3701 Swartbooisdrif toe. Iets op ons kaart tref my oog: “Relics of War.” Dis aangedui by Ehomba, net oos van die pad.
Op die ingewing van die oomblik draai ek in. Die paadjie is klipperig, maar maklik om te ry. Ná 8 km bereik ons die voet van ’n lae bergreeks. Die paadjie loop deur die skadu’s van ’n woud vol massiewe wildevybome; dan sien ons klein huisies links van die pad, gerangskik om ’n groot, leë stukkie veld.
Ehomba was ’n Suid-Afrikaanse weermagbasis tydens die grensoorlog, maar ons sien nie enige “relics of war” nie.
’n Paar rye netjiese grafte verskyn reg langs die pad. Ons gaan kyk. Dis almal Van der Merwe: Jan Slagveld, Ruiter, Rager, Kristiaan... natuurlik, dis die “swart Van der Merwes” wat deel was van die Dorslandtrek!
Die Dorslandtrekkers het in 1880 Angola toe getrek, maar teen 1929 het hulle weer teruggekom en in die destydse Suidwes-Afrika kom woon. Die voorsaat van Ehomba se Van der Merwes was ’n Zoeloe wat vir ’n (wit) Van der Merwe-familie gewerk het. Hy’t later hulle van aangeneem.
Twee jong latte kom in die pad aangestap met ’n Black Label-quart tussen hulle. Dis Frans en Tuki van der Merwe. “Waar kan ek vir Oorlog van der Merwe opspoor?” vra ek hulle, want ek het onlangs van dié Van der Merwe gelees.
Hulle Afrikaans is nie te waffers nie, maar hulle beduie terug in die pad na die huisies waar ons reeds verbygery het.
Oorlog en sy suster, Willemiena, sit op bankies onder ’n boom.
Hulle is oud, Willemiena byna blind agter dik, gebreekte brillense, albei se gesig geplooi met harde, harde jare. Tussen hulle rus ’n pyp op ’n klip en ’n Okapimes hang aan Oorlog se belt. “Rager” in die begraafplaas – eintlik Ragel – was hulle ma. Die ander wat daar ’n laaste rusplek gevind het, was hulle broers en susters.
Willemiena onthou nog die terugtrek uit Angola. “Toe ons hiernatoe trek, is ek al ’n sterk kind, toe’s ek al mens, so ek kan vertel wat die trek was. Ons het nog met wa en osse getrek tot by die Kunene, by Swartbooisdrif. Toe kom waens van die ander kant af om ons te kom haal.” “Wanneer presies is julle dan gebore?” vra ek. “Hat-tat-tat-tat!” sê Oorlog. “Ons sal eers die boek moet gaan haal.”
Dit moet seker in die vroeë jare twintig gewees het; dus is hulle waarskynlik diep in die tagtig.
Hulle al twee praat vlot Afrikaans, maar die jonges praat Herero. “Ons leer hulle Afrikaans, ja, maar die skool hier leer hulle net Engels,” sê Oorlog en wys na klein Jonas, ’n klein- of agterkleinkind, wat tussen hulle speel.
Daar’s iets hartseers omtrent hulle storie – hierdie is ’n godverlate plek – maar ook iets hoopvols, want daar’s trots in hulle oë en ’n fierheid in hulle sit, dáár op hulle bankies wanneer ons wegry: Afrikaans se laaste ambassadeurs in Kaokoland.
Maak toe
Die Groot gedruis
Jy kan die Ruacanawatervalle van die niemandsland tussen die Namibiese en Angolese grenspos sien. As jy in die sproei wil staan, moet jy die 500 trappies afklim (pasop, dis glad!) tot doer onder aan die linkerkant.
Met Wentzel Mall agter die stuur het die gaste die sonsondergang op die Kunenerivier terdeë geniet.
In Ruacana se sproei
Ons kan nie wag om weer by die Kunene uit te kom nie en ons sien uit na die Kunene River Lodge, waar ons vanaand wil slaap.
Op die pad van Palmwag af gesels ons met toeriste wat van voor af kom. Waar kan ’n mens lekker bly? Verskeie mense sê die Kunene River Lodge was ’n hoogtepunt.
En dis maklik om te sien hoekom – dit lê aan die oewer van die Kunene, met groot bome, ’n swembad en ’n restaurant wat vir jou ’n steak so groot soos ’n paaltjiewagterhandskoen – maar aansienlik sappiger – voorsit.
Teen sononder vertrek ons en ander gaste saam met Wentzel Mall, die lodge se bestuurder, op ’n rivierboot, basies ’n stewige vlot met sitplek vir tien.
Ná amper twee uur stroom-op skakel hy die enjin af en ons begin terugdryf kamp toe. Die son sak, die voëls keer huiswaarts en teen dié tyd is almal op die boot reeds goeie vriende.
Die pad van Swartbooisdrif na Ruacana, al met die oewer van die Kunene langs, is in ’n skaflike toestand. Die 60 km kan in ’n uur en ’n half gery word. Toe ons weer sien, ry ons vir die eerste keer in ’n week op ’n teerpad.
Die beste uitsig oor die Ruacana-valle is uit die niemandsland tussen die Namibiese en Angolese grenspos.
Die doeanebeamptes is gewoond aan toeriste en beduie maar net jy moet deurry – jy hoef nie jou paspoort te laat stempel as jy net na die waterval wil gaan kyk nie, want jy gaan nie Angola binne nie.
Anders as by Epupa, gaan hier nie veel aan by die Ruacana-watervalle nie. Geboue wat dalk eens pompstasies was, staan vervalle en vol Grensoorlog-koeëlgate. Hier’s net een jong seun wat ons impromptu gids word.
Hy lei ons af na die bodem van die ravyn onder die waterval, wat oorverdowend langs ons neerklater. Dis nat – vat jou reënjas!
Dis deesdae ’n seldsame gesig om die waterval teen volle sterkte te sien, want die massiewe Caluequedam wat stroom-op aan die Angolese kant gebou is, dam die water op. Dis net wanneer die dam oorloop of die sluise oopgetrek word dat jy Ruacana in sy volle glorie kan sien.
Verbeel jou drie Augrabies-watervalle dawer neer in dieselfde ravyn, nouer as Graaff-Reinet se hoofstraat... dís Ruacana!
Kaokoland was ons goedgesind.Die weer was perfek, die mense gaaf en die paaie begaanbaar. Die dorpie Ruacana is 20 km oos van die waterval. By die vulstasie se kafee stop ons vir middagete en dan druk ons die Nissan se neus suide toe, met die C35, Windhoek se kant toe.
Ons laaste nag in hierdie hoek van die land is by Hobatere
Lodge se kampterrein, net wes van Etosha. Toe ons mede-kampeerders uiteindelik hulle opwekker afsit (ek moes hulle gaan vra), sak die stilte om ons toe.
Ná so ’n bietjie Tassenberg sit ons nog ’n ruk lank vir die sterre en kyk, dan klim Samantha teen die leertjie op na haar daktent, en ek kruip vir oulaas in my geel tentjie in.
Voordat ek aan die slaap raak, dink ek weer aan Oorlog en Willemiena. Net toe ons daai middag aanstaltes begin maak het, het Willemiena my iets begin vra. Toe sy met haar sin begin, het ek gedog sy gaan my vra vir geld of kos of klere. Maar sy het nie. Sy het gevra of ek nie asseblief vir hulle ’n gebed kan doen nie.
Ek het my keps afgehaal, Oorlog syne, Willemiena het haar kop laat sak en Samantha se kamera het stil geword. En toe, soos nou, het ek gebid vir reën en vet beeste en lang, goeie jare vir die Van der Merwes van Ehomba.
Maak toe
Himba-etiket
• Vra eers toestemming voor jy foto’s begin neem.
• Respekteer mense se privaatheid.
• Indien geld gevra word, onderhandel tot almal tevrede is (jy ook) voordat jy foto’s neem.
• Indien jy nie geld wil gee nie, sal ’n basiese kospakkie (meel, suiker, tee, ensovoorts) ook deug.
• Vra asseblief en sê dankie. Goeie maniere en ’n glimlag is jou beste vriende.
• Waar moontlik, kry ’n posadres en stuur vir hulle die foto’s.
Kommentaar