Doendinge op Hermanus


1. Koop kos by die markie
Elke Saterdagoggend is daar ’n heerlike mark in die Fernkloof-reservaat. Die stalletjies word streng gekeur en eetgoed is regtig iets besonders, veral as jy van vars brood, kaas en olywe hou. Ja, die mark is nogal “holisties” (soos my dogter dit stel) en heelparty van die stalletjie-eienaars is oënskynlik onder die indruk dat al vier die Beatles nog leef, maar dit bly ’n puik plek om op ’n nugter maag te takel. Gaan vroeg. Teen negeuur begin lol dit met parkeerplek.

2. Stap die kuspaadjie
Hermanus is ’n groterige plek, maar die dorp se kuslyn is amper in sy geheel steeds in openbare besit. Die resultaat? Jy kan heerlik stap. Daar is ’n geplavleide kuspaadjie wat oor ’n afstand van amper 10 km verby al die strande en uitkykpunte loop: die Nuwe Hawe, die Ou Hawe, Kwaaiwater, Langbaai, Voëlklip en Grotto. Al is die dorp hoe bedrywig, daar is altyd iewers ’n stil plekkie waar jy die see kan geniet (en walvisse kyk in die winter en lente).

3. Gaan na Die Plaat
Die Walkerbaai-reservaat is een van die lekkerste kusreservate in Suid-Afrika. Jy het egter ’n 4x4 nodig om by die beste plekke uit te kom. Ry van Hermanus deur Stanford in Gansbaai se rigting. Draai regs af by De Kelders en volg die aanwysingsborde na die reservaat. Die paadjie loop plek-plek bykans teenaan die see – dit voel amper onwettig om daar te ry. Dis net die plek as jy ’n bietjie wil wegkom van ander mense.

4. Ry die Hemel-en-Aarde-pad
Grondpad is goeie medisyne om jou siel tot bedaring te bring. Draai links by die Sandbaai-verkeerslig voordat jy Hermanus inry. Dis die Hemel-en-Aarde-pad na Caledon. Die eerste stuk is teer, maar baie mooi. Dan, ná omtrent 9 km, draai links by die Bosdam-afdraai en ry met daardie grondpad terug na Hawston se kant toe. Dis die Karwyderskraalpad – so mooi soos die naam self. Dis ’n heerlike bergfietspad ook. Jy eindig weer op die pad waarmee jy Hermanus toe gery het.

5. Geniet die uitsig op die Rotary Way
Dinge lyk altyd beter van ’n hoogtetjie af. Die afdraaipad na hierdie uitkykpunt is op linkerhand net voor jy daardie lelike eerste winkelsentrum op regterhand kry as jy Hermanus van die Kaap af binnery. Vyf minute se ry met ’n teerpaadjie (en later ’n skaflike grondpad) en jy is by ’n paar lekker aftrekplekke waar jy oor die hele Walkerbaai uitkyk. Dis altyd mooi hier, selfs al is die weer guur. As die wind reg is, is hier gewoonlik ook ’n paar skermswewers in die lug.

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 20 Oktober 2009 | 11:50:41

hermanus is awsome!!

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek