Stap in die Magaliesberg
“Wanneer laas het iemand ’n geel voetjie gesien?” vra Marius Jooste, een van my ses stapmaats. Ons staan versprei op ’n voetpaadjie tussen ’n klomp rotsblokke in ’n kloof in die Magaliesberg. Almal soek rond vir die geverfde voetjies wat die tweedag-Summitroete van 25 km in die Kgaswane-bergreservaat aandui. Jy kyk dié spoortjies nie sommer mis nie, want hier is omtrent elke 2 m een.
In die vars Bosveldlug tussen die wilde seringbome is dit moeilik om te glo ons het skaars ’n uur of wat gelede nog by ’n KFC in Rustenburg verbygery.
Kgaswane se staproetes is minder as twee uur met die N4 uit Pretoria. Ry vroeg sodat jy teen negeuur kan begin stap en genoeg tyd het om dikwels langs die pad te stop en na diere te kyk.
Ons het vanoggend al ’n klompie sebras, duikers, waterbokke, elande en swartwitpense teen die hange gesien.
Die winterson bak ál warmer, genoeg om die stappers met swaar rugsakke te laat sweet. Jy kan
maar lig pak, want jy slaap net een aand oor. Gelukkig is hier ’n lekker bergpoel halfpad op vandag se roete waarin ons ’n bietjie kan afkoel.
Laatmiddag kom ons by die Witkruiskrans-oornagkamp aan. Hier’s twee spitsdakhutte, elk met ses beddens met matrasse en genoeg hout om ses uur lank om die vuur te kuier. (Ons weet, ons het al die hout opgebruik.) Jy kan warm stort as jy water op die vuur verhit en hier’s ’n spoeltoilet.
Net voor middernag kruip ons een vir een in. Môremiddag moet ons terug stad toe. Maar ons gaan eers klim tot op Hoogstepunt (1 690 m) om daar ’n lemoen of twee en die uitsig oor die Bosveldvlakte te geniet.
Weg sê: Die paadjies is klipperig. Dra stewige stapskoene en ’n dubbele laag stapsokkies. Pak pleisters ingeval jy blase kry.
Wat moet ek weet?
Roetes: Summitroete: 14,3 km op dag 1; 11 km op dag 2. Baviaanskrans: 9 km en 9,5 km.
Dagstappe: Peglarae (5 km) of Vlei Ramble (2 km).
Waar? Net suidwes van Rustenburg as jy op die N4 uit Pretoria se rigting kom.
Koste: R120 p.p. vir oornag, R20 toegangsgeld p.p. en R10 per motor.
Kontak: Linda Marcus 014 533 2050; www.tourismnorthwest.co.za/parks
Terug na bestemmings | Terug na bo






















Kommentaar