Ry perd in die Vrystaat
Jy moet sewe keer deur ’n perd afgegooi word voor jy ’n ervare ruiter is, sê Heleen Maas. Sy behoort te weet; haar ma kon glo op haar kop op ’n perd se saal staan.
Heleen is in ons groepie van sewe op ’n tweedagperdry-uitstappie naby Fouriesburg in die Oos-Vrystaat. Ek klou stewig aan my saal (onnodig blyk dit; dit is die einste Heleen wat eerste val).
Ons gids is David Nyama van die gasteplaas Mont Plaisir. Hy ry voor op Lady. Ons is pas deur ’n wildsplaas waar ons ’n klompie elande en sebras in die oë kon kyk – die wild is nie sku vir perde nie.
Nou ry ons oor ’n vlakte vol geel wintergras en populierbome. Aan die een kant is die Witteberge se bekende Visierskerf-rotsformasie en hier reg agter ons verrys die Rooiberge se Clarens-sandsteenkranse. Gisteraand het ons die Melkweg en Suiderkruis van onder só ’n berghang sit en bewonder.
Mont Plaisir pas die roetes aan by die ruiters. Op die oornagrit ry jy deur twee plase en een bergreservaat. Jy slaap dan op die Karmel-gasteplaas in ’n mooi kampplek in tente met warm storte en selfs ’n jacuzzi. Lekker.
Die gidse hou die tempo rustig.
Jy stop skaars ’n uur ná jou vertrek vir die eerste koppie koffie, en net ’n rukkie later vir middagete in die Didibengbergpark – kouevleis, broodrolletjies, drie slaaie en yskoue koeldrank. Ná ete kan jy jou op die gras in die son uitstrek.
Rob verkies dat jy darem al op ’n perd se rug was voor jy ’n oornaguitstappie aanpak, maar hier’s ook daguitstappies vir beginners.
Ons gasheer, die Nederlander Rob van den Heuvel, bedryf Mont Plaisir al ses jaar. Dis half gerusstellend om te weet ’n afgetrede direkteur van Suriname se reserwebank is in beheer!
Weg sê: Dra ’n gemaklike noupassende broek. Jou bene gaan gou-gou seer skaaf in ’n los kortbroek.
Wat moet ek weet?
Waar? Ry uit Fouriesburg op die R26. Dis net buite die dorp aan die regterkant.
Koste: R800 p.p (2 dae se ry, 4 maaltye en verblyf by die gasteplaas Karmel se kampplek).
Kontak: Rob en Natasha, 058 223 0505; www.montplaisir.co.za
(Nota: Alle pryse akkuraat in Oktober 2009)
Waar kan ek nog perdry?
Pollie ons gaan Paarl toe
As jy in die Paarl se wingerde en berge wil gaan perdry vir ’n paar uur (jy kan ’n wynproe- of uitsigtoer doen), praat met Katrin Steytler van Fynbos-perderitte. Beginners is welkom. Bespreek vooraf.
Koste: R180 per uur p.p (R100 vir kinders en studente)
Kontak: 082 335 8132; www.fynbostrails.com
Terug na bestemmings | Terug na bo






















Kommentaar