Naweekplan: Gaan ry op 'n stoomtrein.

Lokomotief 2650 neem jou terug in die geskiedenis. Hy is meer as 70 jaar gelede deur die Duitse wapenvervaardiger Krupp gebou.
Die Friends of the Rail is stoomtreinentoesiaste van Pretoria wat lokomotiewe restoureer en naweke dié ou ladies vir ’n draffie vat. Ons is op een van dié uitstappies met die Diamant Ekspres.
Die trein vertrek om halfnege uit die Hermanstadstasie, kom halfelf op Cullinan aan, en jy bring die dag op dié diamantdorpie deur. Dan haal jy om drieuur die middag die trein na Pretoria.
Ons kies ooswaarts koers deur die hart van Pretoria. Die spoor kruis die bedrywige Voortrekker-weg met sy tweedehandse motor-handelaars en pandjieswinkels, en dan kom die woonbuurte – Gezina, Villieria, Kilnerpark. Dit voel eienaardig om so oor die Bloubul-ondersteuners se agterste paaltjiesheining te kan loer: welige grasperke, Venter-waentjies, grasdaklapas en blou swembaddens met hikkende Kreepy Kraulies skuif verby.
Anderkant die Pietersburg-snelweg sit Mamelodi se sinkpondokkies soos suikerkristalle oor die dynserige vlaktes wat tot doer teen die Magaliesberg se kranse strek.
Die lokomotief hyg deur die mooie Pienaarspoort-rantjies… en skielik is jy op die Hoëveldse vlaktes. Ek wonder hoe oubaas Paul Kruger moet gevoel het toe hy in 1900 per trein hierlangs na Lourenço Marques moes vlug, sy laaste sien van Pretoria.
Anderkant Pienaarspoort ry jy deur Rayton, verby die Zonderwater-gevangenis (die ou Italiaanse krygsgevangenekamp) en uiteindelik tot op Cullinan se ou stasie. Lekker platteland…
Weg sê: Pak die pap en wors. Friends of the Rail sorg vir braaivure naby die stasie se ou sinkgebou.
Wat moet ek weet?
Kontak: Friends of the Rail 012 548 4090 of 082 098 4090; www.friendsoftherail.com
Koste: R150 p.p., R90 vir kinders tussen 7 en 12, R55 vir 2- tot 6-jariges, en doekdraers onder 2 gratis.
Wat gebeur op en om Cullinan?
Span uit by die Willem Prinsloo-landboumuseum
Vir ’n lekker gesinsuitstappie, reël deur Friends of the Rail ’n taxi van die Cullinan-stasie na dié museum (sowat R35), waar jy enigiets van ’n skotskar tot ’n inheemse Damaraskaap kry.
Hoewel die buiteluguitstalling ’n bietjie ghries en vernis kort, is hier in ’n saal ossewaens, Kaapse koetse en veteraantrekkers met name soos Lance Bulldog.
Braai onder die bome by die plaasdam of kom sit aan in Tant Miertjie se Kombuis vir boontjiesop, hoenderpastei, bobotie, soetwortels, gebraaide aartappels en malvapoeding.
Koste: Museum: R10 p.p. (R5 per kind). Tant Miertjie se Kombuis: R85 p.p., R55 vir onder 12’s en verniet vir kannetjies onder 6.
Kontak: 076 054 5229
Doen ’n diamanttoer
Die Cullinan, ’n knewel van 3 000 kar. en die wêreld se grootste diamant, is hier gekry. Premier Diamond Tours bied heelweek toere deur die myn aan (bespreek).
Koste: Volwassenes R60, kinders R40.
Kontak: 012 734 0081
Eet ietsie
Cullinan het heelwat restaurante binne stapafstand van die stasie: The Lemon Tree 012 734 0778; As Greek as it Gets 012 734 0707; The Sir Thomas Cullinan Restaurant and Pub 012 734 1778 en nog ’n paar.
Nog treine...
Kloof na Inchanga. Ry op die laaste Sondag van die maand in ’n treinwa uit die jare dertig met ’n lokomotief uit 1912 van Kloofstasie in Pinetown na die pragtige Inchanga-stasie naby Pietermaritzburg (of andersom).
Geniet ná die treinrit ’n heerlike driegangete by die Falcon Crest Manor House by Botha’s Hill.
Koste: R130 p.p. en R100 per kind (middagete ingesluit)
Kontak: 031 303 3003; www.umgenisteamrailway.co.za
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 18 Augustus 2011 | 20:39:52
Ek wil weet as ons gemeente Christ Kingdom Family Churh 'n paar senior burgers wil bederf met so 'n wonderlik treinrit met middag ete vir hul kersuitstappie wat dit sal kos en ek beplan dit hier in die middel Oktober 2011, hou in gedagte dat van hulle geen inkomste het nie en dit baie baie moeilik gaan met ons senior burgers, is daar iets wat julle vir my kan voorstel. sal graag van jul wil hoor. Groete Judith Pretorius



















Kommentaar