Vlerke oor Namibië
"Die olie is nie veronderstel om so warm te wees nie,” sê ek vir my medevlieënier, Sean Curran, terwyl ons aansukkel na Oranjemund. Ons is net 400km noord van Kaapstad en stoei al klaar met ’n omgekrapte noordoostewind. Boonop het die kantelskroef kort nadat ons uit Kaapstad opgestyg het, óók begin probleme gee. Ons sal ’n plek moet kry om te land... vinnig. Is dit dalk ’n teken?
Ek en Sean is lede van die Wes-Kaapse Mikroligtevliegtuigklub. Ons laaste groot Namibiese avontuur saam met ons vliegvriende was sowat tien jaar gelede. Vanjaar het ons besluit dis hoog tyd om onsself en ons vliegtuie weer ’n slag op ’n langafstanduitstappie te toets. Dus het ons met ’n taamlik eenvoudige plan vorendag gekom: Vlieg van Kaapstad af na die Kunene en weer terug oor Etosha: Ongeveer 6000 km oor 11 dae.
Ons vlieg darem nie alleen nie. Daar is 11 vliegtuie in ons groep: 5 vastevlerkvliegtuie en 6 mikroligtevliegtuie (sogenaamde trikes). Omdat dié muggietuie ’n beperkte reikafstand het, word hulle op sleepwaens vervoer tot in Walvisbaai, waar ons hulle (hopelik) oor drie dae gaan ontmoet. Die ondersteuningspan bestaan uit ses mense in twee voertuie. Hulle ry ook 1000 liter brandstof saam en, belangriker, ’n vrieskas met omtrent net soveel bier.
Ek en Sean vlieg ’n Jabiru 400, ’n Australiese vliegtuig wat in die “eksperimentele kategorie” val, wat beteken dit mag nie vir kommersiële doeleindes gebruik word nie. Om een van dié kontrêpsies van plastiek en aluminium te vlieg is nie vir sissies nie. Dis beknop, stamperig en die vliegtuig is temperamenteel. Boonop moet jy elke bout en skroef en las ken sodat jy dit self kan regdokter, amper soos wat jy jou 4x4 moet ken as jy deur Afrika wil ry. Gaan ons ooit die Kunene haal?
Kaapstad na Lüderitz

In die kajuit van die Jabiru (Sean links en Roger regs) is daar net-net plek vir twee mense en hulle toerusting.
Die olietemperatuur is nou al byna in die rooi. Dit raak noodsaaklik dat ons baie gou ’n plek moet kry om te land sodat die enjin kan afkoel. Uiteindelik land ons op ’n klipperige landingstrook naby Hondeklipbaai en kry uiteindelik weer die skroefmeganisme aan die gang (hy werk skynbaar net op die grond). Dit voorspel niks goeds nie. Maar dis nie te lank nie of die Jabiru dreun op die aanloopbaan af en ons styg op – met ’n gesukkel.
Op die horison lê dreigende cumuluswolke styf langs mekaar ingepak. Dis maar kort ná ’n besonder oorvloedige reënseisoen in Namibië, en vogtigheid en hitte beteken gewoonlik turbulensie en donderstorms – ’n nagmerrie vir enige vlieënier. Met wit kneukels land ons later op Oranjemund, handel die doeanedinge af, styg weer op en vlieg laag oor die Sperrgebiet.
Die omvang van die diamantmynbedrywighede is verbysterend, maar ons sien ook hoe die see oor die jare weer die uitgemynde gebiede teruggeëis het, en hoe 25m hoë mensgemaakte sandmure binne ’n paar seisoene platgevee is.
Lüderitz na Terracebaai

’n Mens kan kwalik die ligte vliegtuig sien teen die agtergrond van die indrukwekkende duine op die Lange Wand, ’n deel van die kuswoestyn in die Sperrgebiet noord van Lüderitz.
Eers as jy op 1000 voet vlieg, besef jy hoe hoog Sossusvlei se duine werklik is – party van hulle raak amper aan die vlerk! Ons bly die aand by die Betesda-lodge naby Sesriem oor voordat ons die volgende oggend noordwes mik, Walvisbaai toe. Die duinstrate is oortrek met groen gras, soos ’n massiewe groen kwilt. Daar is nie ’n pad in sig nie, en ek wonder hoeveel mense weet hoe ongelooflik mooi dit hier tussen die duine is.
Op Walvisbaai sluit ons ons aan by ons vliegvriende en hulle muggietuie. Dis ook ’n kans om die kantelskroef reg te maak – daar was toe net vuiligheid in die bedrading. Van Walvisbaai af vlieg ons noord, kuslangs. Dié stuk kuslyn is vir hengelaars wat Loftus vir Blou Bul-ondersteuners is. Dit is ’n Maandag, maar dit lyk nie asof enigiemand by die werk is nie. Die kuslyn van Myl 14 tot by Hentiesbaai is vol bakkies en vissermanne wat staan en wag vir daai pluk aan die lyn.
Op Terracebaai steek nog probleme kop uit – die skroef van een van die muggietuie is besig om die gees te gee. ’n Ander vlieënier bied aan om Omaruru toe – dis sowat 800km heen en weer – te vlieg om ’n nuwe skroef te gaan haal. Dit is dié soort kameraadskap onder vlieëniers wat ’n avontuur soos hierdie spesiaal maak. Hier is nie juis infrastruktuur om van te praat nie, en ons móét mekaar help. Daar is nie ’n ander keuse nie.
Terracebaai na Orupembe
“Ek soek ’n plek om te land – en vinnig!” hoor ons laatmiddag oor die radio. Een van die ouens het te na aan ’n donderstorm gevlieg – sy vliegtuig is voos geskud en ’n paar enjinpype het in die slag gebly. Ons moet dringend ’n vliegveld opspoor. Toe ons bo-oor Kaokoland vlieg, sê die GPS daar is ’n militêre vliegveld naby Orupembe.
Gewoonlik is dit maklik om ’n vliegveld in dié geweste te kry, want die reguit lyne en gladde tekstuur van die aanloopbaan staan uit teen die omgewing. Maar ná die reëns het die vliegveld onder ’n graskombers verdwyn. Terwyl vier vliegtuie rondom die GPS-punt sirkel, mik ek en Sean vir die waarskynlikste landingsplek, tref ’n klip, kry ’n pap wiel, maar is andersins ongedeerd. Die stukkende tuig is kort op ons hakke, maar land ook veilig.
Vroeër het ons by Mowebaai die Atlantiese Oseaan agtergelaat en al langs die Hoanibrivier na Sesfontein gevlieg. Dié rivier het ’n groot opvangsgebied, maar haal netnet die see, selfs wanneer dit in vloed is. Die waaisand van die Skedelkus kry meestal die oorhand. Van die see se kant af het ons in die rivier opgevlieg. Plek-plek was spatsels groen rondom panne tussen die Namib se sand. Hierdie oases is ’n toevlugsoord vir woestyndiere, en ons het olifante, kameelperde, vlakvarke en gemsbokke gesien.
Ons het veilig geland, maar dis nog nie die einde van die drama nie. Oor die radio hoor ons twee muggietuie word vermis. Die een se ratkas het opgepak en die vlieënier moes ’n noodlanding iewers in die bos doen (sonder enige enjinkrag!). Dis leeuwêreld hierdie, maar gelukkig kon ’n ander tuig daar naby land en die (mateloos verligte) vlieënier oppik en aanvlieg na ons kamp toe.
Die volgende dag is hulle terug na die tuig in die bos. Toe die reddingstuig land, tref hy ’n gat en sy skroef is daarmee heen. Nou is daar twee gekrokte tuie op dieselfde plek! Later dieselfde aand, ná ses uur se gestoei deur verskeie riviere in vloed, kon die een ondersteuningsvoertuig daarin slaag om by die twee gestrande vlieëniers uit te kom. Uiteindelik het dit die arme vlieëniers ’n volle drie dae geneem om hulle tuie reg te maak, maar hulle het mooi moed gehou en die tog voltooi.
Al langs die Kunene

Die Epupa-waterval vloei sterk ná die goeie reën – die makalanipalms en kremetarte lyk soos kleinerige struike langs die onstuimige stroom.
Hawston, ons het ’n probleem... Ons het nie genoeg brandstof om al die pad langs die Kunene tot by Etosha te vlieg soos wat ons beplan het nie. Die reddingspogings en ander onbeplande ompaaie het korte mette gemaak van die ekstra 1000 liter brandstof op die ondersteuningsvoertuie. Die enigste uitweg is om ’n 260 km-ompad te vlieg, oor Opuwo.
In die hoofstad van Kaokoland maak ons vol teen R17 per liter! Ná die finansiële terugslag gaan lek ons eers ons wonde met ’n lekker ete by die Opuwo Country Hotel. Nou wag die Kunene. Die rivier is in vloed en die monding is minstens ’n kilometer breed. Dit lyk asof hier nog nooit ’n mens was nie. Daar draai ons oos en mik stroomop. Die eerste ding waaraan ek dink terwyl ons laag in die rivierkloof vlieg, is die honger krokodille wat vir ons lê en wag...
Die Kunene val amper 500m op sy laaste 100km see toe, en elke naamlose waterval en stroomversnelling bruis verwoed – Kurtz van Heart of Darkness-faam sal in sy element wees hier. Die klipperige oewer aan die Angolese kant en die steil sandduine van Namibië aan die regterkant maak mettertyd plek vir grasvelde wat groener en groener word namate ons oos vlieg. Anderkant die Marienfluss wag die indrukwekkende pieke van die Otjihipa- en Bainsberg. Ek hou asem op terwyl ons hoër en hoër klim en die olietemperatuur al weer in die rooi beland.
Dan swiep ons weer af tot onder by die Kunene, net wes van die Epupavalle. Die valle is ’n bruisende massa water – ek sou dit graag van die grond af wou sien, maar die vloede het die nabygeleë vliegveld verspoel. Aanstoot Ruacana toe is dus ons voorland. Soos ons verder oor deurweekte velde vlieg, reik eensame makalanipalms met hulle palmvingers boontoe. Net soos die bruisende Epupa sal die gesig van die Ruacanavalle in vloed my ewig bybly.
Ruacana na Etosha
Francois Snyders van Namibia Wildlife Resorts het gereël ons kan by Okakuejou in Etosha land. Hy is self ’n ywerige vlieënier en het saam gevlieg van Terracebaai af. Etosha lyk glad nie soos die Etosha wat jy in koffietafelboeke en op poskaarte sien nie. Daai Etosha is droog, die olifante wit van die stof. Maar vanjaar het die oorvloedige reën elke holte in ’n strandmeer omskep, en die pan self is oorlopens toe vol.
Ons deel die vliegveld met Sam Nujoma, voormalige Namibiese president, en sy gevolg. Die volgende dag wag ons eers vir hulle om weg te kom, en mik dan huiswaarts oor Windhoek. Dis soos om oor ’n dieretuin te vlieg – by een pan tel ek vyf renosters, ’n dosyn olifante, kameelperde, sebras, vlakvarke en gemsbokke.
Ek is hartseer om suidwaarts te vlieg. Die verre noordweste van Namibië is ’n wilde plek waar ’n ware avontuur op jou wag – of jy nou agter die stuurwiel van ’n 4x4 inskuif of honderde meters bo die grond vlieg.
Mag dit nog lank so bly.
Terug na Namibië | Terug na bestemmings | Terug na bo



























Kommentaar