Khomas Hochland
Namibië is nie juis bekend vir sy bergpasse nie. Dink ’n mens aan die Dorsland, doem daar eerder plat, uitgestrekte vlaktes voor jou op.
Maar as jy ’n goeie kaart fyn bekyk, sien jy daar is inderdaad ’n klompie lekker (en soms rowwe) passe: Divorcepas, Brandberg-Wespas, Joubertspas, Sesfonteinpas, en waarskynlik die moeder van almal, Vanzylspas.
Dan is daar natuurlik ’n swetterjoel grondpadpasse wat van die Khomas Hochland, die sentrale plato wes van Windhoek, van ’n hoogte van tot 2 500 m bo seevlak afdaal na die Namibwoestyn en die kus.
As jy wil, kan jy ses grondpadpasse tussen Windhoek en die Namib ry, en nóg twee sommer vir die lekker:
• Die mak Kupferbergpas op die C26 net buite Windhoek is een van die toegangsroetes na die Khomas Hochland.
• Die C28 oor die Bosuapas is die kortste (maar nie die vinnigste nie) roete van Windhoek na Swakopmund, én dis een van Namibië se steilste passe.
• Die D1982 via die Ushoogtepas is die kortste roete tussen Windhoek en Walvisbaai.
• Die Gamsbergpas op die C26 tussen Windhoek en Walvisbaai is die hoogste en langste pas en kyk uit oor Namibië se eie Tafelberg.
• Die Spreetshoogtepas op die D1275 is nog ’n lekker steile en word dikwels bestempel as die Namibiese pas met die mooiste uitsig.
• Verder suid kronkel die Remhoogtepas op die D1261 tussen Windhoek en Solitaire.
• Op die C14 tussen Solitaire en Walvisbaai is die Gaub- en Kuisebpas. As jy al Henno Martin se Vlug in die Namib gelees het, sal jy veral die Kuisebpas geniet.
Jy kan dié passe een-een verken op ’n gemaklike vyf tot ses uur lange dagrit van Windhoek af. Jy kan kortpad kies kus toe en van die teerpaaie af bly, of jy kan hulle een na die ander ry en ’n vakansie daarvan maak.
* Die volledige artikel “Op berge en in dale” het in die Februarie-Maart 2009-uitgawe van WegRy verskyn.
Terug na Namibië | Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar