McGregor


Aan die einde van "n pad wat doodloop

Wanneer jy op McGregor uit jou motor klim, sal jy verskoon word as jy dink jy’t per ongeluk op ’n filmstel vir ’n negentiende eeuse fliek beland: Leiwater kabbel verby in diep klipvore, en netjiese gewelhuise met diep stoepe op massiewe erwe staan op aandag langs strate wat nog nooit ’n druppel teer geruik het nie.
Sommige kultuurhistorici sê McGregor is een van die besbewaarde negentiende eeuse dorpies in die land. Sy ligging, op ’n agterpad in die Breëriviervallei, het gehelp om trosbehuising, ’n pas en ander neweprodukte van “vooruitgang” hier weg te hou.
En ’n erfeniskomitee maak seker geen onwelkome glaspaleise of Toskaanse villas verrys tussen die ou geboutjies nie.
McGregor is klein genoeg dat jy jou kar vir die naweek kan sluit en die strate te voet kan verken.
Moenie verbaas wees om koeimis in die middel van ’n vierrigtingstop of ’n afgetrede karperd in ’n agterplaas te sien nie.
En as jy bygelowig is, moet jy liefs nie ná donker rondloop nie. Blykbaar dwaal hier ’n afbeenspook op die dorp rond – dis nou volgens iemand wat ek in die Overdraught-kroeg in Voortrekkerweg raakgeloop het.
Wel, McGregor lê immers glo op ’n samekoms van magnetiese lyne in die aardkors, en as jy die kroegpraatjies hiéroor glo, kan jy seker ongewone dinge verwag...

Toe McGregor se dorpsvaders om en by 1869 die eerste strate aan die oewer van die Houtbaaisrivier begin uitmeet het, was daar glo die hoop dat die hoofstraat, wat vandag doodloop teen die voet van die Riviersonderendberg, mettertyd verleng sou word in ’n bergpas Greyton toe.
Eiendomspekulante het grond gekoop met die verwagting dat hulle dit weer later teen ’n wins sou kon verkoop wanneer ’n nuwe hoofpad deur die berg sny en uiteindelik tot in die Kaap verleng word.
Maar ná talle pogings om ’n pas deur die berge te bou is die pikke toe uiteindelik met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog finaal neergelê.
Die blink kant van dié munt is dat die verkenningstogte tussen die heuwels wel ’n gewilde voetslaanpad, die Boesmanskloofstaproete tussen McGregor en Greyton, tot gevolg gehad het.
Mettertyd het McGregor se rustige plattelandse bekoring ’n toevlugsoord geword vir vuisvoos stadsjapies wat op soek is na stiller strate en gemoedelike bure, maar ook vir mense wat net vir ’n naweek wil kom leeglê.
Hier woon en werk deesdae soveel kunstenaars dat die dorp glad ’n kunsroete het.
Teen sononder gaan swem ek in die leidam op ’n hoogtetjie langs die dorp.
Van bo af kyk ek uit oor die rye dakke en Robertson se berge doer in die agtergrond. Die lug ruik na renosterbos, en die kerkklok laat waai in sy statige ou toring. Dit voel regtig asof die tyd hier kom stilstaan het.
Ek volg die lyn van die hoofstraat die berge in. Hiervandaan is daar nêrens om heen te gaan nie – en dis glad nie ’n slegte ding nie.

Jac Kritzinger
zoomzoom

Dis ’n gesellige kuiertjie – jy kan lekker praatjies maak met die inwoners én sommer ook peuselgoed vir die langpad terug huis toe aanskaf.

As jy vir ’n paar dae op McGregor oorstaan, maak seker jy’s hier vir die plaasmark wat elke Saterdagoggend gehou word.
Buiten tuisgekookte seep, kerse, organiese groente en bobaas-tuisgebak, kan jy ook ’n paar lekker skinderstories hoor.
Die kans is goed dat jy van Hester van der Walt se brode sal hoor (en kan koop). Sy beskou broodbak as ’n kunsvorm en het al ’n boek geskryf daaroor (Hester se brood, Modjaji-boeke, 2009).
Sy staan elke Saterdagoggend om vieruur op om rog-, suurdeegen pampoenbrood en ciabattas in ’n outydse vuuroond te bak.
Jy gaan dalk ook wil terugkom vir meer van Tony Cassagrande se ingelegde uie (wees gewaarsku: hulle skóp!).
Maak egter seker jy’s vroeg daar, want die tafels loop gewoonlik vinnig leeg.

Waar? Op die hoek van Kerk- en Voortrekkerstraat.
Wanneer? Elke Saterdag om 9vm.
Kontak 023 625 1954 (toerismekantoor)

Maak toe
Jac Kritzinger
zoomzoom

Dis interessant om te sien hoe dié oond gestook word. En moenie vrees nie, Paul gebruik nooit hout wat van ’n lewende boom afgekap is nie.

McGregor se kunsroete lei jou na ’n stuk of tien plaaslike kunstenaars se galerye en ateljees.
By die meeste van hulle kan jy ietsie moois koop vir daai dooie kol teen die strandhuis se sitkamermuur, en by sommige kan jy die kunstenaar dophou terwyl hy of sy werk.
Die pottebakker Paul de Jongh se galery en ateljee is op dieselfde plek, en hy wys graag besoekers in sy werkplek rond.
Paul maak nog potte op die ou manier – sy potte word nie in ’n elektriese oond gebak nie, maar in ’n houtvuuroond.
“Vir my is ’n gevoel van eenwording met die omgewing alles in my kuns, en op McGregor kan ek dit uitleef,” sê Paul. Hy gebruik ’n houtoond, “sodat die omliggende natuur in my potte ingebak kan word”.
Hy het 16 jaar gelede uit Johannesburg na McGregor getrek, en maak enigiets van piepklein teelepelhouers tot bonkige terracotta-tuinpotte, waskomme, vase en versierstukke.

Waar? Millstone Pottery is in Breëstraat – daar is aanwysings uit die hoofstraat.
Wanneer? Daagliks 9vm.-5nm. Bel vooraf om uit te vind wanneer Paul die oond gaan stook.
Prys Die deurstap en rondkyk is gratis. Potte kos enigiets tussen R50 en R5000, afhangende van die grootte en styl.
Kontak 023 625 1599 (Paul of Nina); millstone@breede.co.za

Maak toe
Jac Kritzinger
zoomzoom

Vroeër is geglo olywe gedy net naby die see, maar McGregor lewer topgehalte olywe. Gaan proe Annalien van der Colff van Rhebokskraal se olyfsjokolade

McGregor is op die Breërivierwynroete, en buiten die vrug van die wingerdstok is die streek ook bekend vir sy olywe. Hier is drie plekke waar jy kan aanklop:

Die Lords-kelder is om en by 500m bo seespieël en gee jou ’n goeie uitsig oor die Breëriviervallei. Lords het eers in 2006 begin wynmaak, maar probeer gerus die nuwe een, Wicked Maiden (’n pinot noir rosé; R40 per bottel), of hulle sauvignon blanc, chardonnay of shiraz. (Hou uit die hoofstraat omtrent 10km reguit aan berg se kant toe met die grondpad.) Kontak 023 625 1780

By Tanagra, ’n piepklein boetiekkelder sowat 3km buite die dorp op die pad na Robertson, maak die wynmaker, Anette Rosenbach, Duitse grappa en ’n geurige suurlemoenbrandewyn. Die grappa begin by R160 vir ’n 500ml-bottel, en die suurlemoenbrandewyn (ook 500ml) kos R220 per bottel. Kontak 023 625 1847

By Rhebokskraal, sowat 3km buite die dorp op die Bonnievale- Stormsvlei-grondpad, kan jy proe hoe die sanger en kunstenaar Annalien van der Colff toor met olywe – van olyf-sjokolade en olyfblatjang tot olyfsout en olyfsap. Op ’n toer sien jy hoe die olyfboerdery inmekaar steek, en jy kan van die produkte proe. Kontak 082 896 0429; info@rhebokskraalolives.co.za

Wanneer? Al drie plase is Maandag tot Saterdag oop, maar maak vooraf ’n afspraak.
Prys Die wynproe en keldertoer by Lords en Tanagra is gratis. Rhebokskraal se olyftoer kos R195 (ete ingesluit) of R145 (sonder ete) vir volwassenes. Die toer is gratis vir kinders, maar jy moet vir hulle etes betaal.
Kontak www.robertsonwinevalley.com het inligting oor ander wynplase in die omgewing.

Maak toe
Jac Kritzinger
zoomzoom

Gaan sê hallo vir ou Hangore by die Eseltjiesrus-donkieskuiling, die eienaar, Annemarie van Zijl, meen besoekers voel beter ná ’n kuier hier.

’n Mens sien nog dikwels op die platteland donkies wat as treken pakdiere gebruik word, maar ongelukkig word nie almal van hulle mooi versorg nie.
Die mense by die Eseltjiesrusdonkieskuiling sorg vir sowat 20 bejaarde en mishandelde donkies wat van reg oor oor die Wes-Kaap hierheen gebring is, meestal deur die Dierebeskermingsvereniging.
Omdat die donkies so gek is na aandag, kan jy en die kinders saam met een van die skuiling se gidse by hulle in die kampe kuier en dié diere ’n vryfie oor die blaaie gee. Dis terapeuties – vir hangore met vier én twee bene.

Waar? 2km buite die dorp op die Robertsonpad.
Wanneer? Donderdae tot Sondae, 10vm.-5nm. Gidse is slegs oor naweke beskikbaar. Hier’s ook ’n restaurant en plaasstal, en al twee is elke dag oop.
Prys Gratis, maar skenkings is welkom. Kontak 023 625 1593 (Annemarie van Zijl); info@donkeysanctuary.co.za

Maak toe
Jac Kritzinger
zoomzoom

Die Kransnatuurreservaat se staproete is mak. jy stap tot op die damwal bo die dorp en het dan ’n mooi uitsig oor die dorp. vat gerus Nutella-broodjies saam.

Die beste manier om McGregor te verken is te voet, maar as jy nóg meer aktief wil wees, is daar ’n paar lekker staproetes in die omgewing – sommige kronkel net vir ’n paar uur deur die omliggende heuwels, maar jy kan oor die berg tot in Greyton voetslaan.

Koop die McGregor Walks-gidsboekie vir R20 by die toerismekantoor in Voortrekkerstraat. Die boekie lei jou op ’n paar roetes deur die strate en gee interessante brokkies oor die dorp se geboue en geskiedenis.

Die hoofstaproete in die Kransnatuurreservaat is die makste van die lot. Dit begin by die leidam bo die dorp en neem jou met ’n kronkelpad terug dorp toe.

In die Vrolijkheid-natuurreservaat net buite McGregor kan jy kies tussen die 3km lange Reierroete en die meer senior Rooikatroete van 19km. Hier’s nie water op pad nie, en ’n hoed is ’n moet.

Dan is daar die pappa, die befaamde Boesmanskloofroete, wat ’n hele ent buite die dorp begin en jou sowat 14km oor die berge tot op Greyton vat. Daar’s rotspoele en ’n waterval rondom die 7km-merk.

Prys Krans: gratis; Vrolijkheid: jy betaal ’n bewaringstarief van R25 (volwassenes) en R12,50 vir kinders; Boesmanskloof: R30 per dag (R15 vir kinders).
Kontak Bel McGregor se toerismekantoor vir beginpunte, tye en permitte. 023 625 1954

Maak toe
Jac Kritzinger
zoomzoom

By temenos maak dit nie saak tot watter kerk jy behoort nie; enigeen is hier welkom. Gaan sit iewers en raak net stil.

As daar te veel beton in jou stadsbestaan is, sit Temenos se tuine, in die middel van die dorp, op jou lysie. Tussen die mooi waterstroompies, hoë bome en lieflike grasperke het die tuin se eienaars ’n geestelike toevlugsoord geskep met beelde en ikone wat deur Westerse én Oosterse geloofstradisies geïnspireer is.
“Ons wou ’n spirituele ruimte skep wat alle godsdienste en tradisies insluit,” sê Temenos se stigter, Billy Kennedy, “en sodoende die enkele dieper beginsel agter alle dogmas eerbiedig.”
Hier is onder meer ’n Zentuin, ’n tuin wat die Spaanse heilige Teresa van Avila huldig, ’n labirint, plekke waar jy kan mediteer én ’n tempeltjie.
Jy hoef nie uitermate diepsinnig te wees om dié lushof te geniet nie – kom geniet net die stilte, of kyk na die vinke en eende by die dammetjie. Hier is ook ’n restaurant en oornagplek.

Waar? Daar’s twee ingange, al twee in Breëstraat.
Wanneer? Die tuine is dag en nag oop.
Prys Gratis Kontak 023 625 1871; www.temenos.org.za

Maak toe
Weet voor jy waai

Hoe kom ek daar?
McGregor is ongeveer 170km van Kaapstad af. Ry met die N1 tot op Worcester, neem die R60 na Robertson en volg van daar af die bordjies na McGregor.

Ons het hier gebly
Santosha Cottage. Dis lekker ruim, maar daar’s net een slaapkamer met ’n dubbelbed. Die huisie is in die bodorp, naby die leidam en die Kransreservaat.
Prys R250p.p.p.n. As jy 3 aande hier oorbly, betaal jy net vir 2.
Kontak 023 625 1465 (Anneke Kuin); annekekuin@gmail.com

Nog blyplekke
Selfsorgplekke vir gesinne is volop én bekostigbaar. probeer McGregor Country Cottages (023 625 1816) of Langewater Farm (023 625 1910). Daar’s ook lekker kampeerplek by Uitvlug (023 625 1245).

Nog inligting
Bel Maggie oostendorff by die toerismekantoor 023 625 1954; www.tourismmcgregor.co.za



Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Search Townofthemonthsarchive



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek